Stakings kan beleggersvertroue knou

Deel op
Dawie Roodt
Dawie Roodt

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid het sy besorgdheid uitgespreek oor die voortslepende stakings in die land.

Duisende werkers staak in die voertuigvervaardiging- en die konstruksiebedrywe, terwyl ‘n staking ook in die goudmynbedryf dreig.

Die SAKKN sê die impak van al die stakings sal nie net beleggers en sakeondernemings raak nie, maar ook die afhanklikes van die stakers.

Die vakbond, Satawu het die Burgerlike Lugvaartowerheid in kennis gestel dat die Suid-Afrikaanse lugdiens sy vliegtuie sonder die nodige tegnici laat vlieg.

Lede van Satawu, waaronder tegniese werkers wat die vliegtuie diens, staak weens ‘n loongeskil.

Die stakings het slegs enkele vertragings vanoggend veroorsaak, onder meer die Springbokke se vlug uit Argentinië.

Die stakers is in ‘n opgwekte luim. Hulle het langs die pad stelling ingeneem, waar hulle musiek kliphard speel, vleis braai en selfs drank verkoop.

Arbeidsoptrede en stakings dreig in verskeie ander sektore in die land. Tegniese werkers by die Suid-Afrikaanse Lugdiens wat aan die vervoervakbond, SATAWU, behoort, het Maandagoggend begin staak, terwyl konstruksiewerkers van die NUM ook nie by die werk is nie.

Motorvervaardigers hou asem op oor of NUMSA lede hul verhoogde salarisaanbod gaan aanvaar. Dit volg nadat werkgewers hul loonaanbod verdubbel het, deur ‘n verhoging van tien persent aan te bied.

Onderhandelinge in die goudmynbedryf, slegs met die vakbond Solidariteit, is ook Maandag hervat.

Die National Union of Mineworkers wat salarisverhogings van tot 60 persent van goudprodusente eis, het maatskappye ‘n spertyd van sewe dae gegee om aan die eise te voldoen, of stakings te verwag.

Die vakbond het ‘n memorandum waarin sy eise vervat is aan die Kamer van Mynwese oorhandig.

Dit volg nadat sowat drie-duisend lede ‘n optog na die Kamer se kantore in Johannesburg gehou het.

Intussen sê die NUM dat die staking in die konstruksiebedryf Maandag sal begin nadat ‘n dooiepunt tussen die vakbond en werkgewers bereik is wat reeds drie maande duur. Negentig-duisend werkers sal daaraan deelneem

Die ekonoom Dawie Roodt het gewaarsku dat die voortslepende arbeidsonrus besig is om Suid-Afrika se beeld as ‘n bestemming vir beleggings te skaad. Hy sê die Rand se daling kan ook deels toegeskry word aan onduidelikheid oor Amerika se planne met kwantitatiewe verruiming, maar die impak van stakings moenie onderskat word nie. – RSG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.