Die SAPD – ?n misdaadorganisasie?

Imageʼn Kommunistiese staat oorhandig sy burgers aan die mag van rowers – Alexander Solsjinitsin.

Dit het tyd geword dat ons vra wie in dié kommunistiese Suid-Afrika werklik die rowers is.  Wie tel almal onder die misdadigers wat tans terreur teen ons landsburgers voer? Niemand sal dit betwis dat daar vanaf ons buurstate daagliks ʼn beduidende aantal roofgieriges insypel nie, en wat hoofsaaklik as gevolg van werkloosheid en armoede steel en moor onder Suid-Afrikaners. Mens kan sê dat dit nog begryplik is onder ʼn Afrika-kommunistiese regime soos die ANC met hul verslapping van immigrasiebeheer. Maar die groot aantal misdadigers in ons land wat die voorreg het om besoldigde lede in magsposisies soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens te wees, is onverskoonbaar.

 

In 2000 berig die Mediese Navorsingsraad dat 20 000 polisielede oor misdaadkrekords beskik. In Beeld van 9 Mei 2008 word genoem dat die destydse teenkorrupsie-eenheid in 2000, 1 048 polisielede vasgetrek het waarvan net 193 uiteindelik veroordeel is.  Ook dat daar tussen 1996 en 2001, 23 000 ondersoeke gedoen is deur die eenheid, en uiteindelik 3 200 polisielede in hegtenis geneem is. In 2002 is hierdie ondersoekeenheid summier ontbind onder leiding van Jackie Selebi wat tans self tereg staan op aanklagte van korrupsie, asook sy bande met georganiseerde misdaad. Die rede vir die ontbinding volgens Selebi was kwansuis dat dit oorbodig was aangesien die eenheid vir georganiseerde misdaad dieselfde funksie verrig.

As gevolg van die publiek se toenemende klagtes oor die stygende misdaadsyfers in ons geteisterde land, stel Selebi ongeveer twee jaar later ʼn 30-bladsye “Plan vir die Voorkoming van Korrupsie en Bedrog” op en stel die SAPD se hoof van strategiese bestuur, George Moorcroft, in beheer van hierdie teenkorrupsieplan. Nou in 2008 is dit nog steeds nie ten volle geïmplimenteer nie. Volgens Moorcroft moet daar nog ʼn nuwe dossierstelsel ingestel word wat die diefstal van misdaaddossiere glo sal bekamp, ʼn stelling wat opsigself ʼn erkenning van volgehoue misdaad in polisiegeledere verteenwoordig.

Polisiewoordvoerder Selby Bokaba verdedig Selebi se plan deur te beweer dat die ou eenheid bloot ondersoeke gedoen het terwyl die nuwe plan die volle omvang van die probleem sal aanspreek.  Het die ou ondersoek-eenheid dalk te veel ontdek tydens sy gespesialiseerde ondersoeke?

Nog ʼn opvallende wending ná die ontbinding van die ou ondersoek-eenheid, was dat die klem wat op die hoë korrupsiesyfer geval het, verdoesel moes word. Vroeër is alle strafregtelike sake in die polisie as korrupsie geklassifiseer, daarom was die syfer hemelhoog.  Om die publiek te probeer sus, is die skorsing van polisielede nou opgedeel in verskeie kategorieë waarvan die korrupsiesyfer net ʼn klein persentasie uitmaak. Ander skorsings word onder hoofde soos omkopery, meineed, bedrog, vervalsing en nog andere gekategoriseer. So was dit dan moontlik om voor te gee dat die korrupsiesyfer in die polisie drasties gedaal het die afgelope paar jaar en is die ontbinding van die ou ondersoek-eenheid voorgehou as die rede daarvoor. Volgens die voorlopige syfers vir 2007-2008 is daar slegs 110 polisielede geskors op aanklagte van korrupsie. Dr Liza Grobler, ʼn kriminoloog wie se doktorale proefskrif juis oor die misdaad in polisiegeledere gehandel het, se siening van hierdie klemverskuiwing lui soos volg:

As jy wil kyk hoe diep die vrot loop, kan jy al die polisielede se misdade kategoriseer as korrupsie weens die aard van hulle werk en die magte wat hulle het. Hulle is nie soos gewone misdadigers nie.

Dit is duidelik dat die SAPD nie van plan is om afsonderlike ondersoekeenhede soos byvoorbeeld in New York en Londen die praktyk is, te duld nie en sal aanbevelings daarvoor ten alle koste beveg. Moorcroft en Bokaba het ʼn gerieflike skuiwergat raakgesien en is dit eens dat ʼn spesiale eenheid om die SAPD te ondersoek kwansuis ʼn bykomende las op hulle beskikbare hulpmiddels sal plaas aangesien daar reeds so ʼn hoë vlak van misdaad in die land is – die polisie, wat ʼn beduidende deel van die self-erkende hoë misdaadsyfer van die land uitmaak, mag nie ondersoek word nie! Daar word wel troosopsies voorgehou soos dat verskillende stede en dorpe se polisiestasies mekaar sal ondersoek in geval van klagtes waar dit nodig blyk en dit daarmee voortaan die SAPD se plan is om hulself te polisieer.  Dr Grobler verwoord dit uitstekend wanneer sy stel dat dit ʼn gekke konsep is wat totaal indruis teen enige internasionale norm, dat dit selfs lagwekkend vir die publiek moet wees om te hoor van die polisie se plan om homself te polisieer.

ʼn Senior navorser van die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening, David Bruce, het ook intensiewe navorsing gedoen oor die SAPD se polisiëringsmetodes.  Sy bevinding is dat daar geen sistematiese optrede teen korrupsie is nie en dat die polisie vrot van korrupsie is as gevolg van die konsep van ʼn parallele loopbaan waardeur baie polisielede reeds in die eerste week ná aanstelling misdadigers word.  In sy ondersoek het hy onder andere by een gevangene verneem dat dié as polisieman 17 jaar lank doenig was met voertuigkapings, ʼn prostitusienetwerk, inbrake en vals vuurwapenlisensies voordat hy aangekeer is.

ʼn Ander verdoemende feit is dat die polisie by die stasie waar hierdie misdadiger nagskof gewerk het, net gereageer het as die plaaslike bende hulle ontbied het aangesien daar betaling aan verbonde was.  Ander oproepe deur die publiek is meestal geïgnoreer. Daar was talle ander gevalle wat die afgelope paar jaar deur die media gedek is waar klagtes deur die publiek op dieselfde situasie gedui het.

Die rede waaroor die R100 miljoen-saak teen die Benoni-polisiekantoor in Februarie in duie gestort het, moet ook ingedagte gehou word – die belangrikste getuies is ál vier vermoor, net soos die vrou wat Januarie in ʼn saak teen twee polisielede van Booyens sou getuig. Wanneer ʼn brawe senior polisieman die afgelope week self aan die media vertel waarom polisiemisdaad nie sonder meer deur mede-polisielede verklap sal word nie, verstaan mens dat die ware toestand verswyg word uit vrees vir hul lewens. Dit gee ook ʼn aanduiding van die doeltreffendheid en omvang waarmee korrupte polisielede hul skrikbewind voer.

 

Wanneer onafhanklike navorsers en kriminoloë ná deeglike ondersoek die polisie se sogenaamde lae korrupsiesyfers openlik verwerp, het die inwoners van Suid-Afrika ernstige rede tot kommer, veral met die oog op die duisende bykomende polisielede wat daar teen 2010 aangestel gaan word. Wanneer Moorcroft daarby erken dat mense in die polisiekollege met vals sertifikate betrap word, hoef ons nie te twyfel oor wat vir ons wag in die komende kraglose, donker Suid-Afrika tussen massas korrupte polisie wat veronderstel was om ons te beskerm maar onder die ANC ʼn vertakking van georganiseerde misdaad geword het nie.

 

встраиваемые светильники называемые

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.