Demografiese krisis raak reeds ?n ramp

Image“Die Afrikaner: verlede, hede en toekoms”. Oor dié moeilike tema moes ek onlangs ’n praatjie hou. Nie ek of een van die klompie wat kom luister het, het ’n "oplossing" vir die "Afrikaner-vraagstuk" gehad nie. Nie een van ons het darem ook onder die illusie verkeer dat ons ’n oplossing het nie.

Wanneer ’n mens oor dié saak iets wil sê, is ’n vermaning of voorbehoud van N.P. van Wyk Louw baie ter sake. Dit kom uit ’n opstel wat hy in 1959 geskryf toe ons die “Wonder van Afrikaans”-feeste gevier het. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het daardie jaar vyftig geword, en die FAK het die feeste gereël.

Wanhoop en twyfel was toe iets vreemds; daar was in werklikheid selfs ’n bietjie oormoed by sommiges. Louw het beklemtoon: “Laat ons nie roem nie!” Hy het aangehaal wat hy soms in die buiteland oor Afrikaans aan mense gesê het: “Kyk, honderd jaar gelede het ons niks gehad nie; vandag besit ons iets wat nie niks is nie.” Ook: ons is geregtig op ’n bietjie beskeie trots.

Wat die toekoms betref, het hy opgemerk dit is nie aan ons mense gegee om toekomstige dinge te openbaar nie. Ons kan eintlik net die verlede en die hede ’n bietjie leer ken. “Oor wat ons taal sál word, of oor wat ván hom sal word, kan ons dus nie praat nie – behalwe met hartstogtelike verlange” (Versamelde Prosa 2, bl. 181).

Met hierdie vermanende voorbehoude in gedagte wil ek in hierdie en die volgende paar rubrieke op Praag iets sê oor die hede, die verlede en die toekoms van Afrikaans en die Afrikaners.

Daar is negatiewe en positiewe aspekte aan die hede. Eers die negatiewe. En die negatiefste is op ons demografiese posisie.

Een van die redes vir dié negatiewe posisie is die emigrasie van Afrikaners en ander wit mense. Die Instituut vir Rassebetrekkinge bereken dat sowat 850 000 wittes tussen 1995 en 2005 geëmigreer het. ’n Paar maande vroeër is selfs gesê dis ’n miljoen. In die ouderdomsgroep 25 tot 29 het 550 000 wit mense sedert 1996 uit die land verdwyn.

Die vorige groot demografiese verlies wat die Afrikaners gely het, was in die Anglo-Boereoorlog. Wat dit toe erg gemaak het, is dat dit gepaard gegaan het met enorme menslike lyding en materiële verwoesting.

Maar hoe vergelyk die twee verliese persentasiegewys? Meer as 7000 Boere, onder wie ook Kaapse en Natalse rebelle en ’n relatief klein aantal buitelandse vrywilliters is dood, skryf Thomas Packenham (in Die Boereoorlog, bl. 595). Hy sê daarby kom ’n onbekende aantal vroue en kinders in die konsentrasiekampe, iets tussen 18 000 en 28 000. Volgens die inskripsie op die Vrouemonument in Bloemfontein is die getal vroue en kinders 26 370, sodat die werklike getal nader aan 28 000 is as aan 18 000.

Vergelyk ’n mens dit met die sterftes van veral die twee wêreldoorloë lyk dit na ’n besonder klein aantal. ’n Mens moet dit egter stel teenoor die grootte van die Afrikanervolk in daardie stadium. Volgens G.D. Scholtz (Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner, deel IV 1881-1899, bl.22) was daar in 1899 sowat 500 000 Afrikaners, van wie sowat 100 000 in die Vrystaat en 125 000 in Transvaal. Die persentasie wat gesterf het, is dus sowat 15 persent van die Afrikaners in die twee republieke, of sewe persent van die Afrikaners as geheel.

Wat die huidige menseverlies so erg maak, is dat dit veral jong mense is wat gaan – mense wie se kinders nou ander lande gaan verryk.

Ook ander demografiese prosesse werk tot ons nadeel. Geboortesyfers daal en sterftesyfers styg, en dit gebeur ook by die blankes en die kleurlinge uit wie se geledere die Afrikaanstaliges kom. Die blankes het die vervangingsvlak van 2,1 geboortes per vrou in 1990 bereik en  die Asiërs in 1999. By die wit mense is dit nou 1,6 per vrou.

Die gegewens van die 2001-sensus, wat in Augustus 2003 bekend gemaak is, wys dat die posisie van Afrikaans as huistaal persentasiegewys agteruitgaan het.

Koerante het destyds tereg sommige gegewens bevraagteken. Taalstatistiek is dikwels verdag. In België was ‘n deel van die Vlaamste taalstryd gerig teen taalstatistiek omdat dit maklik vervals kan word.

Tog is die syfers belangwekkend. Die getal Afrikaanssprekendes het tussen 1996 en 2001 met 171 876 toegeneem. Afrikaans is die huistaal van meer as 80% van die bruin en 59% van die wit mense. Maar Afrikaans het persentasiegewys “negatiewe groei” beleef. Die persentasie Afrikaanstaliges het gedaal van 14,4% van die bevolking in 1996 tot 13,3%; vir Engels was die daling van 8,6% tot 8,2%.

Die bekende demograaf, prof. Flip Smit, het verlede jaar in ’n lesing in Bloemfontein gewys op ander belangwekkende tendense. Een daarvan is die instroming van immigrante uit Afrika sedert 1994. Skattings verskil, maar die juiste aantal lê waarskynlik tussen 8 en 9 miljoen vreemdelinge. Dis nou sekerlik al meer.

Hy het ook gewys op die verskuiwing van die bevolking in die binneland. Die verskuiwing uit die Oos- na die Wes-Kaap bedreig die posisie van Afrikaans as dominante moedertaal in die Wes-Kaap.

Ook die toename van swartes in sommige stedelike gebiede en die ontvolking van die blanke platteland het gevolge. Wat blankes verdryf, is geweldsmisdaad en verswakkende munisipale dienste, terwyl die aantal kommersiële boere verminder. Grondhervorming kan nog ’n 12 000 wit boere van die platteland verdryf.

Dit alles het gevolge vir kerke en skole. Deeglike beplanning is nodig om te verseker dat Afrikaans as onderwysmedium voortbestaan.

Die afname in die vrugbaarheidskoers van wit vroue is iets wat ons met ander Westerse volkere gemeen het. In 2003 het ’n polities uiters inkorrekte kommentaar daarop verskyn in die bekende Nederlandse dagblad, NRC Handelsblad, se “Web- en weekeditie voor het buitenland”.

Prof. B.M.S. van Praag van die Universiteit  van Amsterdam het in ’n artikel geskryf oor die noodsaak van ‘n aktiewe bevolkingspolitiek vir dié land. Die kop het gelui: “Nederlanders moeten meer kinderen krijgen”.

Volgens hom is dit nog polities taboe is om polities inkorrek te praat oor ‘n aktiewe bevolkingspolitiek. Wel, as dit daar taboe is, hier nog meer. Ook al is die hele kwessie by ons dringender.

Niemand het dit selfs toe al gewaag om te sê: “Afrikaaners moeten meer kinderen krijgen”, want dit sou ‘n herrie ontketen het. So ‘n herrie was daar in die jare sestig toe ‘n minister voorgestel het dat die republiek versterk kan word deur ‘n “republiekbaba”.

Aan emigrasie en die demografiese krisis kan ons as individue of as groep maar min doen. Hoewel: op Sondag 13 April 2008 het 46 bekende figure en leiers in Rapport in gesê hulle wil bly en stry. Hulle het hul verklaring bedoel as teken van hoop vir diegene wat bedruk moet toekyk hoe ander emigreer, en daarby as protes teen alles wat verkeerd is, en teen diegene wat roep: “The whites must go!”

Die emigrante is nie verraaiers nie en is ook nie almal vir ons verlore is nie. Ons moet met hulle kontak hou, en hulle beskou as 'n internasionale netwerk wat gemobiliseer kan word om hier te help.

avto-mechanic.ru

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.