Die R3,90-plan – en hoekom dit miljoene gekos het

Deel op

Image"By die inboorlinge van die intellektuele oerwoud en vlakte wat vir 'n regering in ons land deurgaan, is daar min gedaantes wat meer ontsag afdwing. Vandag se Afrikaan in landsregering het vir die liberale akademikus, veral die ekonoom, dieselfde wanhopige en bygelowige respek as wat sy voorsate eeue gelede gehad het vir die bwana met sy khaki-helm, rybroek, lang stewels en 'n stok wat vuur spoeg." Lees Gustav Venter se eerste aflewering, waarna Harvardmanne en die ekonomiese raad wat hulle gee nooit weer dieselfde sal wees nie.

Deel op

Deel  I

En vir ons president: 'n bottel met 'n blou etiket, 'n pyp en 'n Harvardman

Hulle móés van Harvard kom, jy sien, Harvard en nêrens anders nie, en die bendeleier kon nie net nóg 'n ekonoom, nóg 'n akademikus, maar net nóg 'n syferkrakende statistikus wees nie. Hy moes, hy moes eenvoudig 'n Harvardman wees. As jy iemand 'n bloedige som geld betaal vir 'n jarelange studie waaruit:

-A- Jy 'n hoop dinge leer wat jy reeds weet;

-B- 'n Paar dinge uitvind wat jy nie wou weet nie en

-C- niks te wete kom wat jy móés nie,

dan beter hy van Harvard kom.

Yale is goed maar nie goed genoeg nie en Oxford, wie steur hulle deesdae aan wat uit Oxford kom? Daarom, toe dit tyd geword het, het die pyprokende, Shakespeare-prewelende president hom na die akademiese grofgeskut gewend. Hy het die Harvardman laat kom. Die president het 'n oud-kameraad wie se gedienstige politieke onttrekking met 'n paar miljard rand gekoop is. Die ander dag koop hy vir hom 'n Maybach-limousine, 'n soort van 'n peperduur über-Mercedes Benz. Hy doen dit volgens die stelreël dat as jy dit kan bekostig, is daar geen rede om 'n ander motor as 'n Maybach te koop nie. Dit hét nie styl nie. Dit ís styl.

Net so, as jy die president van die vier-en-twintigste grootste ekonomie in die wêreld is, en jy soek 'n groep internasionale deskundiges om die regering te adviseer, is daar geen rede om iemand anders as 'n Harvardman te kry nie. Hy hét nie styl nie. Hy ís styl. Sy elke beweging, sy presiese denke, sy algehele uitsprake, dit is alles so, so Harvard.

Kyk net na hom: Die Harvardman dra 'n wit hemp en polkakolletjiestrikdas saam met 'n tweed-baadjie met leerwerk oor die elmboë, langbroeke met hondetandweef en skoene wat nooit bloot as skoene bekend staan nie. Hulle is  altyd “brogues” of “loafers” of iets ewe uitlands. Die Harvardman ry niks so selfbewus ernstigs soos 'n BMW-sedan of 'n Cadillac nie. Hy ry 'n sestigs-SL-klas Benz of 'n pre-’67-Alfa Romeo Spyder – afslaankap natuurlik – en as hy tussen die boomryke kronkellane van die kampus deurswiep, wapper 'n wolserp om sy nek.

Terwyl hy ry en oplossings vir die wêreld bedink, trommel sy vingers op die diepverniste houtstuurwiel terwyl hy na 'n Bach-klawesimbelkonsert luister. Maar in die aande, in sy woonkamer, wanneer die ernstige slaphaar-, kweperlatlyfiedames en ander intense studente na sy dicta profunda – effe geskakeer met 'n poleerlagie ironie – luister, sit hy plat op die diep mat, een been effe onder hom ingekrul en die ander een reguit langs die sofa af, sy elmboog op die sitplek, sy kop in sy handpalm gestut terwyl hy sy Cognac – nooit brandewyn nie! – in 'n knoetsige kristalglas stadig teenkloksgewys roteer. Dan speel die Bang en Olufsen-hoëtroustel die twaalftonale musiek van Arnold Schönberg. En al klink dit vir jou soos 'n meubeltrok met 'n vrag klaviere wat teen 'n berg afrol, sal jy dit nie sê nie. Want jy is by die Harvardman.

Kan ons hierdie gestalte op vandag se Harvardman afdruk? Is vandag se weergawe nog steeds 'n tweed-en-brogues-tipe wat 'n Pagodadak-Benz ry en belangrike uitsprake met 'n Cognac-asem op die begeleiding van Schönberg maak? Ja, nee, miskien, dít is nie wat belangrik is nie. Dit is die status wat Harvard in vandag se wêreld het, wat belangrik is. Die heersende Westerse staatsfilosofie is grotendeels 'n maaksel van Harvard. As sosiale liberalisme 'n godsdiens is, is politieke liberalisme die liturgie daarvan en die Harvardakademici die hoëpriesters. Geen ander opvoedkundige stelsel het soveel bygedra om die vryemarkstelsel te balanseer met onbesonne, selfdienende filantropie nie. Levi-jeans en MacDonald-burgers is toe na alles nie Amerika se invloedrykste kulturele uitvoerprodukte nie.


Die Harvardman waarby ons ons gaan  bepaal, is nie eers regtig ʼn Harvardman nie; hy is eintlik 'n Cornellman want dís waar hy graad gevang het. Maar dis nie belangrik wat Ricardo Hausmann regtig ís nie; wat belangrik is, is mense op hoë vlakke dínk hy is. Hy hoef nie 'n lang, elegante kopvorm te hê met slap donker hare, grys langs die slape nie. En hy het nie. Hy het eerder 'n breë gesig met 'n hoë ronde voorkop, digte swart hare om die agterste helfte daarvan en grys muilbandbaard-en-snor met swart vlekke by die mondhoeke asof hy droplekker pruim.

Hy hoef nie 'n Alfa of 'n Jag te ry nie. Hy hoef nie tweed en brogues te dra nie en hy doen dit ook nie. Swier vir Hausmann is die Wall Straat-uniform van 'n donker snyerspak en 'n smal das met abstrakte patrone daarop. Sy musieksmaak is nie ter sprake nie – hy kan Achy Breaky Heart luister vir al wat ons omgee. Wat saak maak, is dat hy 'n akademiese pos by Harvard Universiteit beklee. By die inboorlinge van die intellektuele oerwoud en vlakte wat vir 'n regering in ons land deurgaan, is daar min gedaantes wat meer ontsag afdwing. Vandag se Afrikaan in landsregering het vir die liberale akademikus, veral die ekonoom, dieselfde wanhopige en bygelowige respek as wat sy voorsate eeue gelede gehad het vir die bwana met sy khaki-helm, rybroek, lang stewels en 'n stok wat vuur spoeg.

Om in hierdie akademiese toordokters – die Harvardmanne – se atmosfeer te wentel, om menings met hulle te wissel, om deur hulle ernstig opgeneem te word — hierdie is die tipe ding wat jou skoon duiselig laat word as jy enkele jare tevore nog oehoeroeslagspreuke op die looppas gedreunsing het met verflenterde kamerade in losflappende hemde en broeke wat met sisallyne vasgemaak is. Of as jy – en dié kloof is nog groter vanweë die voorstedelike glansloosheid daarvan –  jou bannelingjare uitgedien het in voorstedelike Engeland. En as jy nou 'n Shakespeare-prewelende, pyprokende landspresident met 'n Blue Label-whiskey-reputasie is, dan is jy veral vatbaar vir een of ander hygende, wimperwapperende tipe politieke kalwerliefde.

Al is jy 'n kalm, selfs stugge,  president, jy kan dit nie help nie. Harvardman laat jou terselfdertyd opgewonde en neerslagtig voel. As Harvardman maar net met jou eerlik wil wees. As hy maar net vir jou wil sê of hy dink julle vriendskap sal tot iets meer lei.

O ja, jy loop die Harvardmanne raak wanneer jy in dieselfde bane as hulle wentel by sulke spitsgeleenthede soos ekonomiese berade by Davos of 'n VN-georganiseerde kongres oor volhoubare ontwikkeling of wanneer jy jou jaarlikse uitstappie, fluweelbedelbakkie in die hand, na die G-8 beraad se buitewyke neem. A! vat dit kalm my trommelende hart!

Maar. Dis net. Dis net, as die president se infatuasie tog net tot 'n volgende vlak geneem kan word; as daar meer wederkerigheid is as die fatiese kommunie wat gepleeg word by dié skouerskuurdery. O, hulle is ernstig en gedienstig en eerbiedig in die presidensiële teenwoordigheid, maar dit is nou nie omdat sy akademies-liberale kentekens soveel ontsag afdwing nie. Hy het 'n nederige M. van die Universiteit van Sussex in Brittanje. 'n M! Sussex! Sussex is niks anders as 'n Harvard-wil-maar-wees nie. As jy – en die president is bitter maar eerlik hieroor – as jý van Harvard was, sou jy regtig geglo het dat daar enige iets goeds uit Sussex kan kom?

Maar, vervlaks!, jy ís iets wat húlle nie is nie. Jy is die president van die vier-en-twintigste grootste ekonomie in die wêreld en dit moet vir íéts tel, moet dit nie! En as hulle jou nie vir jou intellektuele slaankrag ag nie, sal hulle jou respekteer wanneer jy opdragte uitdeel; o ja, hulle sal! Jy moet hulle net in 'n posisie onderdanig aan joune kry. En dan, maak nie saak hoe slim of hoe van Harvard hulle is nie, dan moet hulle aan jou rapporteer.


Moet net nie dink dis maklik nie. Jy bel nie sommer net die Harvardman op en sê, “Hoor hier, wil jy nie hier by ons kom inval nie, jy weet, as ekonomiese adviseur of fiskale beleidsbeplanner of hoofmonetêre wloep-wlapkommissaris of wat ook al,” nie.

Hoekom nie? Wel, hy gaan nie sommer net ja sê nie, gaan Harvardman?

Akademici, vir al hulle ongeduld met mense in die praktyk, is heeltemal gerieflik ingeskrop in die onbesoedelde atmosfeer van hulle omgewings. Hulle is gewoond daaraan om met die sekerhede van teorieë en hulle eie ongetoetste opvattings te werk. Na alles, as hulle kon dóén, het hulle. Nou onderrig hulle maar.

Daar is soms uitsonderinge en Ricardo Hausmann was wel, kortstondiglik, een van hulle. Hy het die akademiese nes in 'n vlaag van idealistiese ywer verlaat en was selfs 'n kabinetsminister, in die Perez-regering van Venezuela. Hy is juis getaak om 'n plan vir die land se ekonomiese groei te ontwerp. Wat sy bydrae, of gebrek daaraan, ook al was, sy politieke loopbaan is verkool in die inferno van regeringskorrupsie en populêre anargisme wat die land getref het. Toe dat hy gaan nesskrop het in die klimopliga-uithoek in Boston.

Tog is dit by verre nie die enigste rede hoekom ons nie vir Hausmann bel en aanstel nie. Die waarheid is, hy sal as amptenaar op meer as een manier 'n vreemdeling in 'n vreemde land wees. Hy sal eenvoudig nie opgewasse wees vir die deurlopende politieke maneuvrering wat Afrikapolitiek aandryf nie. Die Harvardman, vir al sy netjiese akademiese politieke aanvoeling, het geen benul van die kultuur van Afrika nie.

Dié realiteite was ontmoedigend maar, vervlaks!, wat help dit as jy die president van die vier-en-twintigste grootste ekonomie in die wêreld is as jy nie jou Harvardman kan kry as jy jou Harvardman wil hê nie! So, as hy nie voltyds kan inval nie, miskien kan ons hom kry as ad hoc-adviseur. Nou praat jy! Laat hy 'n paneel saamstel, en laat hulle kom navorsing doen, en met mense praat, en met mekaar breinskrum, en syfers versamel, invoeg, buig, knars en deur formules pers en… hier’s die beste deel… dat hulle kom rapportéér. Hoe mooi is dit dan nie? Harvardman kom klop saggies aan die president se deur, maak sy keel beleefd skoon en… doen verslag.

Verslag, verslag… waaroor sal hy en sy paneel verslag doen? Dalk oor… of wag, sal dit nie beter wees as dit… of dalk…

En toe is daar… AsgiSA.

(word vervolg) 

игри для днвочектопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.