Britse parlement stem teen Siriese aanval

Deel op
Premier Cameron
Premier Cameron

Die Britse stem teen ‘n militêre aanval in Sirië is ‘n taai klap vir premier David Cameron se binnelandse politieke lotgevalle.

Sedert hy die amp in 2010 opgeneem het, is hy by verskeie geleenthede ondermyn nie net deur  opposisiepartye nie, maar ook deur elemente in beide sy eie Konserwatiewe Party en die liberales, die junior lid van die Verenigde Koninkryk se regerende koalisie .

Dit was die kombinasie wat Cameron laat Donderdag gepootjie het. Die regering het verloor, met 285 teen 272, om in beginsel militêre ingryping in Sirië goed te keur. Lede van al die groot partye – insluitende sy eie Tories – was gekant teen die maatreël.

Cameron het gesê dit is duidelik dat die Britse Parlement nie wil sien dat die Verenigde Koninkryk betrokke raak in militêre aksie nie en “die regering sal dienooreenkomstig optree”.

Die uitslag is ‘n belangrike oomblik in die Britse politiek. Dit is hoogs ongewoon vir ‘n eerste minister om bes te gee oor sy buitelandse beleid en stel die vraag oor die Verenigde Koninkryk se rol op die internasionale toneel vorentoe .

Dit is ook ‘n terugslag vir Anglo-Amerikaanse verhoudinge wat vrae oor die sogenaamde “spesiale verhouding” tussen die twee lande laat ontstaan. In onlangse dekades het die Verenigde Koninkryk selde indien ooit verskil van die VSA oor so ‘n belangrike strategiese kwessie.

Terwyl die regering nie parlementêre goedkeuring vereis om militêre aksie te neem nie, sal dit nou polities moeilik wees om dit te doen. ‘n Woordvoerder van die premier het bevestig dat die Verenigde Koninkryk nou nie sal deelneem aan die Siriese aksie nie.

Die uitkoms van die Verenigde Koninkryk se houding kan dit moeiliker maak vir president Barack Obama en ander oorlogsvoos Westerse bondgenote om hul eie publiek van die behoefte aan ingryping in Sirië te oortuig.

Die Britse verdedigingsekretaris, Philip Hammond, het gesê Amerika “sal teleurgesteld wees dat Brittanje nie betrokke sal wees nie.”

Die terugslag laat ook vrae oor Cameron se gesag.

Amerikaanse amptenare het gesê dat Obama bereid is om op te tree in die komende dae sonder Brittanje. Hulle het bygevoeg dat in teenstelling met die VSA se betrokkenheid in militêre operasies in Libië in 2011, die opsies wat oorweeg word in Sirië  op ‘n kleiner skaal sal wees en nie ‘n koalisie vereis om doeltreffend te wees nie.

Brittanje se ommekeer laat Frankryk as die laaste Europese land nog steeds lugaanvalle op die Assad-regime oorweeg. Franse amptenare het gesê dat die land militêre planne vir moontlike optrede in Sirië voorberei het, maar Donderdag herhaal dat geen finale besluit nog geneem is nie .

Die Franse regering kan sonder Parlementêre goedkeuring besluit om aan te val.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.