
Die Soesji-koning en pornobaas Kenny Kunene se politieke loopbaan was van korte duur. Die sakeman het bedank uit Julius Malema se nuwe Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF).
Mbuyiseni Ndlozi, ’n woordvoerder, het aan Sapa gesê Kunene het gevra om onthef te word van sy leiersverantwoordelikhede.
Kunene is op 12 Julie deur Malema as lid van die EFF se “nasionale sentrale bevelvoerderspan” aangewys en was verantwoordelik vir verkiesingsveldtogte en spesiale projekte.
Kunene het na net sowat ’n maand uit die bestuur bedank. Hy sal glo egter steeds lid van die EFF bly. Hy kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Woordvoerders van die EFF wou ook nie kommentaar lewer op Kunene se bedanking nie.
Ndlozi het aan Sapa bevestig dat Kunene steeds ’n lid van die party is.
Kunene is haaks met ANC na ’n ope brief aan The Star waarin hy pres. Jacob Zuma as ’n “monster” en ’n “tiran” beskryf het. In die brief het Kunene gesê hy is ontnugter deur Zuma se leierskap.
Kunene se redes vir sy besluit is onbekend.