Mandela se toestand ‘soms onstabiel’

Deel op
medi_clinic_harthosp
Die Medi-clinic-harthospitaal in Pretoria

Terwyl oudpresident Nelson Mandela se toestand “ernstig maar stabiel” bly, raak dit met tye onstabiel, het die presidensie Saterdag aangekondig.

“Terwyl sy toestand met tye onstabiel raak, wys die dokters daarop dat die oudpresident groot uithouvermoë vertoon het en dat sy toestand danksy mediese ingrypings neig om te stabiliseer,” het die woordvoerder Mac Maharaj in ‘n verklaring gesê.

Volgens hom werk die dokters hard om ‘n ommekeer te bewerkstellig, om Mandela se gesondheid te verbeter en om hom gemaklik te hou.

“President Jacob Zuma versoek Suid-Afrika om aan te hou bid vir Mandela en om hom te alle tye in hul gedagtes te hou,” het Maharaj gesê.

Zuma sou Saterdag na Maleisië vir ‘n amptelike besoek reis.

Die besoek is bedoel om die maatskaplike, politieke en ekonomiese bande tussen die twee lande te verstewig.

Zuma sal ‘n Lewenslange Toekenning vir Wêreldvrede namens Mandela ontvang, wat deur die Mahathir-wêreldvredstigting uitgeloof word.

Vroeër vandeesmaand het die presidensie gesê Mandela was steeds in ‘n ernstige toestand maar dat hy konstant verbeter.

“Die mediese span het ook herhaal dat, hoewel sy gesondheid verbeter, Madiba steeds in ‘n ernstige toestand verkeer.”

Saterdag was Mandela se 78ste dag in die Medi-Clinic-harthospitaal te Pretoria.

Die ikoon is op 8 Junie vir ‘n herhalende longkwaal opgeneem. – Sapa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.