Die Kamer van Mynwese sê dit is die eerste keer dat daar ‘n situasie bestaan waar vakbonde nie bereid is om hulle eise vir ‘n salarisverhoging te wysig nie.
Geen ooreenkoms oor werkgewers in die goudmynbedryf se finale aanbod kon tot dusver bereik word nie. Werkgewers het dit onomwonde gestel dat hulle nié enige salarisverhogings hoër as 6,5 persent gaan aanbied nie.
Hulle plaas die blaam vir die huidige stand van sake op die tweespalt tussen vakbonde.
Werkgewers sê ook dat hulle nie afsonderlike ooreenkomste met individuele vakbonde gaan beklink nie.
Goudmynwerkers dreig om aanstaande week, selfs so vroeg as Sondag, met ‘n beskermde staking te begin.
Donderdag het goudaandele op die JSE skerp gedaal en ekonome het gewaarsku dat dit die bedryf ernstig kan skaad.
Intussen duur stakings in die voertuigvervaardigings- en konstruksiebedryf steeds voort en petroljoggies en paneelkloppers dreig ook om Maandag te begin staak. – RSG