Die vier maande oue baba wat vroeër vandeesmaand in Ceres verkrag is, is steeds in die Rooikruis-kinderhospitaal en dokters weet nie wanneer sy ontslaan sal word nie.
Die baba en ‘n sewejarige seun is uit ‘n huis ontvoer en verkrag. Sedertdien is ‘n 25-jarige plaaswerker in hegtenis geneem en hy het verlede week vir die tweede keer in die Ceres-landdroshof verskyn, berig Eyewitness News.
Die baba het sedert die aanval vyf operasies ondergaan.
“Sy vorder goed en is in ‘n bestendige toestand. Die dokters bespreek nog wanneer sy ontslaan sal word en ‘n datum is nog nie bevestig nie,” het Lauren O’Connor-May, die hospitaal se woordvoerder, gesê.