Cosatu, ANC dreig Hoër Volkskool Heidelberg met “3000-man-optog”

Deel op
Die landloopspan van Hoër Volkskool Heidelberg
Die landloopspan van Hoër Volkskool Heidelberg

Cosatu, tesame met die ANC en die SAKP, dreig die Hoër Volkskool Heidelberg met massa-optrede ná ‘n tugverhoor wat aanbeveel het dat ‘n swart leerling geskors word.

Volgens ‘n berig in ‘n plaaslike koerant, beplan “3000 lede van die ANC en sy alliansievennote Cosatu en die SAKP, om na Hoër Volkskool te marsjeer om beswaar te maak teen dít wat hulle as ‘rassisme’ by die skool beskou. Die optog, wat deur die South African National Civic Organisation (SANCO) en die Lesedi Education Forum ondersteun sal word, word vir eerskomende Vrydag beplan, waartydens die optoggangers hoop om ‘n memorandum met hul eise aan ‘n verteenwoordiger van die onderwysdepartement te oorhandig.”

Die betrokke swart leerling is deel van ‘n groep wat gestraf word weens ‘n bakleiery wat by die skool uitgebreek het. Anders as die ander, het hy egter ‘n baksteen opgetel en na ander leerlinge geslinger wat ‘n ernstige besering kon veroorsaak het. Volgens mnr. Daan Marx, adjunkhoof by die skool, dien die res van die leerlinge – swart en wit – ander strawwe uit, o.a. detensie.

‘n Werknemer van die munisipaliteit op Heidelberg het aan praag gesê dat die Cosatu-groep reeds oor toestemming beskik om Vrydag by die skool te gaan betoog. Omdat die leerling wat moontlik geskors gaan word, swart is, word ‘n rassekleur aan die gebeure gegee.

Die bakleiery tussen wit en swart leerders het aanvanklik met ‘n stoeiery begin, waarna dit in ‘n soort bendegeveg ontaard het.

Doodsdreigemente

‘n Memorandum het ook gesirkuleer met die bewering dat swart leerders van die blanke leerders met die dood gedreig het. Volgens ‘n ouer hou dit verband met die geskorste swart leerling wat sowel mede-leerlinge as ‘n onderwyser met die dood sou gedreig het. Hy het ook na bewering gesê: “Julle wittes is nog gelukkig om te leef.”

Sowel die polisie as die plaaslike GPF is van die betoging in kennis gestel en sal Vrydag teenwoordig wees. ‘n Groep ouers is ook besig om te organiseer om hul kinders by die skool te gaan beskerm.

Die demografie van Hoër Volkskool Heidelberg is tans ongeveer ‘n vyfde tot ‘n kwart swart, teenoor die res wat blanke Afrikanerkinders is. Mnr. Daan Marx sê: “Ons keur enige vorm van bakleiery by die skool ten sterkste af en daarom het ons streng teen die leerders opgetree.”

Die toitoigroep beplan om van die ou Stadsaal na Jacobsstraat, waar die skool geleë is, te stap.

Mnr. Patrick Craven, die nasionale woordvoerder van Cosatu, kon nie bevestig of ontken dat so ‘n betoging gaan plaasvind nie. By Cosatu se hoofkantoor in Johannesburg is hulle nie van so iets bewus nie.

“Dit kan lede van die plaaslike gemeenskap wees wat daarby betrokke is,” het hy by navraag aan praag.co.za gesê.

‘n Ouer het sterk oor die saak gevoel: “Ons en ons kinders moet ons nie deur hierdie soort gedrag laat intimideer nie. Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap van Heidelberg en elders om ons te ondersteun en ons kinders teen verdere boewery te beskerm.”

Hoër Volkskool Heidelberg. Foto: looklocal.co.za
Hoër Volkskool Heidelberg. Foto: looklocal.co.za

Geskiedenis

Die skool is reeds meer as honderd jaar oud en het aanvanklik uit weeskinders ná die Tweede Vryheidsoorlog bestaan. Op die skool se webblad onder “geskiedenis” is die volgende te lese:

“Die Anglo-Boereoorlog word beëindig met die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902. Een van die gevolge van die Anglo-Boereoorlog was baie weeskinders (ook in Heidelberg-distrik). Die weeskinders word nie opgeneem in een van die twee bestaande skole op Heidelberg nie, want beide is onder Engelse beheer (regeringskole). Ds. A.J. Louw tree op deur die  kelderkamer vandie  Klipkerk (ook bekend as die  ”Grot van Abdullam”) as klaskamer beskikbaar te stel met Mejj. Anna Basson en Katie Human as leerkragte.

Verset teen die Engelse se onderwysstelsel neem toe en C.N.O.-skole word gestig. In Heidelberg word die C.N.O-skool gestig Julie 1903 met die naam ‘Volkskool’ en mnr. T.A. Dönges as hoof. Benewens die kelderkamer word die Van Belkum-saal ook as klaskamer gebruik.

Die toename in leerders maak ‘n skoolgebou noodsaaklik. Dit word moontlik gemaak deur die skenking van geld en n groot erf deur die broers D. en W. Bezuidenhout en hul swaer C. Meyer. Die hoeksteen word 27 Oktober 1906, deur genl. Schalk Burger gelê. Die inwyding het plaasgevind op 11 Januarie 1907, en op 15 Januarie 1907 is die gebou in gebruik geneem.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.