
Beeld berig dat ‘n messtekery tussen lede van die DA-studenteorganisasie (Daso) en lede van Sasco uitgebreek het ná afloop van die Tshwane-universiteit van Tegnologie (TUT) se SR-verkiesing.
Die geweld het op Polokwane-kampus uitgebreek omdat Mmusi Maimane, DA-premierskandidaat in Gauteng, die verkiesingsuitslag op die Soshanguve-kampus bevraagteken het.
Sekere studente moes weens tegniese probleme by ‘n ander kampus gaan stem. Die SR-verkiesing was egter oop vir alle TUT-kampusse, ten spyte van dié probleme.
Die DA-Jeug het in ’n verklaring gesê ’n klag is by die polisie ingedien nadat ’n Daso-lid glo deur ’n Sasco-lid met ’n mes gesteek is.
‘n Sasco-lid is ook glo in die gevegte wat losgebars het, gesteek. Sasco kon nie bereik word vir kommentaar nie.
Willa de Ruyter, woordvoerder van die TUT, het gesê die TUT-bestuur veroordeel die voorval. Die uitslae van die SR-verkiesing was nog nie gister beskikbaar nie.