Voedsel en voeding

Deel op

ImageOp 28 April 2008 breek onluste uit in Mogadisho. Duisende Somaliërs, waaronder baie vroue en kinders, hardloop in protes deur die strate, breek winkeldeure af, en beskuldig verbouereerde handelaars van uitbuiting. Ten minste vyf mense sterf in die onluste toe die Somaliese weermag en gewapende handelaars met van die skare oproeriges slaags raak.

Nog ‘n dag in Afrika?  Of nie? In Haïti eet mense modderkoekies. Dit word gebak uit ‘n eetbare geel modder wat uit Haïti se sentrale plato gegrawe word. In die land se Cité Soleil-krotbuurt bak mense soutkoekies uit ‘n mengsel van grond, sout en kookolie. Die geel modderkoekies, en die modder soutkoekies, is ook nie gratis beskikbaar nie. Dit word verkoop teen ongeveer vyf per rand en veroorsaak nie net wanvoeding nie, maar dra ook parasiete oor aan mense wat dit eet.

Deel op
Daar is gerugte van onluste in die Fillipyne, in Indonesië, in Peru en in Sri Lanka.

Die rede vir al die onluste? Rys.

Niemand is seker oor wat besig is om verkeerd te loop nie. Die droogte in Australië word as ‘n rede voorgehou, of Fillipynse rysboere word daarvan beskuldig dat hulle rys opgaar en van die mark afhou, terwyl Indië openlik verklaar dat rys strategies opgegaar gaan word om moontlike tekorte in die toekoms af te weer. Verder moet lande soos Japan en Suid-Korea skielik rys en ander boon- en graanprodukte invoer, en is hulle nie meer selfvoorsienend nie.  

In Haïti se groot families in krotbuurte het lewe ontaard in ‘n nagmerrie. Daar is nie kos nie, daar is nie skoon water nie. Lewens is kort en goedkoop, en sosiale kapitaal bestaan nie. Haïti se honger onderklas protesteer in Port-au-Prince, brand motors uit, verwoes en besteel winkels, en het selfs die presidensiële paleis probeer bestorm.

Die desperate omstandighede in Haïti is nog nie die norm nie, maar dit is ‘n voorbeeld van die desperate omstandighede wat heers as voedseltekorte begin byt. Die berge kaas en tenkwaens vol melk in die Europese mark van weleer, en die suiers vol graan in die Suider- en Noord-Amerikaanse platteland, begin nou na ‘n vergete oomblik lyk. Koerante en kommoditeitshandelaars berig oor tekorte in koring, mielies, sojabone, terwyl vleis onbereikbaar vir die meeste van die wêreld se mense bly. Met die tekorte in graan styg pryse meedoënloos om dit buite bereik van meer en meer van die wêreld se arm mense te plaas. Oor die afgelope jaar het pryse vir rys, koring en sorghum ten minste verdubbel, en in sommige gevalle vervyfdubbel. Die prys van rys het net in die laaste maand met ongeveer 40% gestyg.

Stygende pryse vir ‘n produk soos rys is normaalweg die gevolg van of ‘n toename in aanvraag na rys, of ‘n afname in produksie van rys, of albei. Dit is bekend dat rysproduksie nie afgeneem het oor die laaste dekade nie, behalwe in Australië, waar ‘n droogte rysverbouing tot stilstand gebring het. Daar is egter ander makroskopiese ontwikkelinge onderliggend aan rys en ander voedsel- en graantekorte. Ten eertse word ‘n groeiende aantal mense in Sjina en Indië sodanig ryker dat hulle meer en beter kos op die internasionale mark koop. Dit verhoog die aanvraag en stoot pryse op. Ten tweede is daar Westerse investering. Westerse beleggingsfondse wat eens in huise en ander vaste beleggings geïnvesteer was, word nou meermale gebruik om op die kommoditeitsmark te spekuleer. Meer geld jaag dus na kommoditeite, en dit stoot die pryse op. Laastens, en in ‘n mindere mate, is daar biobrandstof en stygende oliepryse wat of graan uit die voedselketting neem, of wat andersins produksiekostes verhoog. Terwyl laasgenoemde effek waarskynlik die minste bydra tot die huidige prysstygings, is dit ook waarskynlik ‘n permanente effek wat net gaan toeneem met tyd.

Westerse lande het histories groot hoeveelhede graan en ander kos op die wêreldmark beskikbaar gemaak as hulp aan die derde wêreld. Goedkoop of gratis graan, met die netjies gedrukte letters “gift from the people of X” waar “X” Australië, of Nieu-Seeland of Kanada, of selfs die VSA is, is ‘n geykte beeld wanneer daar in die Weste oor hulp aan die Derde Wêreld, en veral aan Afrika, gepraat word. Hongersnood in Etiopië en in Kameroen, in lande soos Liberië, is histories deur Westerse skenkings verlig. Rock-konserte deur Live Aid,  noodhulp deur CARE, en menige ander Westerse organisasies, hou duisende mense in die Weste besig met hulp en samel geld in om Westersgeproduseerde graan aan te koop en te verskaf aan honger Afrikalande. Die honger kontinent, die geykte beeld van ‘n honger kind met ‘n bedelbak, is diep in die Westerse persepsie ingeskroei. Maar as beskikbare graan in die Weste in etanol omskep word, sal geen Live Aid of CARE geld die graan vind nie, die geykte beeld ten spyt.

Daar is geen sekerheid oor die beskikbaarheid en pryse van rys en graanprodukte oor die korttermyn nie. Veranderinge in die wêreld se produksie van graan het met intensiewe landboupraktyke in die twintigste eeu ‘n historiese rewolusie in voedselproduksie veroorsaak, wat goedkoop hoë kwaliteit produkte op supermarkte orals in die wêreld beskikbaar gemaak het. Die rewolusie was grotendeels te danke aan goedkoop ru-olie (in die vorm van diesel), en goedkoop kunsmis (wat meermaals uit aardgas of uit ru-olie vervaardig word). Pesbeheer vorm ‘n derde been in die landbourewolusie, en die resultaat was dat baie kos deur min mense baie effektief geproduseer is.

Die direkte gevolg van die rewolusie was ‘n aanpassing in die wêreld ekonomie. Die persentasie mense wat primêr met voedselproduksie gemoeid was, het afgeneem. Dit het mense in staat gestel om te verstedelik waar hulle ekonomies gespesialiseer het om ander dele van die ekonomie ontwikkel. Die gevolg was snelgroeiende bevolkings in komplekse en groeiende ekonomieë wat soms fantastiese rykdom geproduseer het. Effektiewe produksie, preservering en verspreiding van kos het lewensstandaarde baie in die Westerse wêreld verhoog. Dit was nie meer nodig om op die plaas te swoeg nie want mense kon spesialiseer in die ekonomie en steeds ‘n vol maag en hoë lewensstandaard handhaaf.

Die landbourewolusie het dus ‘n bevolkingsontploffing en verstedeliking gebaar, en die psigologiese ervaring van voedsel en voeding het verskuif van plase tot in supermarkte. Voedsel is vir meeste mense vandag iets wat volop, en taamlik goedkoop, verkrygbaar is. Resepte uit vervloeë dae om kos te preserveer, hetsy as konfyt, of biltong of droë vrugte, hetsy as soutvleis en dies meer, het in sekere gevalle verander in ‘n restaurant se deftige gereg, waar eters hulleself in die wêreld se stede neerplak om lippe af te lek sonder om die vaagste benul te hê oor die groot en komplekse samewerking tussen die natuur en ekonomiese beginsels onderliggend aan die voedsel wat hulle geniet.

En dit bring ons terug by rys. Met die Amerikaanse dollar se verswakking het Sjinese beleggers die dollar begin verkoop, en begin kyk na ander meganismes om hulle nuutgevonde (relatiewe) rykdom te investeer. Die geld het in die kommoditeitsmark gevloei en rys is aangekoop. Dit aanvraag is opgestoot en kunsmatige tekorte is daardeur veroorsaak. Armer lande soos Indonesië en die Fillipyne, wat rys moet invoer, kan dit nou nie meer teen ‘n billike prys doen nie, en die gevolg is duur en minder rys, en onluste.

Intussen is die duur pryse van rys en graan besig om ‘n politieke ondertoon te verkry, met die Westerse wêreld aan die een kant teenoor ‘n meer onseker en honger Derde Wêreld aan die ander kant. Dit is veral Westerse vervaardiging van biodiesel uit oliesade en etanol uit mielies wat waarnemers in die Derde Wêreld erg ontstig. Biobrandstof verminder die beskikbare hoeveelheid graan op die wêreldmark, en maak minder graan beskikbaar vir noodlenigingshulp aan hongersnoodgeteisterde wêrelddele.  Dit stoot die pryse van graan verder op, met die gevolglike sosiale onrus in armer lande.

Intussen verhoog die prys van ru-olie, en dus ook van diesel en ander brandstof, as gevolg van die groei in aanvraag en die vermindering in beskikbare bronne. Dit veroorsaak verhogings in produksiekoste, en plaas ‘n absolute perk op die hoeveelheid graan en ander landbougewasse wat geproduseer kan word. Vir elke ton mielies wat geproduseer word, is ‘n sekere aantal liters diesel nodig. Verminder die diesel, of die kunsmis, en minder mielies groei. Daar is voorspellings dat die wêreldbevolking teen 2050 met 50% gaan groei van die huidige ses miljard tot ongeveer nege miljard. In dié konteks van afnames in ru-olie produksie, en toenames in die produksie van biobrandstof in Westerse lande om die brandstof tekort te verlig, begin dit al moeiliker lyk om nege miljard mense te voed. Inteendeel, dit blyk dat baie lande hongersnood en ontbering in die gesig gaan staar, en dat ons op die vooraand van permanente voedseltekorte staan.   

Dit is in hierdie internasionale konteks dat Robert Mugabe se vernietiging van produserende plase in Zimbabwe en die komende grondhervorming in Suid-Afrika verstaan moet word.

Soos hierbo opgemerk, het die landbourewolusie baie mense van die arbeid op plase verlos.  Hulle het verstedelik en gespesialiseer, en in baie gevalle merkwaardige tegnologiese en kulturele beskawings gebou. Die vernietiging van kosproduksie in Zimbabwe het die proses ten minste daar omgekeer, en selfbehoud in Zimbabwe beteken dat Zimbabweërs vandag teruggekeer het na 'n primitiewe toestand waar voedselverkryging die primêre daaglike aktiwiteit is.

Die situasie in Suid-Afrika is dalk net so ongebalanseerd. Voorgestelde grondhervorming, en die gevolglik gepaardgaande afname in voedselproduksie, wat verder ook deur tekorte in ru-olie produksie vererger sal word, kan katastrofiese voedseltekorte veroorsaak.  Die persepsie dat voedsel in die algemeen, en dat die fantastiese hoeveelhede graan en rys wat die wêreld produseer, maklik is, of maklik volgehou kan word, is vals. Suid-Afrika se posisie is ook baie meer riskant as wat algemeen aanvaar word. Daar is geen nabygeleë staat wat Suid-Afrika kan voed in die geval dat haar voedselproduksie afneem weens die ANC se politiek of selfs weens ander ekonomiese of fisiese faktore nie. Die waarheid is baie meer ontstellend, en die situasie baie meer kompleks.  

Die ANC regering glo skynbaar steeds dat voedsel maklik deur enige iemand op omtrent enige plek in groot hoeveelhede geproduseer kan word, terwyl hulle punte aanteken oor hoe en aan wie plase moet behoort en dat daar te veel wit boere is. Daarbenewens word hulle geskiedenis op die koop toe as irrelevant afgemaak.

Voedsel is natuurlik nog steeds beskikbaar by die naaste supermark terwyl u hier lees. Maar vir hoe lank?

трековые светильники екатеринбургФильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.