Tafelberg onder sneeu

Deel op
Kabelkarstasie
Kabelkarstasie

Sneeu het uitgesak oor Tafelberg in Kaapstad, ‘n rare gesig.

Die weerkantoor sê ligte sneeu lê op die pieke van die berg, wat een van die wêreld se nuwe sewe wonders is.

Dit het ook gesneeu in Ceres en die Simonsberg-omgewing naby Stellenbosch. Berigte is ook ontvang van sneeu in die Du Toitskloofpas tussen die Paarl en Worcester.

Die Kaapse Skiereiland het die afgelope paar dae deurgeloop onder swaar reën en stormsterk wind wat duisende mense aan die elemente blootgestel het.

‘n Weervoorspeller, Jan Crous, sê die weerstoestande behoort teen môre te verbeter. Intussen het die gure weer nog ‘n slagoffer geëis.

‘n Derde hawelose persoon wat Woensdag gevind is het in die hospitaal beswyk. Vroeër het ‘n hawelose man in Kuilsrivier verkluim nadat hy onder nat kartondose probeer skuil het, terwyl nog ‘n persoon in die hospitaal opgeneem is.

Woensdag is die liggaam van ‘n man in ‘n grot agter die Chapman’s Peak-hotel gevind. Die grot het ineengestort. Drie mans wat saam met hom in die grot was kon betyds uitkom.

Treindienste van Kaapstad na Stellenbosch en die Strand word ook steeds ontwrig. Plaasdamme naby Lyndoch en Melton Rose het hulle walle oorstroom en berigte is ontvang van spoorlyne wat onder water is.

Metrorail sê ingenieurs werk aan die probleem, maar dat dit ‘n paar dae kan neem om te herstel. Pendelaars is versoek om van alternatiewe vervoer gebruik te maak.

In die Oos-Kaap wat ook in ‘n ysige greep is, het goeie reën oor groot dele van die provinsie uitgesak.

Meer as 15 millimeter is gemeet in Port Elizabeth, Humansdorp, die Koegadam, Uitenhage en Patensie. Ander plekke soos Grahamsad, Joubertina en Oos-Londen het ook goeie reënval aangemeld.

Die weerkantoor in Port Elizabeth sê die weer sal môre begin opklaar, met ‘n stormsterkwind wat voorspel word. Geen uiterste temperature word egter verwag nie. – RSG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.