Die R3,90-plan – en hoekom dit miljoene gekos het, deel II

Deel op

ImageLees ook Deel  I: En vir ons president: 'n bottel met 'n blou etiket, 'n pyp en 'n Harvardman

Deel II

AsgiSA! Gesondheid..!

Dit klink soos 'n nies en miskien is dit nie so onvanpas nie.

AsgiSA! Gesondheid. Kan ek vir jou 'n snesie aangee?

AsgiSA! Ha… iemand het 'n kopverkoue.

Deel op

En dit is 'n groot kopverkoue, 'n nasionale een, simptomaties van 'n regering met 'n rem in die keel en 'n brand in die bors.

Hoe om dit te beskryf?

Hierdie verkoue is meer soos 'n babelas wat gely word deur 'n revolusionêre beweging nie lank nadat hulle die land onverwags oorgeneem het nie. Na die oorwinningspartytjie – wat net lank genoeg gehou het om hulleself te oortuig dat, ja, hulle wraggies so 'n span genieë is en dat, natuurlik, daar niks is wat hulle nie kan doen nie – kom die ongemaklike werklikheid in die kille daglig. Om 'n land se regering te ontvang uit die hand van 'n paar papbroekige, selfbehepte morone is aansienlik makliker as om daardie selfde gesofistikeerde land te bestuur. Selfs al is jy die demi-goddelike ANC.

Die Nuwe Suid-Afrika se vooruitgang was iets wat die ANC leierskorps as 'n gegewe aanvaar het. Hulle was geregtig daarop dat die land sou floreer want, genugtig, Nelson Mandela hét mos sewe-en-twintig jaar in die tronk deurgeslyt. Selfs Elysium en al die materiële gode daarin en elke ekonomiese wet en markgedikteerde sisteem sou outomaties voor die ANC se wil buig. Die ANC se ekonomie sou werk want dié ekonomie was die ANC s'n. Sela!

Ekonomiese groei, inflasie, produktiwiteit… dit was nie iets om aan te werk nie. Al wat moes gebeur was om teikens te kies.

Inflasie? Onder drie persent klink indrukwekkend.

Produktiwiteit? Dis die nuwe werkersparadys so almal sal 'n werk hê en nie net 'n werk nie – elkeen sal die baas wees.

Groeikoers? Ses persent, ses persent, ek het ses persent. Klink ses persent reg? Goed. Akkoord! En die hele nasionale ekonomie en daarby die wêreldmarkte en elke ekonomiese reël sal daarby inval. Want, hierdie is, na alles, Madibaland. Daar sál 'n ekonomiese wonderwerk wees.

Of nie.

Want tot hulle grootoogverbasing groei die ekonomie met 'n druipstert een-en-half persent per jaar na die Groot Bevryding. Produktiwiteit neem ook glad nie toe soos daar van verlang is nie. Om die waarheid te sê, dit neem áf. En die skare werkloses krimp toe glad nie; dit sit inteendeel uit.

Die ANC se kinders is nie tevrede nie. Waar is die huis met die luukse motors in die dubbelgarage wat elkeen sou kry?

Daar word toe aan die wêreld onthul daardie baie eiesoortige Nuwe Suid-Afrika verskynsel: Die Plan.

Te veel misdaad? Ontspan. Ons het 'n plan.

Sukkel die kinders op skool? Julle sal bly wees om te weet ons het 'n plan.

Te veel stukkende en gevaarlike taxis op ons paaie? Toemaar. Ons bespreek 'n plan.

Te min kos? Daar’s plan.

Dikwels is daar nog nie 'n plan nie maar Vader ANC stel gerus en sê die kaders het 'n plan om 'n plan te bespreek om 'n plan saam te stel.

Nou, na veertien jaar van ANC-heerskappy, begin die nare werklikheid – eers net 'n ongemaklike suspisie – deursyfer na die breër bevolking. Dit is wat die ANC-regering as hulle eintlike funksie beskou: Om planne te maak. Dis al. Nie om die planne daadwerklik uit te voer nie. Nee. Hulle beraam planne en dis al.

Dit is veral op ekonomiese gebied waar die planne vervuil het, elkeen met 'n letterwoord of 'n afkorting wat met sorg uitgewerk is. Dit lyk regtig of daar meer kopkrap en fyndink in die benaming ingegaan het as in die eintlike ontwerp van die plan.

Jy het jou HOP en jou GEAR en jou JIPSA en jou NEPAD en jou Afrika Renaissance… 

… en nou AsgiSA ook.

Die nieswoord het by ons aangesluit tien jaar na die ANC geskok is deur hulle oorname van die regering van Suid-Afrika. Om en by daardie tyd het mense saggies begin kug en beleefd gevra wat van die beloofde ses-persent ekonomiese groei geword het waarmee die ANC voor die tyd so gespog het. Want in “die eerste dekade van vryheid,” soos die ANC dit stel, het die hoofdelike Bruto Nasionale Produk met 'n onverbysterende 1,1 persent per jaar gegroei.

Ses persent? Vergeet nou eers van die ses persent, beduie die ANC in 2004. Kyk na die Groter Prent. Die fokus moet nie soseer op koelbloedige ekonomiese groei as op die stryd teen armoede wees nie. Die ANC, nog nooit 'n skugter lotjie nie, ontwerp toe 'n paar teikens. Armoedevlakke, sien, gaan teen 2014, gekrimp het totdat dit minder as 'n  sesde van die huishoudings in die land raak. En daardie selfde jaar gaan werkloosheid in Suid-Afrika gekrimp het tot minder as vyftien persent.

Wonderlik! Halleluja! Viva ANC, viva! Viva Madiba, viva! Viva Tito Mboweni en viva Trevor Manuel en viva sommer Thabo Mbeki ook en vi…

Grafieke en spreiblaaie en sakrekenaars en formules en… a-hmm-ûg… ‘skuus tog, maar om dié teikens te haal gaan 'n sekere groei in die ekonomie verg.

Ja? Werklik? Soos hoe groot 'n koers?

Soos, hmm, ses persent?

En daar’s daai peslike ses persent al weer.

Nou ja, wat’s die probleem dan? As ons die ekonomie teen ses persent moet groei, laat ons dit dan doen. Ons is die ANC.

Dis net, die laaste keer wat die Suid-Afrikaanse ekonomie teen ses persent gegroei het, was onder Hendrik Verwoerd…

Kinders, kinders, kinders! Ons is die ANC. As ons die ekonomie teen ses persent moet groei, dan is dit presies wat ons gaan doen. Waar is julle vertroue? Ontspan. Ons het…

Ja. Ons weet. Die ANC het 'n plan.

Dis reg.

Die Versnelde en Gedeelde Groei Inisiatief van Suid-Afrika, gerieflik – en baie vernuftig, al moet hulleself so sê – afgekort na die Engelse letterwoord, AsgiSA!

Gesondheid… Wil jy 'n snesie leen?

In Februarie 2006 word dié wonderwerk van 'n nuwe plan onder die adjunk-president, Phumzile Mlambo-Ngcuka geloods.

In 'n japtrap baar AsgiSa vrugte.

Ja?

Ja. Sien, die wonderplan het 'n… plan. En dié plan is om 'n plan op te trek om die ekonomie se groeikoers op te dryf na ses persent per jaar.

Skitterend! Die ANC het 'n plan wat 'n plan beraam het om 'n plan uit te werk? Baie gesofistikeerd…

Ja, maar wag. Die beste deel van hierdie plan is dat die ANC nie self die plan gaan maak nie. Nee, AsgiSA gaan die beste, mees omvattende, mees ingrypende ekonomiese plan van alle ekonomiese planne (tot dusver) wees.

Maybach. As jy die geld het, is daar geen rede om iets ander te ry nie.

Meneer die President?

Daar is net een wat hierdie plan kan maak. Niemand anders nie.

Meneer die President?

Laat kom die Harvardman.

купить сход развалАлександр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.