Akademie ‘transformeer’, skryf Wannie Carstens

Deel op
Prof. Wannie Carstens van die Potchefstroom-kampus
Prof. Wannie Carstens van die Potchefstroom-kampus

deur Wannie Carstens

Die SA Akademie is ook gebonde aan die tyd waarin ons vandag leef en daarom is daar druk op ons om aan te pas by die tydvak. Ons kan nie voortgaan soos aan die begin van die 1990’s nie. Die land het bloot te veel verander sedert 1994.

As liggaam transformeer ons, maar nie net in die betekenis waarin die ANC-regering van die dag die woord “transformeer” beskou nie, naamlik verander die rassesamestelling van die organisasie om die demografie van die land te weerspieël. Die Akademie moet beslis ook in hierdie verband verander en dit word volgens ‘n plan gedoen – as ons dit nie doen nie, gaan ons onsself as liggaam irrelevant maak vir die Afrikaanse gemeenskap omdat die Afrikaanse gemeenskap nie net wit is nie, ook nog nooit was nie. Ons wil hê dat die Akademie uiteindelik die demografie van die Afrikaanse gemeenskap sal ver­teenwoordig. Ons vra daarom Akademielede se steun en ondersteuning op hierdie pad.

Ons transformeer ook in ons denke, d.w.s. ons kyk na die wyse waarop ons die Akademie posisioneer in hierdie land, na ons eie manier van doen as liggaam. Doen ons die regte dinge op die regte manier en op die regte tyd? Dit is kernvrae waaroor die lede van die SA Akademie asook die Raad konstant moet besin. Hoe kan ons te werk gaan om bydraes van gehalte te lewer daar waar ons is? Hoe kan ons ons unieke Afrikaanse kundigheid aanwend in die beste belang van hierdie ‘wye en droewe land’, aldus N.P. van Wyk Louw?

My beroep is daarom die volgende: dat werkgemeenskappe sal besin oor wat hulle in werkgemeenskapsverband, maar ook in individuele en persoonlike verband, kan doen om hierdie land waarvoor ons almal so lief is, te laat werk sodat ons kan weet ons het ‘n unieke bydrae gemaak. Ek weet van talle lede van die SA Akademie wat enorme bydraes maak tot die welsyn en welvaart van die land, maar kom ons besin opnuut oor hoe ons dit dan nog beter kan doen.

Die volgende keer gee ek terugvoer oor internasionalisering en waar ons tans daarmee staan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.