Regering wil skaliegas-ontginning goedkeur

Deel op
skalie
Wie is die skape?

Die regering kan skaliegas-ontginning voor aanstaande jaar se verkiesing goedkeur.

Die minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies sê skaliegas kan ‘n noodsaaklike deel van Suid Afrika se soeke na energie-sekerheid wees.

Op ‘n vraag oor die sterk weerstand teen hidrobreking in die Karoo het Davies gesê die regering sal ontginning op ‘n omgewings- én maatskaplik- verantwoordelike wyse doen.

Davies sê die besluit oor hidrobreking is een van ‘n reeks stappe om beleggings en werkskepping te stimuleer.

Die drukgroep Treasure the Karoo het adjunkpresident Kgalema Motlanthe se beweerde steun vir skaliegas-ontginning, oftewel hidrobreking, vroeër veroordeel.

Motlanthe het die openingstoespraak in Junie deser by die Groen Energie se  Jeugberaad in Kaapstad gelewer. Hy het gesê die kommersiële ontginning van die land se oorvloedige skaliegashulpbronne moet steeds ondersoek en opgevolg word.

Motlanthe het dié mening gelug kort nadat die Suid-Afrikaanse aktivis, Jonathan Deal, met ‘n internasionale omgewingsprys weggestap het vir die teenkanting wat hy gebied het om hidrobreking in die Karoo te verhoed.

Deal en nog vyf ander ontvangers het die Goldman Omgewingsprys ter waarde van R1,4 miljoen elk in San Francisco ontvang. Omgewings-aktivisme op grondvlak word met dié prys vereer. Deal het die drukgroep Treasure the Karoo in 2011 op die been gebring om die ontginning van skaliegas deur hidrobreking te keer.

Die minister van Minerale Hulpbronne, Susan Shabangu het in April verlede jaar ‘n moratorium op hidrobreking geplaas en ‘n taakspan aangestel om ‘n verslag vir haar op te stel.

Sy het in September aangekondig dat geologiese ontginning toegelaat sal word om die grootte en potensiaal van die skaliegas-reserwe te bepaal.

Die Treasure the Karoo-drukgroep het met Afriforum kragte saamgesnoer om planne van olie- en gasmaatskappye te bestry wat skaliegas wil ontgin.

Suid-Afrika het volgens berekenings ‘n baie ryk skat aan tegnies-ontginbare gasreserwes, maar omgewingskenners is bekommerd dat dit die omgewing kan skaad.

Die hoof van omgewingsake by Afriforum, Julius Kleynhans sê Suid-Afrikaners is nie genoegsaam ingelig oor die uitwerking van hidroliese breking nie.

Treasure the Karoo het verlede jaar ‘n groep betogers na die hekke van die Parlement gelei om te eis dat meer navorsing gedoen word oor die eksplorasie van skaliegas.

Die groep se woordvoerder, Jonathan Deal, sê egter die motivering om skaliegas te ontgin, is nie oortuigend genoeg nie. – RSG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.