Kastrate in die Nuwe Suid-Afrika-koor

Deel op
Farinelli, 'n beroemde kastraat uit die agtiende eeu (Skildery deur Carlo Broschi)
Farinelli, ‘n beroemde kastraat uit die agtiende eeu (Skildery deur Carlo Broschi)

deur Leon Lemmer

Kastrate het tot die einde van die 19de eeu dikwels in kore en as soliste opgetree. Hulle het hulle voorpubertydse stemtoon behou en kon note sing wat nie vir vroue moontlik is nie. Danksy oefening kon kastrate groot longkrag ontwikkel en dus lank en hard sing. Omdat hulle nie testosteroon in hulle bloed gehad het nie, was hulle beenstruktuur nie sterk nie. Hulle kon en wou nie veg nie. Pleks van hulle te verset, was hulle hoogs aanpasbaar. Hierdie buigsaamheid het meer as net hulle stemme gegeld.

Die motivering vir kastrasie was dikwels om ‘n gewaande groter saak as eie belang te dien. Dit kom neer op eie verslawing, onderwerping en bestraffing. Ná kastrasie was dit steeds moontlik om met oorgawe in ‘n koor te sing en daarvoor komplimente te ontvang, maar dit was nie moontlik om ‘n nageslag te verwek en bv leiers op te lewer nie. Tog was daar kastrate wat ná so ‘n katastrofe steeds gedink het dat hulle hulle goed van hulle taak gekwyt het; dat mense aan hulle dank verskuldig is en eerder die onomkeerbare moet aanvaar.

Kastrasie ontneem ‘n man van sy seksuele vermoëns. Sodanige aksie klink na ‘n dwase stap. Dit is egter moontlik om ook in ‘n ander sin gekastreer te word, bv om willens en wetens jou politieke mag te verloor en dan weens ‘n gebrek aan politieke testosteroon net lof vir hierdie steriliteit te hê en selfs sover te gaan om met die vyand te heul. Sodanige kastrasie geld dan nie net mans nie en kan dus ook by vroue aangetref word.

Kastrasie kan dus letterlik of figuurlik vertolk word. Politieke kastrate is diegene wat aktief meegewerk het om die blankes en veral Afrikaners van hulle politieke mag te ontneem en/of juig omdat dit deesdae die geval is. Politieke ontmanning is vir hierdie kastrate heeltemal aanvaarbaar. Sodanige toestand word nie deur hulle afgekeur nie omdat gemeen word dat die land nou in beter hande is. Hierdie kastrate probeer om mense met propaganda sag te maak en om die deugde van politieke steriliteit te besing.

In die pers was daar onlangs ‘n klassieke voorbeeld van figuurlike kastrasie. Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) was sedert sy ontstaan ‘n oorwegend Afrikaanse inrigting. Onder die leiding van Jakes Gerwel as rektor en Jaap Durand as viserektor is die UWK tot ‘n eentalige Engelse universiteit getransformeer.

Die huidige rektor, Brian O’Connell, het hom soos volg hieroor uitgelaat: “Daar kan mense wees wat sê dit is onregverdig teenoor Afrikaanssprekendes, maar daardie was ‘n groothartige gebaar soos min. ‘n Opoffering deur Afrikaanssprekende studente … Hulle het gesê aangesien ons broers en susters nie toegang het tot hierdie taal nie, gaan ons hulle help deur onderrig in Engels te ontvang. Dit was amper asof studente Afrikaans opgeoffer het ter wille van goeie lesings, want wanneer jy lesings in twee tale aanbied, neem dit jou twee keer so lank” (Die Burger, 28.06.2013, p 15).

‘n Beter manier van doen vir sowel die UWK as tradisioneel Afrikaanse universiteite sou wees om, soos in die res van die wêreld, van studente te verwag om die onderrigtaal van die universiteit aan te leer as hulle verkies om juis daar te studeer. O’Connell se redenasie dui op ‘n tipiese kastraatmentaliteit.

In die politiek van die nuwe Suid-Afrika is daar baie blanke Afrikaanse mans, insluitende Broeders van weleer, wat die kastrate se hoë C’s (of is dit A’s vir Afrika?) sing. FW de Klerk se refrein is dat hy ‘n onbewysbare groter ramp as die huidige ANC-bewind voorkom het. Pik Botha het in 1994 die deuntjie gesing dat die Nasionale Party (NP) die verkiesing met miljoene stemme sou wen. Willie Esterhuyse het luid vir die ANC gesing, maar sedert sy groot vriend Thabo Mbeki die trekpas gekry het, het sy stem nogal stil geword. Marthinus van Schalkwyk is seker die hoogs betaalde koorknaap in die wêreld omdat hy passievol daaroor was dat die NP deur die ANC verswelg moet word.

In die kastratekoor is daar talle ander wat met oorgawe die lof van die nuwe Suid-Afrika besing: Roelf Meyer, Leon Wessels, Dawie de Villiers, Sampie Terreblanche, Jaap Durand, Frits Gaum, Max du Preez, JP Landman, Pierre de Vos, Wannie Carstens, ens. Sedert Anton van Niekerk se politieke testosteroon onder sy lessenaar vergruis is, sing hy ekstra hard in hierdie koor. Vergoeding bly nie agterweë nie. Vandeesweek is berig dat ‘n minister hom in ‘n etiekkomitee aangestel het (Die Burger, 30 deser, p 5). As ‘n mens se ego dors is, word publisiteit om die geringste rede gesoek.

Piet Crowcamp is die baba in hierdie groep lofsangers. Hy word maklik uitgeken omdat hy weens onbeholpenheid sy doek verkeerd aan het. Oor wat hy ‘n egte akademikus ter wille van politieke gewin aangedoen het, het hy blykbaar geen gewete nie. Dit is verblydend dat haar kollegas in die departement aanvanklik Crowcamp se opdringerige inmenging teengestaan het. Die tragedie is egter dat (sover bekend) geen akademikus vir haar daadwerklik in die bres getree het nie. Dit is gewoon ‘n skande dat die universiteit dadelik en sonder meer haar bedanking aanvaar het. Hiervoor kan daar geen akademiese regverdiging wees nie. Die motivering is suiwer op politiek gegrondves. Wat hiermee tuisgebring word, is dat al die plaaslike universiteite en hulle akademici in die ban van die ANC en sy kommunistiese minister van hoër onderwys verkeer.

Behalwe diegene wat voluit in die Nuwe Suid-Afrika-koor sing, is daar darem ook diegene wat die haglike verval om hulle raaksien en deesdae ‘n bietjie sagter sing: Tim du Plessis, Theuns Eloff, André Brink, Breyten Breytenbach, ens.

Kastrasie kan onnatuurlik beslag kry of dit kan aangebore wees. Voorbeelde van gebore kastrate wat lustig die loflied “Nelson Mandela is die volmaakte ikoon” sing, is Helen Zille, Patricia de Lille, Ruda Landman en Antjie Krog.

Weens fundamentalisme, fanatisme, dogmatisme, opportunisme, ens, is die kern van die genoemde kastratekoor goed gevestig. Nogtans word verdere nominasies van verdienstelike kandidate ingewag.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.