Blanke sterftes in staatshospitale is ‘nóg ‘n volksmoord’

Deel op
Hospitaallaken van die Tambo-gedenkhospitaal in Boksburg
Hospitaallaken van die Tambo-gedenkhospitaal in Boksburg

Mnr. Hank Janse van Vuuren is volgens sy familie gelos om in die Tambo-gedenkhospitaal aan die Oos-Rand in uiterste pyn met ‘n bloeiende maagseer te sterf.

Volgens sy suster, mev. Deirdré Ruthven, is hy “eers 17 ure ná hy opgeneem is, geopereer terwyl dit veronderstel was om ‘n noodoperasie te wees. Daar is ook ‘n klomp verskonings aangebied oor hoekom die operasie nie as ‘n noodgeval gesien is nie. Ná die operasie, is die snit oop gelos, wat tot komplikasies gelei het. Hy moes in intensiewe sorg gewees het, maar hy is eenvoudig in sy kamer geplaas en gelos!”

Sy het ‘n verslag van 5700 woorde oor haar broer se onmenslike lyding geskryf en eis ‘n “openbare erkenning” van nalatigheid deur die hospitaal en die Gautengse gesondheidsdepartement.

“Ons as ‘n gesin vereis hiermee ‘n openbare erkenning deur die Tambo-gedenkhospitaal, asook die dokters en verpleegpersoneel wat by hom betrokke was, dat hulle in gebreke gebly het om hul eed na te kom. Verder moet die mediese personeel tot verantwoording geroep word deur die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika. Hulle verdien nie om dokters of susters genoem te word nie. ‘n Ondersoek behoort geloods te word na die vele sterftes tydens dié mediese skofte, veral dié van die betrokke susters. Verder stort die hospitaal in duie, soos ander staatshospitale, met waterlekke, vrot reuke, vuilis, bloedvlekke op die mure, wurms wat uit asblikke kruip, ens. Daar is geen higiëne hier nie! Dis die siek situasie in al die staatshospitale.”

Sedert mev. Ruthven praag ‘n maand gelede gekontak het, het verskeie mense ons genader met soortgelyke gruverhale van veral blanke pasiënte in staatshospitale wat sonder behandeling net gelos word om te sterf, of wat weens nalatigheid of verkeerde behandeling omkom. In sommige gevalle moet die gesinne van pasiënte konstant oor hul geliefdes waak en mediese personeel smeek om hulle te behandel of betyds te behandel.

Provinsiale ambulansdienste neem soms vyf ure om by ‘n pasiënt op te daag. Waar gesinne inderhaas pasiënte self hospitaal toe vervoer, word hulle onderwerp aan ure lange rompslomp en ‘n gewag of daar word volstrek geweier om die pasiënt op te neem of te behandel.

Volgens mev. Rufhven is haar broer se verhaal “net die top van die ysberg. Sedert dit met ons gebeur het, het vele mense ons gekontak met soortgelyke ervarings. Dis deel van die volksmoord op ons.”

Johannesburgse Algemene Hospitaal, eens die trots van die mediese professie in SA
Johannesburgse Algemene Hospitaal, eens die trots van die mediese beroep in SA

‘n Broer en suster wat “weens die vernedering vir ons gesin en vir ons vader” anoniem wil bly, het vertel hoe hulle gesukkel het om hul siek, bejaarde vader na die Johannesburgse Algemene Hospitaal, wat deesdae as die “Charlotte Maxeke” bekendstaan, te vervoer.

“Toe ons daar aankom, het ons onmiddellik by die Noodafdeling stilgehou, maar daar was niemand om ons te help nie. Hoe meer ons gesmeek het dat my pa onmiddellik gestabiliseer moes word aangesien hy duidelik baie siek was, hoe meer is daar aan ons gesê dat ‘daar nie portiers beskikbaar was nie’,” het die suster, ‘n professionele vrou van Johannesburg, verduidelik. “Uiteindelik het privaat paramediese (blanke) personeel wat ‘n ander pasiënt kom aflaai het, ons gehelp om my pa in die ongevalle-afdeling te kry.

“‘n Lustelose houding het ons begroet. Daar is eers aan ons gesê dat daar geen bed vir hom was nie. Ons het toe gewys na ‘n leë bed wat reg daar in die ongevalle-afdeling gestaan het, op wiele en wat gebruik kon word. Die jong swart vrouedokter aan diens, P. Mkhize, het toe weer die gebrek aan portiere opgehaal. Ons het toe min of meer uit desperaatheid self die bed daar uitgestoot en met die hulp van die privaat paramedici buite my pa tot in die ongevalle-afdeling gekry. Kosbare minute het verbygesnel. Uiteindelik het ‘n suster aangewaggel gekom en hy is op ‘n ondersoektafel geplaas.

“Dit alles het reg in die middel van die ongevalle-afdeling plaasgevind. Reg langsaan was die dolleë afdeling met monitors en suurstof waar my pa behandel sou kon word indien dit hul erns was. Daar was egter geen haas om hom soontoe te neem nie. Hulle het my pa daar op sy sy gedraai en reg voor ons het hy sy laaste asem uitgeblaas. Dié oomblik sal my altyd bybly.

“Eers toe hy dood was, het die suster aan diens hom na die saaltjie met lewensondersteunende apparaat geneem en bevestig dat hy dood was. Hierna is hy na die hospitaal se lykshuis oorgeplaas. Ons het daar in die Ongevalle gesit en huil terwyl die personeel maak asof hulle ons nie raaksien nie. Toe verklaar hulle op die doodsverslag dat hy reeds dood was toe hy by die hospitaal aangekom het, iets wat ons natuurlik betwis het, want hy het nog asem gehaal toe hy op die ondersoektafel geplaas is!”

Met die stygende koste van mediese fondse, is meer en meer blankes, veral ouer persone, genoodsaak om hul tot staatshospitale te wend. In baie gevalle word privaat mediese fondse ook uitgeput en moet selfs mense met mediese fondse insgelyks in staatshospitale behandeling ontvang.

Sommige sterf weens gebrek aan behandeling by ongevalle-afdelings, terwyl ander oor etlike dae weens nalatige of gebrekkige behandeling toegelaat te word om dood te gaan. In die geval van mnr. Hank Janse van Vuuren, is hy op 26 Maart 2013 by die Oliver Tambo-gedenkhospitaal opgeneem en met ‘n bloeiende maagseer gediagnoseer. Volgens beskikbare mediese inligting op die internet, vereis so ‘n toestand noodbehandeling en onmiddellike chirurgie.

‘My broer is gelos om soos ‘n dier in die veld te sterf’

In haar verslag skryf mev. Ruthven, sy suster, dat hy “gelos is om soos ‘n dier in die veld te sterf’. Op sy doodsertifikaat is vermeld dat hy aan ‘n hartaanval dood is. “Nee,” skryf sy, “my broer is weens nalatigheid dood. Hank is op 28 Maart 2013 om 20:05 oorlede. Ná drie dae in die die hospitaal! Indien sy prognose nie goed was nie, waarom het geen van die personeel ons in kennis gestel nie, maar hom bloot gelos om soos ‘n dier in die veld te sterf? Dis nie algemene gebruik nie, dis nalatigheid met ‘n misdadige bedoeling!”

Mev. Deirdré Ruthven
Mev. Deirdré Ruthven

Die oggend van mnr. Janse van Vuuren se oorlye, het ‘n saalsuster nog teenoor mev. Ruthven om 9:00 per telefoon bevestig dat dit met hom “goed gaan”. Toe sy egter met die besoekuur om 15:00 daar aankom, vind sy hom in ‘n ernstige toestand, met “swaar asemhaling, erge pyn, ietwat deurmekaar, sweterig en bleek, met klewerige bloed in sy mond en neus.” Daar was tekens dat daar nie goed na hom gekyk word nie, want die klokkie werk nie, sy drup lek en daar is ‘n plas bloed op die vloer. Volgens sy lêer het niemand sedert 6:00 die oggend na hom omgesien nie. Toe sy na die suster aan diens vra, hoor sy dat dié “met ete is en eers 16:00 terug sal wees”.

Haar broer was toe, ongeveer vier ure voor sy dood, nog voldoende by sy positiewe om aan haar te sê: “Hierdie is nie ‘n goeie saal nie, want die personeel gee nie vir die pasiënte om nie. Dis nie dieselfde as toe ek 8 maande gelede in saal 21 was nie. Hierdie personeel hier, hulle wil net glad nie help nie.”

‘n Medepasiënt van mnr. Janse van Vuuren het reeds die oggend om 6:20 opgemerk het dat dit nie met hom goed gaan nie en dat hy besig was om te bloei. Niemand het egter iets daaraan gedoen nie. Intussen is daar in sy lêer geskryf, sy pols, temperatuur en bloeddruk is geneem, maar niemand het opgemerk dat hy bloei nie.

Toe mev. Ruthven die personeel hieroor uitvra, is sy bloot lakonies meegedeel: “Ons het dit nie gesien nie.”

‘Niemand word ongelyk behandel nie’ – Gauteng

praag het vandeesweek die Gautengse departement van gesondheid genader vir kommentaar oor mnr. Hank Janse van Vuuren se geval en het mev. Ruthven se verslag met al die besonderhede aangestuur.

Die hoofwoordvoerder vir die departement, mnr. Simon Zwane, het egter glad nie daarop gereageer nie. Pleks daarvan, het hy op enkele bykomende vrae oor mnr. Earl Harper, waaroor daar vandeesweek reeds in die media berig is, geantwoord.

praag se eerste vraag aan die departement van gesondheid was die volgende:

Onlangse voorvalle soos dié waarby mnr. Earl Harper betrokke was) blyk aan te dui dat swart hospitaalpersoneel vyandig teenoro blanke pasiënte is en hulle óf behandeling weier, óf behandeling vertraag, hetsy hulle op ‘n lukrake, onprofessionele manier behandel?

Zwane het ontken dat blankes anders behandel word: “Daar is geen getuienis wat suggereer dat mnr. Harper ander behandeling sou ontvang het indien hy blank was nie. [Hierdie sin was vir ons dubbelsinnig – red.] En ons is nie van enige bewys voorsien dat slegs swart personeel na hom omgesien het nie. Daarom sou dit onverantwoordelik wees om tot ‘n rassistiese gevolgtrekking te kom voordat al die feite ondersoek is.”

TimesLive het vandeesweek berig dat die 67-jarige mnr. Earl Harper reeds “60 dae lank poog om bekwame mediese behandeling te ontvang”. Volgens TimesLive “voel Harper en sy familie dat hy mishandel is omdat hy blank is”.

Op die vraag of die departement bewus is van die ongelyke behandeling of gebrek aan behandeling vir blanke pasiënte en of dit enige klagtes in dié verband ontvang het, afgesien van die geval van mnr. Earl Harper by die Charlotte Maxeke-Johannesburg Algemeen, het mnr. Zwane soos volg geantwoord:

“Nee. Hospitale behandel miljoene mense elke jaar en niemand het nog ooit teenoor ons beweer dat hulle ongelyk behandel is vanweë hul velkleur nie.”

‘Hulle maak die mense aspris dood’

Mnr. Dewald Scholtz van Pretoria beweer egter die teendeel en het die volgende verhaal om te vertel:

“My vriendin se ma moes ‘n operasie kry. Sy het in die hospitaal gelê met ‘n verstopte derm – ons moes self met ‘n skotteltjie bystaan as dít wat in haar spysverteringstelsel opgebou het bo by haar mond uitloop. Die vrou is ‘n trotse vrou wat haarself altyd perfek versorg – en sy het hulpeloos daar gelê en was besig om dood te gaan. Die gesette swart verpleegsters het ons soos gemors behandel wanneer ons kla. En die operasie is net aanhoudend uitgestel.

“Sy sou doodgegaan het as ons nie ingegryp het nie. Ons het haar algemene praktisyn gevra om haar te besoek in die hospitaal en vir ons ‘n verslag en aanbeveling te skryf. Toe maak ons ‘n kopié van die verslag en sê vir die hospitaalbestuur dat ons van hulle sou eis as sy sou doodgaan. Die operasie is in minder as ‘n dag daarna gedoen en sy het herstel.

“Hulle maak die mense aspris dood – dit is binne hulle mag in die hospitaal.”

praag is besig om dié verhale verder op te volg en ons sal weer met die Gautengse gesondheidsdepartement in verbinding tree. Indien u van soortgelyke gevalle weet, word u versoek om dit aan ons te stuur by inlig[by]praag.org. Ons menseregtekomitee sal hierdie en ander gevalle ondersoek en dit onder die aandag van plaaslike en internasionale owerhede bring.

Ondersteun asb. ons werk om die waarheid in Suid-Afrika te publiseer en neem ‘n debietorder uit. Met ‘n paar rand per maand kan ons lewens red!

praagcoza_adv

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.