My stryd teen Naspers

Deel op

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

In Amerika gebruik hulle die term “culture war” vir die soort bittere woordestryd wat dikwels rondom omstrede kwessies soos ras, geslag en godsdiens  veral op Amerikaanse kampusse losbars. Die afgelope weke voel dit vir my asof daar ‘n kultuuroorlog in Afrikaans ontketen is.

Die huidige boikot teen die Naspersgroep maak deel uit van die kultuuroorlog wat tans woed. Of dis ‘n inligtingsoorlog wat gevoer word om die verstandelike beheer van die Afrikanerbevolking in hierdie land. Aan die een kant is daar diegene wat die status quo as goed en mooi ervaar, soos Naspers, die polities korrekte akademici wat gereeld ‘n heksejag in die naam van rassisme voer en daardie sakemanne wat met korrupsie vir lief neem en lustig aan oneerlike sakepraktyke deelneem. Aan die ander kant is daar ‘n kritiese of opposisiegroep wat nie meer met die sadistiese “nuwe Suid-Afrika” met sy wetteloosheid, geweld, korrupsie en wanbesteding van openbare fondse gediend is nie. Hulle bestaan uit ‘n losse groepering van skrywers, sangers, intellektuele, filosowe en gewone mense soos boere, onderwysers, asook werknemers by groot ondernemings of die staat waarteen daar op grond van hul ras en taal gediskrimineer word. Ook kleinsakemense wat toenemend deur SEB en die groot maatskappye doodgedruk word.

Iets van die oeroue links-regsverdeling is insgelyks besig om atawisties in Afrikaans terug te keer, dekades nadat die Berlynse muur ineengestort het. Die Afrikanerelite wat “saam skep” uit die korrupte stelsel, het hom opportunisties links geposisioneer. Hierteenoor bly die volk, of die gewone mense, merendeels konserwatief en is traag om die (neo-)marxistiese doktrines rondom ras, geslag en geloof te aanvaar. Dit skep die geweldige spanning wat ons tans ervaar, met oor en weer beskuldigings van “rassisme”, “haatspraak”, “verraad” en “fascisme” wat geslinger word.

Iemand op Facebook het gevra ek moet iets sê oor hoe ek by die huidige stryd teen Naspers betrokke geraak het. Ek wil sommer binnekort ‘n kort eboek oor Naspers skryf, maar ek sal dit hier probeer opsom.

Dit gaan ook daaroor om te verduidelik waarom ek uiteindelik ‘n paar jaar gelede tot die stap oorgegaan het om Naspers, spesifiek Die Burger, vir laster te dagvaar nadat die maatskappy jare lank gepoog het om my te etiketteer, te stigmatiseer en af te kraak.

Die verhouding tussen my en Naspers gaan ver terug. Toe ek omtrent 22 was, het ek vryskutresensies vir Rapport geskryf. Toe vat ek eendag vir André P. Brink aan oor hy myns insiens nie soveel weet as wat hy voorgee nie. Dit het gegaan oor die interpretasie van ‘n Franse denker waaroor ek besig was om ‘n M-verhandeling te skryf. Vandag sou ek opbouende kritiek van ‘n jong student waardeer. Brink was egter kleinserig en skryf ‘n giftige ding terug. Skielik is ek ook nie meer so gewild by Rapport nie.

André Brink was een van die groot linkse helde wat ons land in die buiteland sleggemaak het, dus kon ek seker nie sy halfgebakte idees bevraagteken nie.

Toe is ek oorsee en het my vir 7 jaar verdiep in Frans, so half vereuropees. Ook ontsettend baie geleer. Suid-Afrika – en Naspers – het intussen al hoe meer links geraak, maar ek was met ander dinge as politiek besig. So rondom 1998 rond, enkele jare ná my terugkeer, het ek weer briewe vir Beeld begin skryf en die adjunkredakteur het my een aand vertel dat ek “baie goeie argumente” het. Toe ek jonk was, was ek seker redelik bekend, danksy die publisiteit in Rapport, maar mense het gou van my vergeet toe ek oorsee was, asook toe ek in Johannesburg in die banke en finansiële markte bedrywig was. Geleidelik het my briewe en ander skrywes egter weer aandag begin trek.

Iiewers in 1998 het ZB du Toit, toe die politieke redakteur van Rapport, my in die Hyatt-hotel in Rosebank kom sien en ‘n onderhoud met my kom voer. Hy het my idees en agtergrond fassinerend gevind en ek het ook ‘n goeie resensie oor sy boek op die internet geskryf.

Agterna het ek hier en daar artikels vir Rapport aangebied. Eendag bel Tim du Plessis, toe redakteur van Rapport my en vra of ek vir hulle een keer per maand rubrieke wil skryf. Dit was seker so in 2001. In ‘n kafee in Melville het ek geredelik daartoe ingestem.

Soos wat dinge in die land versleg het, het ek al hoe meer krities begin raak, iets wat Anne-Marie Mischke nie aangestaan het nie. Sy het van die begin af nie van my gehou nie, want sy en Max du Preez het dieselfde soort linksliberale sienings gedeel. Ek vermoed sy het konstant by Tim gekla dat ek hoegenaamd “toegelaat word” om in Rapport te skryf.

Soos wat die geweld en moorde toegeneem het, het ek al hoe meer gefrustreerd begin voel dat niemand ‘n nasionale debat daaroor aan die gang sit nie. Ek het toe nog te veel soos ‘n Europeër gedink, wat geglo het in “debat” en “spraakvryheid”, Van Wyk Louw se “oop gesprek”, ens.

Toe daardie hele blanke gesin, waaronder die een jaar oue baba Kayla Rawstorne in Pretoria deur swartes uitgewis word, het ek gedink: Dis nóú die oomblik. Só kan dit nie langer aangaan nie. Dit het begin Augustus 2003 plaasgevind.

Terugskouend het ek in daardie oomblik dieselfde fout begaan as wat Enoch Powell met sy “Rivers of blood”-toespraak in 1968 begaan het. Jy het ‘n argument in beton en is bereid om dit te verdedig. Die publiek sal jou waarskynlik steun en sodoende kan jy die openbare mening verander.

Nog voor ek die stuk oor die Rawstorne-moorde geskryf het, het Max du Preez probeer om my op KykNET te vernietig deur my as reaksionêr voor te stel. Hy en Anne-Marie Mischke het dit waarskynlik saam beplan, want sy het so ewe vir my Max se Rapport-rubriek op ‘n Saterdagmiddag aangestuur en gesê: “Jy kan Max seker vir laster dagvaar, maar dis te laat om dit te keer, want die koerant is klaar besig om gedruk te word.” Daardie Sondag het die rubriek verskyn waarin Max ‘n krasse, beledigende aanval op my loods en daardie selfde Sondagaand is die gesprek tussen my en Max op KykNET opgeneem.

Nodeloos om te sê, het Max du Preez glad nie daarin geslaag om my te diskrediteer nie en ek het hom met ‘n paar slim Europese-styl-argumente koudgesit.

Daar was nog ‘n ander insident met Jan-Jan Joubert op Oudtshoorn wat aan my die Naspers-”taktiek” getoon het. Ek het aan een of ander gesprek by die KKNK oor Afrikaans deelgeneem waar ek aangehaal het uit ‘n artikel van ‘n liberale, Engelse taalkundige van die Kaapstadse Universiteit waarin sy gesê het dat die matriekslaagsyfer in Soweto in 1976 hoër was as in die vroeë 2000s.

Jan-Jan Joubert het dadelik ‘n artikel in Die Burger geskryf waarin hy gesê het dat my aanhaling “rassisties” was en “kwetsend vir bruinmense” wat glo “die saal verlaat het”. Niemand anders het enige “bruinmense” die saal sien verlaat nie, maar die feite het nog nooit in die pad van ‘n Naspersjoernalis gestaan nie.

Selfs in die laat negentigerjare het iemand geskryf dat ek ‘n “Hitler” was omdat ek gesê het Afrikaans behoort gelykwaardig met ander tale in Suid-Afrika behandel te word.

Op daardie vroeë stadium moes ek seker besef het dat Naspers net een pyl in hul koker het en dit is om iemand ‘n “rassis” te noem. As jy op taalregte aandring, is jy ‘n “rassis”. As jy sê: “Jong swart en bruin mans pleeg te veel geweld in dié land (wat ‘n bewese feit is), is jy ‘n “rassis”. Op ‘n sekere manier, het ek egter gedink hierdie mense kan nie heeltemal ernstig wees nie, want die wêreld is tog meer kompleks as dít. Maar, soos gesê: ek was te lank in Parys, het te veel lesings met wêreldberoemde filosowe en skrywers bygewoon om te dink dat sogenaamde “joernaliste” heeltemal só eenvoudig kan wees.

Ek herinner my ‘n ander voorval, ietwat later, toe ‘n Beeld-joernalis, ene Mandy Rossouw, my een aand op my selfoon bel nadat ek namens PRAAG ‘n mediaverklaring uitgestuur het. Sy sê toe vir my: “Ek sien jy noem jouself ‘n ‘Afrikaner’. Dan is jy mos ‘n rassis, nie waar nie?”

Ek kon my ore nie glo nie. Was al ons groot skrywers en denkers, staatsmanne, argitekte, kunstenaars en wat nog dan almal “rassiste” omdat hulle na hulself as Afrikaners verwys het? Ewenwel, Mandy Rossouw was een van daardie “bruines van die Kaap” waarvoor Naspers so lief is en wat ‘n soort aangebore wrewel teen Afrikaners koester.

Sy het later vir die Mail & Guardian gaan werk en bevooroordeelde, ekstreem-linkse artikels teen Afrikaners en blankes in die algemeen geskryf. Nie te lank gelede nie is sy egter skielik oorlede ná sy siek geword het. Naspers het terstond ‘n hele prys in haar naam ingestel, seker vir haar groot bydrae om alle Afrikaners oor een kam as “rassiste” te skeer. Tim du Plessis, tans adjunkhoof van Media24, het een oggend op RSG verduidelik watter wonderlike en talentvolle joernalis Mandy Rossouw was. Ek skat vele van die kelners in Paryse kafees waarmee ek al gesels het, het meer van die wêreld as Mandy Rossouw verstaan, dog kennis of insig is ook nie ‘n voorvereiste by Naspers nie.

Maar terug na Augustus 2003. Ek het ‘n brander van ‘n stuk vir Rapport oor die Rawstorne-moorde geskryf waarin ek na geweld, ras en selfs IK verwys, met die idee dat dit omstrede moes wees en die hele ding tot ‘n nasionale debat moes verhef. Onlangs het ek dit ook aan ‘n baie bekende Britse joernalis vertel wat my hier kom opsoek het. Hy kon ook nie glo dat Rapport my dienste as rubriekskrywer summier beëindig het sonder dat daardie artikel eens verskyn het nie! Dis nie eens sensuur nie, dis vooraf sensuur. Indien daar beswaar was teen sekere van my uitlatings, kon dit tog hersien gewees het? Anders as Naspers, was ek nog nooit dogmaties in my sienings nie en kan rede insien as iemand my ‘n betere argument wys.

Anne-Marie Mischke het egter haar kans waargeneem en het allerlei eposse vir Tim du Plessis geskryf waarin sy hom waarsku teen my “verregse rassisme”. Om ‘n baba en haar hele gesin uit te wis, is niks. Jy moet net nie spekuleer oor die motiewe en die gedrag van die moordenaars nie, dan is jy ‘n “rassis”. En soos almal weet, is dit erger om ‘n rassis te wees as om moord te pleeg.

Max du Preez het iewers in dié tyd verklaar dat ek “sosiale selfmoord” gepleeg het deur na die ras van die moordenaars te verwys en dat ek as’t ware Siberië toe gestuur sou word.

Toe ek aanvanklik in die middel-negentigerjare oor Afrikaanse taalregte begin skryf het, het iemand my destyds gewaarsku: “Enigiemand wat vir Afrikaans of die Afrikaner probeer opstaan, is nog altyd gediskrediteer en met die banvloek getref. As hulle nie vemoor word nie. Dit mag jou nog berou.” Die persoon was my redelik simpatiek gesind en het ‘n lang lys name aan my voorgehou: Verwoerd, Albert Hertzog, Jaap Marais, die taalstryder Hennie Terreblanche, die skrywer Jan Rabie en vele ander wat ek nie eens meer onthou nie. Die geskiedenis was aan die kant van die Afrikanerhaters, die hensoppers, die Bram Fischers, die Mandy Rossouws, die Max du Preez’s, die Koos Bekkers.

Kort ná Rapport my rubriek beëindig het, het ons gereeld artikels op die PRAAG-webwerf begin plaas en mettertyd het dit die alternatiewe medium geword wat dit vandag is. Die vreemdste ding is dat die liberale of selfs linkse Engelse koerante nog altyd bereid was om my briewe en artikels te plaas, maar nie Naspers nie. Op ‘n sekere vlak is die Engelse koerante iewers nog “klassiek liberaal” en erken dat dat daar meer as een waarheid aan ‘n saak kleef, maar Naspers is net dogmaties links en onvedraagsaam. Durf ek sê: totalitêr?

Naspers frustreer my, vanweë die monopolie wat hulle oor alle Afrikaanse media beskik: die koerante, die tydskrifte, KykNET, selfs die kunstefeeste wat meesal deur hulle mense beheer word.

Naspers is die naaste ding aan die Sowjetunie wat daar nog in ons land bestaan het. Want hulle beheer alles wat Afrikaners dink en mag sê. As jy as skrywer in die ou Sowjetunie “in onguns verval het”, soos Boelgakof of Solsjinitsin, om van émigré-Russe soos Nabokof nie eens te praat nie, dan kon jy nie meer publiseer nie. Jy word nie meer gehoor nie. Jy verkeer so te sê onder huisarres.

En intussen woed die geweld voort. Afrikanerlyke – ook kinderlykies soos dié van Willemientjie Potgieter, Danielle Esterhuizen en Alyssa Botha – word by die dag opgestapel. Die hoop word al hoe hoër. Die wit kruise teen die hang op pad Pietersburg toe raak al hoe meer. Maar niemand mag daaroor praat nie.

Daarvoor sal Naspers sorg, want Koos Bekker se aandeelprys is al wat tel. Hy het oor die afgelope vyf jaar sewe miljard rand verdien, dus so R1,4 miljard per jaar, ‘n Suid-Afrikaanse rekord.

Indien Naspers met sy Sowjet-mentaliteit en Afrikaanse monopolie my frustreer, geld die omgekeerde seker ook. Afgesien van die een pyl in die Nasperskoker om iemand ‘n “rassis” te noem, het hulle nog twee ander wapens ook. Een is: jy kan nie spel nie. Die ander een is: jy dra “grys skoene”. Op een of ander manier het Naspersjoernaliste dit al male sonder tal vir my gesê of oor my geskryf. Ek weet nie wat dit is nie, maar ek vermoed dat daar onder al die Naspers-Afrikanerhaat nog een of ander minderwaardigheidsgevoel teenoor Kaapse Engelse ook skuil. Dit oortuig hulle om ons Afrikaners met ‘n soort wêreldvreemde snobisme te bejeën. Mense maak grappies oor die gebrek aan sofistikasie op Brakpan en Boksburg, maar ek sal nie daardie twee dorpe beledig deur Koos Bekker en sy Sowjet-mediaryk met hulle te vergelyk nie. Dis meer soos iemand wat gister nog vaaljapie op die Kaapse Vlakte gesuip en saam met die “Americans” ‘n paar mense gelem het en hom nou verbeel hy is op die uitnodigingslys vir ‘n tuinparty van die Britse koningin. Of so iets. Ek dra ‘n geskeurde broek wat op my boude hang en dreig jou met my fietsketting, maar ek het iets oor jou skoene te sê. Dis die Naspersstyl. Parvenu is nie die woord nie.

Feit is egter: ek gebruik nie ‘n speltoetser nie. En die soort stereotipe van die “dom, regse Afrikaner” waarmee Naspers so graag in hul koerante smous, pas ook my ook allermins. Hoe later hoe kwater, en soos wat plaasmoorde, kinderverkragtings, martelings en korrupte regering in ons land toegeneem het, het sekere Naspersjoernaliste, veral by Die Burger, kennelik gevoel dat my stem van kritiek stilgemaak moes word.

In een week gedurende Junie 2009 het Die Burger my drie keer ‘n “rassis” genoem. In ‘n latere bevinding van die Persombudsman, het die adjunkombudsman gemeen dat Naspers, ook in ander berigte, my met hul konstante propaganda “kumulatiewe skade” berokken. Trouens, my gesin het al daaronder gely en ek is reeds by plekke in Pretoria uitgejaag omdat beskaafde lesers van Beeld blykbaar nie in my geselskap gesien wil wees nie.

Natuurlik is ek nie die enigste slagoffer van Naspers se moddergooiery nie. Sowel Steve Meyer as Sunette Bridges – te veel mense om op te noem – is al liederlik in Nasperspublikasies beswadder.

Naspers volg die resep slaafs na: Enigiemand wat vir die Afrikaner – ook die lewens van ons boere, ons kinders, ons vroue – in die bres tree, sál meedoënloos gejag word. Immers is die ou regering met sy hele staatsbegroting, sy ambassades, sy weermag en geheimediens deur propaganda, leuens en halwe waarhede oorwin. Hoe kan ons as individue teen die magtige Naspers, die vyfde grootste maatskappy op die Johannesburgse Aandelebeurs, staande bly?

Naspers boesem ‘n heilige vrees by elke Afrikaanse sakeman, kunstenaar, skrywer, politikus, aktivis, akademikus, vakbondleier, predikant of watter ander professie ook al, in. In vele opsigte steur Naspers hom eenvoudig nie aan die reg nie, want om jou tot die howe met lastersake te wend is ‘n duur spel van Russiese roulette. Die Persombudsman is weer ‘n tandelose liggaam wat jou eer in ‘n mate kan herstel, maar eers weke of maande nadat die skade reeds gedaan is.

In my mees onlangse klag teen Naspers by die Ombudsman, het Sondag elke moontlike verskoning probeer om nie aan my verskoning te vra nie. Aan die einde het hulle gedreig dat hulle my “kaal gaan uittrek en in die hof tot leuenaar gaan maak”. Sondag het beplan om selfs, waarskynlik vir die eerste keer in die geskiedenis, die Persombudsman te dagvaar omdat hy in my guns bevind het!

As ‘n reël probeer ek litigasie vermy. In die lastersaak teen Die Burger het ‘n Pretoriase prokureur egter gemeen dat ek ‘n “waterdigte saak” het en dat ek nie kon toelaat dat Naspers langer met my mors nie. Nadat Leopold Scholtz ‘n absurdie liegstorie in die hof vertel het dat ek op ‘n vliegtuig bang was omdat die vlieënier swart was, het die regter in my onguns bevind met ‘n gepaardgaande kostebevel teen my. ‘n Jaar lank het ek niks van Die Burger of hul prokureurs gehoor nie, nou dreig hulle om my huis te kom leeg maak om hul koste verhaal.

Trouens, per telefoon het Naspers se prokureur van Werksmans in die Kaap my vertel dat hulle my huis onder my gaan uitverkoop sodat ek en my kinders wat tans vir hul matriekeindeksamen voorberei, op straat moet gaan sit.

Kennelik gaan Naspers nie rus voordat hulle my finaal gebreek het en stilgemaak het nie.

Ek wat dit durf waag het om oor die onreg van die grusame moord op daardie eenjarige babatjie van Pretoria, Kayla Rawstorne, indringende vrae te stel…

Beeld self het op 9 Augustus 2003 oor die moord en verkragting op die Rawstorne-gesin soos volg berig:

“Kayla is op haar eerste verjaardag vermoedelik eers in die kop en daarna in die maag geskiet.

‘Haar lyk het soos ‘n bebloede porseleinpop tussen die wintergras gelê,’ het ‘n speurder aan ‘n kollega, gesê.

“Drennen is glo herhaaldelik verkrag en verskeie kere geskiet.

“Hul verminkte lyke is in ‘n verlate veld in Stinkwater buite Hammanskraal gelos.

“Kayla is gister in haar ma se arms begrawe. Mev. Linda Jordaan, Kayla se ouma, het snikkend een van haar kleindogter se teddiebere langs ‘n helderbont krans op die kis neergelê.

“‘Ons is stomgeslaan en verstaan nie, maar ons aanvaar U wil, Vader, met Janine en Kayla se ontydige wegraping,’ lui die begrafnisbrief.

“Mnr. Clifford Rawstorne (34), Kayla se pa en Drennen se verloofde, het ontroosbaar gehuil.

“Rawstorne het rou gesnik toe dr. Anton Fick in die PretoriaOos-begraafplaas vir Kayla gebid het.”

My vermoede oor ‘n rassemotief, wat Rapport as “rassisties” beskou het, was heeltemal korrek aangesien die moordenaar, William Kekana, in die hof die volgende bekentenis gemaak het: “Ek het hulle doodgemaak omdat hulle wit was.”

The Star het dié woorde in Engels op hul voorblad gepubliseer. Naspers het dit egter verswyg.

Seker uit vrees dat hulle my dalk gelyk kon gee.

In Sowjet-Rusland is die waarheid oor moorde en vervolgings ook jare lank verdoesel en die verkeerde mense die skuld daarvoor gegee.

Kennelik soek Naspers ‘n sondebok vir die gruwelike bestel wat hulle help skep het. Is dit waarom dié skatryk en magtige multinasionale maatskappy my knaend beswadder, stigmatiseer en vervolg?

Soos George Orwell, die skrywer van 1984 en Animal Farm, egter gesê het: “Om in ‘n tyd van universele leuens die waarheid te praat, is ‘n revolusionêre daad.”

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.