Die goudprys beleef ‘n elf-weke-hoogtepunt. Dit het verstewig ná vrese oor ‘n moontlike militêre ingryping deur die Amerika en Brittanje in Sirië.
Die VSA het aangedui dat militêre optrede ‘n moontlikheid is, weens ‘n chemiese aanval in ‘n voorstad in Damaskus. Hulle hou President Bashar al-Assad daarvoor verantwoordelik, in weerwil van die feit dat daar nie vaste bewyse is daarvoor nie.
Die Amerikaanse minister van verdediging, Chuck Hagel sê hulle wag net vir die groen lig van President Barack Obama. Die goudprys staan tans op 1 425 dollar per fynons.
Die Britse Eerste Minister, David Cameron het die parlement byeengeroep om Brittanje se reaksie op die krisis in Sirië te debatteer.
Brittanje berei gebeurlikheidsplanne voor vir ‘n moontlike militêre ingryping.
Cameron sê hy beskou die aanval as onaanvaarbaar en afskuwelik, maar ontleders meen dis slegs ‘n voorwendsel om Sirië aan te val.
Die Eerste Minister het die internasionale gemeenskap sterk aangemoedig op die chemiese aanval in Damaskus reageer. – RSG