Chemiese aanval in Sirië eis meer as 1000 lewens

Deel op
Damaskus
Damaskus

Die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad het gesê ‘n verduideliking is nodig oor ‘n beweerde chemiese wapenaanval op burgerlikes in die voorstede van Damaskus Woensdag. Die Raad het nie uitdruklik gevra vir ‘n ondersoek deur die VN-ondersoekbeamptes in Sirië nie.

Die aanval kom te midde van ‘n besoek van VN-inspekteurs aan Sirië om bewerings van chemiese aanvalle deur sowel regerings- as rebellemagte te ondersoek en word beskryf as die ergste nog in die konflik wat reeds 29 maande duur.

Meer as 1 300 mense is Woensdag dood in aanvalle naby Damaskus.

Die Veiligheidsraad het na ‘n noodvergadering gesê duidelikheid oor die aanval sal verkry moet word.

Terwyl die Raad nie uitdruklik om ‘n VN-ondersoek gevra het nie, het die VN se sekretaris-generaal Ban Ki-moon daarvoor gevra. Lede wat graag Westerse ingryping in Sirië wil sien, het die oproep verwelkom.

“Die lede van die Veiligheidsraad verwelkom ook die vasberadenheid van die sekretaris-generaal om ‘n deeglike, onpartydige en vinnige ondersoek te verseker,” het Argentinië se VN-ambassadeur, Maria Cristina Perceval, voorsitter van die raad van hierdie maand gesê.

Sirië se opposisie het die Siriese president Bashar al-Assad se magte daarvan beskuldig dat hulle honderde mense, soveel as 1300, tydens ‘n aanval Woensdag dmv gas gedood het. Assad se regering ontken die gebruik van chemiese wapens.

Die Verenigde State van Amerika, Brittanje en Frankryk is van die sowat 35 lande wat vra dat die hoofondersoekbeampte Ake Sellstrom en sy span in Sirië die voorval so gou as moontlik ondersoek.

VN-diplomate egter gesê dat Rusland en China gekant was teen taal wat ‘n duidelike oproep vir ‘n VN-ondersoek bevat. ‘n Vroeëre Westerse verklaring, gesien deur Reuters, het gevra dat die Verenigde Nasies “dringend die stappe wat nodig is neem sodat die aanval ondersoek word deur die VN-sending.”

Rusland se ministerie van buitelandse sake het vir ‘n eerlike en professionele ondersoek gevra na berigte dat troepe lojaal aan Assad verantwoordelik vir die vermeende aanval was.

Moskou meen dat rebelle die beweerde aanval kon uitgevoer het om internasionale optrede uit te lok.

Dit was nie onmiddellik duidelik hoe die Siriese regering sal reageer op versoeke dat Sellstrom se span die beweerde voorval ondersoek nie. 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.