Rassisme en die kerklike debat

Deel op

Die Sentrum vir Publieke Teologie het op 8 Mei 2008 ‘n seminaar oor die tema van “Kerk en Rassisme” by die Universiteit van Pretoria aangebied. Deelnemers het ingesluit: Neels Jackson, prof. Piet Meiring, prof. Theuns Dreyer en dr. Johan Pienaar.

Deel op

Die godsdienskorrespondent van Beeld, Neels Jackson, het verklaar dat nóg die NGK, nóg die Hervormde Kerk genoeg doen om rassisme in eie geledere hok te slaan. Prof. Piet Meiring het min of meer die kritiese standpunt van Jackson onderskryf en bygevoeg dat die genoemde kerke die klem te min op die horisontale verhoudinge plaas. Hy het vrylik uit die Belhar-belydenis van die (kleurling-) Verenigde Gereformeerde Kerk aangehaal en dit as navolgingswaardig voorgehou.

Prof. Theuns Dreyer van die Hervormde Kerk het rassisme vanuit ‘n etiese perspektief bekyk en veroordeel. Dit is rassisme wat voortvloei uit die verhouding van een mens tot ‘n ander. Wat strukturele rassisme betref, het Dreyer daarop gewys dat neorassisme in die post-apartheidtydvak ‘n groeiende sosiale verskynsel onder wittes is, basies as gevolg van die regstellendeaksieklousule en die plofbare veiligheidsituasie.

Dr. Johan Pienaar, van die NGK, het min of meer ‘n historiese benadering gevolg en aangetoon hoe die NGK se moeder-dogterkerklike differensiasies ontstaan het. Terselfdertyd het hy statisties daarop gewys dat die teenstand van lidmate teen strukturele eenwording met die dogterkerke besig is om af te plat.

Dit blyk dat die sprekers op twee vermeende vorme van rassisme die klem laat val het:

  • rassisme as etiese verskynsel wat voortvloei tussen mense, ingevolge waarvan een persoon hom verhewe voel bo ‘n ander en die ander minderwaardig ag (prof. Theuns Dreyer, Hervormde Kerk); en
  • vermeende rassisme ingevolge waarvan ‘n “wit” kerk sy deure sluit vir ander (swart Christene) of strukturele eenheid van die wit kerk met die gekleurde kerke afkeur.

Kommentaar uit die gehoor op die standpunte van die inleiers was verskillend. Een persoon het daarop gewys dat almal rassisme van ‘n etiese aard (dus een mens of groep teenoor ‘n ander mens of groep) afkeur, maar dat eenstemmigheid ontbreek oor die vraag of verskillende kerke vir verskillende gemeenskappe met verskillende aanbiddingsbehoeftes op rassisme neerkom.

Die hantering van laasgenoemde kwessie hang af van ‘n teoretiese of dogmatiese raamwerk oor die vraag na die verhouding kerk tot gemeenskap en tot die samelewing. In hierdie verband is daar drie kerkidees:

  • Die universalistiese idee dat kerk en koninkryk saamval en dat daar maar een kerk vir alle gelowiges behoort te wees. Die Roomse Kerkidee is hier van toepassing.
  • Die liberalistiese idee (kollegialisme) dat ‘n kerk die eenheid of optelsom van alle gelowiges is en dat niemand wat gelowig is, die deur gewys kan word nie.
  • Die plurale idee dat ‘n kerk ‘n aanbiddingstruktuur is, wat die verhouding van mense tot die Transendente God reël en orden en dat daar dus ‘n onoorsienbare hoeveelheid van kerke kan en mag wees, wat elkeen uitdrukking is van die partikuliere behoeftes van ‘n bepaalde godsdiensgemeenskap.

Bogenoemde drie kerklike modelle hang ook saam met ‘n antropologie:

  • Die Grieks-heidense dualistiese mensbeskouing dat die mens oor ‘n ewige sielsdimensie beskik, wat vir die duurte van sy/haar lewe tydelik in ‘n materiële liggaam vasgevang is. Hierdie antropologie lei tot ‘n spirituele determinisme.
  • Die Bybelse idee dat die mens een in die tyd is, dat die volle mens by konsepsie ontstaan, dat die menslike geen honderde (ja, duisende) jare die verlede teruggryp, sy huidige potensialiteit medebepaal en ook die moontlikhede van sy/haar nageslag beperk.

Die wekroep tot een kerk vir alle mense is fundamenteel gebaseer op ‘n spirituele determinisme wat die rol van beskawing, kultuur en taal in die samestelling van die menslike persoon totaal onderskat. So ‘n antropologie gee onteenseglik aanleiding tot òf ‘n universalistiese kerkidee òf tot die liberalisme wat van ‘n kerk die optelsom van alle gelowiges maak.

Wat duidelik by sommige sprekers was en kerke is, is om polities korrek te wees. In so ‘n situasie word die kerkidee aangepas om by die politieke omwêreld in te pas.

‘n Spreker het daarop gewys dat as daar maar een kerk vir alle gelowiges moet wees (een algemene Christelike kerk) dat Protestantse Christene, in daardie geval, op hulle spore sal moet terugloop na Rome en verskoning moet vra vir die feit dat die Reformasie die “liggaam van Christus” geskeur het.

 

светильник акцентного освещенияДанильченко Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.