SA graankrisis neem toe

Image

Koringplaas

Suid-Afrika staar nóg ‘n krisis in die gesig, dié keer in die graanbedryf. ‘n Moontlike voedseltekort dreig met die stygende voedselpryse en die afname in plaaslike graanproduksie.

Die probleem is te wyte aan verskeie faktore, maar hoofsaaklik as gevolg van die regering se besluit om die buiteland ook op die plaaslike mark te laat meeding.  Ander bydraende faktore wat dit byna onbekostigbaar maak vir graanboere is vervoer en die verval van infrastruktuur in Suid-Afrika, soos byvoorbeeld spoorwegvervoer wat, hoewel goedkoper, onprakties geword het.

Volgens die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens het graanproduksie vanaf 2,5 miljoen ton in 1997, tot 1,8 miljoen verlede jaar gedaal.

Mnr. Nico Hawkins, bestuurder van Graan Suid-Afrika (GSA) se nywerheidsdienste, sê die regering het in die 1990’s begin wegbeweeg van ‘n selfonderhoudende beleid sover dit voedselproduksie betref.  Die nuwe voedselbeleid bring kortom mee dat:  “solank as wat voedsel goedkoper op die internasionale mark is as die produksiekoste in Suid-Afrika, gaan dit nie lonend wees om dit self te verbou nie”.

GSA doen nou ‘n beroep op die regering om invoertariewe te verhoog.  Hawkins verduidelik dat die vryemarkstelselbeleid dit moontlik maak vir die regering om tariewe te gebruik om boere te beskerm ten tye van lae winsgewendheid.

“Ons (die GSA) het die regering al in 2006 gevra om invoertariewe te verhoog, maar hulle het geweier.  Dit het tot gevolg gehad dat die plaaslike mark nie beskerm was nie en sommige boere is ontmoedig om verder te boer,” sê Hawkins.

Mnr. Hans van der Merwe, die besturende direkteur van AgriSA, meen weer dat verhoogde invoertariewe nie die antwoord is nie.  Ontwikkelende lande kan eenvoudig net nie meeding met die subsidies wat die staat aan reeds onwikkelde lande se boere betaal nie.  Deur te probeer om daardie subsidiebedrae te ewenaar, gaan dit in elk geval voedselpryse die hoogte in laat skiet. 

Van der Merwe sê: “Dit gaan heeltemal onbekostigbaar word vir arm mense om kos te koop, as die invoertariewe verhoog word.  Die belangrikste is egter dat alhoewel subisidies steeds aangewend word in ryker nasies om hul landbousektor te ondersteun, is dit teen die gees en reëls van die Wêreldhandelsorganisasie”.

Volgens mnr. Jannie de Villiers, besturende direkteur van die Meulenaarsvereniging, dra die steeds verslegtende toestand van Suid-Afrika se infrastruktuur ook by tot die groeiende graankrisis.  “In 1985 is 85% van Suid-Afrika se graan per spoor vervoer.  Vandag is dit net 50% daarvan, ten spyte van die feit dat padvervoer 30% duurder is,” sê De Villiers.

Nóg ‘n bydraende faktor tot die krisis is as gevolg van ‘n tekort aan navorsing op dié gebied.  Ferdi Meyer, ‘n senior lektor aan die Universiteit van Pretoria in landbou-ekonomie sê:  “Navorsing en ontwikkeling het so te sê heeltemal ineengestort as gevolg van beperkte fondse en swak bestuur die laaste paar jaar.  Baie min navorsing word nog gedoen met minimale finansiële ondersteuning van privaat instellings.”справка о болезниАлександр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.