Rand verloor 17% van sy waarde

Deel op

randnoteDie Suid-Afrikaanse geldeenheid word tans geteister deur die ekonomie se afhanklikheid van swak Europese markte, blootstelling aan verlangsamende ontluikende markte, plaaslike onrus en strenger VS- monetêre beleid.

Die Amerikaanse Federale Reserwe het op 22 Mei aangekondig dat hy uiteindelik sy stimuleringsprogram sal moet beëindig, iets wat insgelyks ‘n stormagtige bydrae gevoeg het tot die orkaan reeds die Suid-Afrikaanse rand tref.

Soos in ander geldeenhede in die sogenaamde “ontluikende markte”, het Suid-Afrikaanse valuta onlangs gesukkel.

In Januarie was die rand nog op 8,75 teenoor die Amerikaanse dollar.

Donderdag het die rand ‘n vierjaarlaagtepunt van 10,44 bereik, met min tekens dat die swakker geldeenheid uitvoere stimuleer, soos mens sou verwag.

“Sedert die begin van die jaar het die rand, soortgelyk aan die Brasiliaanse real of die Indiese roepee, met omtrent 17 persent gedaal het,” sê Daniel Makina, ‘n professor aan die Universiteit van Suid-Afrika.

“Die fondse vlug nou terug Amerika toe,” sê hy.

Onbestendige kapitaalvloei is niks nuuts vir ontluikende markte nie, maar teen die agtergrond van stadiger Chinese groei, is dit ‘n harde slag.

Die wanhoop was ooglopend toe die Suid-Afrikaanse minister van finansies, Pravin Gordhan, die Verenigde State in Junie tot versigtigheid gemaan het.

“Bestuur u interne sake en globale sake op verantwoordelike wyse sodat die negatiewe uitwerking op ons ekonomieë nie so ernstig is as wat dit mag voorkom nie,” het hy gewaarsku.

Sy woorde het egter op dowe ore geval.

In Suid-Afrika het krediet opgedroog, terwyl invoere – wat nou duurder is – die land steeds binnestroom.

Hoër brandstofpryse het verbruikersinflasie bokant die sentrale bank se boonste teikenband van ses persent laat toeneem.

Tesame met stadiger groei, heers daar tans donker voorspellings van ‘n “stagflasionêre spiraal”.

Na verwagting sal Suid-Afrika, wat Afrika se grootste ekonomie verteenwoordig, vanjaar slegs twee persent groei.

Dit moet vergelyk word met die meer as agt persent groei in die buurland Mosambiek.

Een destabliserende faktor is arbeidsonrus.

Ondanks die feit dat geskille dikwels gewelddadig raak, lyk die ANC – wat noue bande met die vernaamste vakbondfederasie COSATU handhaaf – dikwels onwillig om in te gryp.

“Daar is ook plaaslike redes waarom die rand die wind van voor kry. Die motor- en mynsektore, asook ander sektore, is tans besig met taai onderhandelings en daar mag turbulensie as gevolg daarvan wees,” sê die Nedbank-ekonoom, Busisiwe Radebe.

Sedert die begin van die week staak daar 30 000 motorwerkers, wat die plaaslike produksie knielhalter, terwyl werknemers in die boubedryf na verwagting vanaf Maandag hul werktuie gaan neerlê.

Hulle sal waarskynlik deur werkers in die myn- en tekstielbedrywe gevolg word.

Sulke stakings is dié tyd van die jaar algemeen in Suid-Afrika, wanneer die jaarlikse loononderhandelings plaasvind.

Maar te midde van ‘n trae ekonomie en die spanning ná die dodelike mynstaking verlede jaar by Marikana, waartydens 34 stakers deur die polisie doodgeskiet is, bly beleggers senuagtig.

“‘n Gebrek aan ‘n ooreenkoms tydens loononderhandelings in die mynsektor mag beleggers nogmaals die skrik op die lyf jaag,” sê Shilan Sha, ‘n ekonoom by Capital Economics.

Die vooruitsigte vir die rand lyk tans onseker.

“Die toekoms van die rand sal hoofsaaklik deur die uitslag van die verkiesing aanstaande jaar in April bepaal word,” sê Radebe – AFP

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.