Skaars ‘n week nadat ‘n gesin van Kenmare, Krugersdorp, al hulle besittings in ‘n huisbrand verloor het, is die besittings van nog ‘n gesin in dié area ook deur ‘n brand verwoes.
Elaine du Preez, ‘n buurvrou van die huis in Howthweg wat aan die brand geraak het nadat vlamme van ‘n veldbrand daarheen versprei het, vertel dat sy voor 3nm op 7 Augustus gesien het hoe die veld in die omgewing van die Donegal Villas kompleks brand.
“Skaars ‘n halfuur later was die vuur in die vallei. ‘n Sterk wind het die vlamme teen die huise gewaai en ons het die plante natgespuit toe ons sien hoe sterk die vlamme is.”
Sy sê daar was toe reeds vier brandweermanne met kannetjies water op hulle rûe wat ‘n oog oor die vuur gehou het.
“Die mense langs ons se lapa het eerste aan die brand geraak. Ons het dit probeer natspuit, maar dit het nie gehelp nie.”
Die hitte het die huis se ruite laat bars en in die tussentyd het die vlamme na ‘n grasdak lapa op die stoep versprei wat die huis laat vlamvat het.
Die eienaars was nie tuis nie en die diere op die perseel is nie beseer nie.
Du Preez sê een van die bure het aan haar gesê dat sy 12 oproepe na die brandweer gemaak het en dat hulle na bewering ook verdwaal het.
“Iemand moes hulle na die huis bring, maar dit was toe reeds te laat aangesien die huis reeds afgebrand het.”
Gerhardt Nieuwoudt, die streeksbevelvoerder van die nooddienste by die Wes-Randse Distriksmunisipaliteit bevestig die voorval en sê twee brandweerwaens asook ‘n Land Cruiser is na die veldbrand by die Donegal Villas kompleks gestuur en het het teen 3.51nm daarvan bewus geword dat ‘n huis aan die brand geraak het.
“Daar was ‘n probleem met die brandkrane wat nie in plek was nie en toe was. Die brandweerwaens het rondgery om na water te soek.”
Hy sê daar was die volgende dag ook ‘n veldbrand naby Howthweg.
“Die brandweer is daarheen ontbied nadat hulle ‘n oproep teen 11.52vm ontvang het en was teen 12.15nm op die toneel waarna die vuur dadelik geblus is.”
Na hierdie insident is die brandweer na die toneel van nog ‘n brand in die Magaliesburg-area. – looklocal.co.za