Hein Boonzaaier kry ontslag weens ‘gebrek aan getuienis’

Deel op
Mnr. Hein Boonzaaier
Mnr. Hein Boonzaaier

Mnr. Hein Boonzaaier, een van die aangeklaagdes in die sogenaamde “Bloemfontein-4-terreursaak” het vandag ontslag gekry in die Bloemfonteinse landdroshof weens ‘n gebrek aan enige getuienis teen hom. Die staat het die saak teen hom teruggetrek.

Volgens mnr. Boonzaaier, het hy op Geloftedag, 16 Desember 2012 met sy hond in sy tuin gaan stap. Hy woon in Centurion. “Dit was presies kwart voor agt die oggend,” vertel hy. “Die volgende oomblik verskyn daar 30 swaar gewapende polisiemanne met volle lyfpantser en semi-outomatiese gewere wat op my gerig word. Ek het nie geweet wat aangaan nie, of ek moes hardloop of uitbars van die lag nie.”

Die volgende oomblik is mnr. Boonzaaier op ‘n klag van “terrorisme” in hegtenis geneem. Hy moes byna twee maande in die tronk deurbring voordat hy borg kon kry. Die staat het sy borgaansoek, asook dié van die ander drie aangeklaagdes, Johan Prinsloo, Mark Trollip en Martin Keevy, teengestaan.

Volgens sy regspan, “moes hy nooit gearresteer gewees het nie”. “Ek dink dit het suiwer daarom gegaan om my te probeer diskrediteer, ‘n doel waarin die staat en die media geslaag het,” sê hy.

Mediaverhoor

Sowel die Naspersgroep as die Mail & Guardian het teen Boonzaaier losgetrek met ‘n “mediaverhoor” waarin dié finansiële konsultant van Centurion as “regse ekstremis”, “staatsgreepbeplanner” en dergelike meer beswadder is.

Volgens Boonzaaier is daar gepoog om getuienis teen hom te vervals deur stellings wat hy tydens ‘n vergadering in die VSA gemaak het te verdraai sodat dit klink asof hy “presies die teenoorgestelde gesê het van wat hy eintlik gesê het”.

Voor sy inhegtenisname was Boonzaaier betrokke by die stigting van ‘n nuwe politieke party, die Federale Vryheidsparty en is hy ook tot president van die party verkies. “My poging om aan die demokratiese politiek deel te neem, is egter beantwoord met hardhandige, wederregtelike arrestasie,” het hy gesê.

Boonzaaier meen dat die bevel om hom in hegtenis te neem, vanuit ANC-geledere gekom het. “Die vreemdste was dat die Nasionale Vervolgingsgesag, wat luidens die grondwet ‘n onafhanklike liggaam is, my nie wou vrylaat nie allhoewel daar geen behoorlike klag of getuienis teen my was nie. Eers toe die minister daartoe ingestem het, is ek vrygelaat.”

“Ek dink dit was alles deel van ‘n plan om ons politieke party te diskrediteer, afgesien daarvan dat dit teen my persoonlik gerig was. Ek kry die indruk die regering wou nie hê dat ek aan die politiek moes deelneem nie,” sê Boonzaaier.

Die saak teen sy drie mede-aangeklaagdes gaan voort. Mnr. Martin Keevy is vir ‘n tweede keer na die Bloemfonteinse psigiatriese inrigting vir ‘n waarnemingstydperk van 30 dae verwys.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.