Egiptiese Islamiste val kerke aan

Deel op
Brandende Koptiese kerk in Egipte
Brandende Koptiese kerk in Egipte

deur Hamza Hendawi

Nadat Islamiste ‘n Fransiskaanse skool aan die brand gesteek het, is drie nonne soos “krygsgevangenes” op straat geparadeer alvorens ‘n Moslemvrou haar oor hulle ontferm het. Twee ander vroue wat ook by die skool werksaam was, is seksueel geteister en aangerand terwyl hulle deur die massas probeer beweeg het.

In die vier dae sedert die veiligheidsmagte twee sitstakingkampe van die afgesette Egiptiese president se ondersteuners ontruim het, het Islamiste dosyne Koptiese kerke, tesame met besighede en skole wat aan die Christen-minderheid behoort, aangeval. Dit wil voorkom of  die intimidasieveldtog daarop gemik is om die Christene wat nie in Kaïro is nie, te waarsku om nie by politieke aktivisme betrokke te raak nie.

Die Moslemmeerderheid in Egipte het al in die verlede teen die Christene, wat slegs 10% van die bevolking van 90 miljoen uitmaak, gediskrimineer en geweld gepleeg. Aanvalle het egter toegeneem nadat die Islamiste mag verkry het met die Arabiese Lente-opstand in 2011 wat Hosni Mubarak uit die politieke stoel gelig het. Christene het nog meer deurgeloop nadat president Mohammed Morsi op 3 Julie onsetel is, iets wat toenemende Islamiste-woede onder leiding van Morsi se Moslembroederskap ontketen het.

Chaos het ontstaan nadat die Egiptiese militêr-gesteunde administrasie inbeweeg het om die twee kampe met betogers te ontruim. Dit het daartoe gelei dat betogers wat op Morsi se heraanstelling aangedring het, doodgeskiet is, maar ook tot toenemende, landwye konfrontasies. Sedert Woensdag is ongeveer 40 kerke geplunder en aan die brand gesteek, terwyl 23 aangeval en beskadig is.

Een van die wêreld se oudste Christengemeenskappe wat tot dusver nie polities aktief was nie, het ook tot die politieke arena toegetree nadat Mubarak ontsetel is en Christene op regverdige behandeling ná die onrus begin aandring het.

Baie Morsi-ondersteuners beweer dat Christene ‘n disproposisionele groot rol tydens die dae van massabetogings gespeel het, met miljoene wat geëis het dat Morsi moes bedank voor die regering nog omvergewerp is.

Ten spyte van die geweld, het Egipte se Koptiese Christenkerk Vrydag sy onderdanigheid aan die nuwe politieke bedeling hernu en in ‘n verklaring gesê dat hulle die weermag en polisie in hul stryd teen “die gewapende gewelddadige groepe en swart terrorisme” ondersteun.

Al het Egiptiese Christene onder ekstremistiese aanvalle deurgeloop, het hulle in sommige gebiede meer aansluiting by gematigde Moslems gesoek om sodoende hul solidariteit te betoon.

Honderde mense uit beide gemeenskappe het by twee kloosters in die Bani Suef-provinsie, suid van Kaïro, saamgedrom om verwagte aanvalle Saterdag af te weer, het ‘n plaaslike aktivis, Gigis Wahieb, gesê. Aktiviste het oor soortgelyke insidente in gebiede elders, suid van Kairo berig, maar dat dit nie genoeg was om voldoende beskerming aan kerke en kloosters te bied nie.

Wahieb, asook ander aktiviste en slagoffers van die jongste geweldvlaag, blameer sowel die polisie as die ekstremistiese Islamiste vir dít wat gebeur het. Volgens hulle het die aanvalle tegelykertyd met ‘n aanslag op polisiestasies in provinsies soos Bani Suef en Minja plaasgevind sodat polisie hul stasies moes beskerm en nie die Christene te hulp kon snel nie.

Ezzat Ibrahim, ‘n Christen-aktivis van Minja, ‘n provinsie suid van Kaïro, waar Christene ongeveer 35 % van die bevolking verteenwoordig, het gesê dat die polisie in sewe uit die nege gebiede eenvoudig verdwyn het sodat ekstremiste feitlik straffeloos kon optree.

Volgens sekerheidsbeamptes wat anoniem wou bly omdat hulle nie die nodige magtiging gehad  het om die inligting te verskaf nie, is daar sedert Woensdag twee Christene dood, waaronder ‘n taxibestuurder wat in ‘n betoging deur Morsi-ondersteuners in Alexandrië beland het. Die ander persoon is deur Islamiste in die suidelike provinsie van Sohag doodgeskiet.

Die aanvalle het daarop gedui dat alhoewel die Islamiste in Kaïro op die verdediging is, hulle steeds oor invloed in provinsiale vestings beskik, asook die vermoë  om geweld teen aansienlike Christen-minderhede te pleeg.

Gamaa Islamija, ‘n ekstreme Islamiste-groep wat groot invloed in provinsies suid van Kaïro uitoefen, het enige verbintenis met die aanvalle ontken. Die woordvoerder, Moerad Ali, het gesê dat die Moslembroederskap wat die betoging teen Morsi se afsetting gelei het, die aanvalle afkeur.

Suster Manal is hoof van die Fransiskaanse skool in Bani Suef. Sy was besig om onbyt met twee besoekende nonne te eet toe die nuus haar bereik dat die twee betogerskampe deur die polisie ontruim is, met honderde wat gedood is. Die gevolg was ‘n aanval wat ses ure geduur het. Sy, susters Abeer en Demiana en ‘n aantal skoolwerknemers het gesien hoe ‘n groep aanvallers by die skool deur mure en vensters inbreek. DIe skool is geplunder, ‘n kruis is by ‘n skoolhek omgegooi en met ‘n swart banier, soortgelyk aan dié van Al-Kaida, vervang.

Toe die Islamiste hul beveel om weg te gaan, was daar vure op bykans elke hoek van die 115 jaar oue hoofgebou en twee nuwer geboue. Manal het gesê dat die spaargeld vir ‘n nuwe skool verdwyn het. Rekenaars, ‘n projektor, lessenaars en stoele is weggedra. Dringende noodoproepe na die polisie, asook na senior polisie-amptenare wie se kinders in die skool is, het beloftes van ‘n vinnige reaksie ontlok. Maar niemand het opgedaag nie.

Die Islamiste het haar net genoeg tyd gegun om ‘n paar kledingstukke te gryp.

In ‘n uur lange telefoniese onderhoud met Associated Press het Manal, 47, haar nagmerrie-ondervinding in herinngering geroep, hoe sy in die skool saam met ander vasgevang was terwyl die brand op die grondvloer gewoed het en ‘n geveg tussen die polisie en Islamiste buite op straat plaasgevind het. Met tye het die giftige gasse van die vuur in die biblioteek of traangas wat deur die polisie op straat gebruik is haar oorweldig.

Suster Manal onthou hoe sy ‘n week gelede deur die polisiemanvader van ‘n leerling ingelig is dat haar skool deur dogmatiese Islamiste geteiken word wat daarvan oortuig is dat dit ongewenste onderwys aan Moslemkinders verskaf. Sy het geen ag daarop geslaan nie, gerus in die wete dat die skool oor ‘n gelyke aantal Moslem- en Christelike leerlinge beskik en daarom nie deur Moslem-ekstremiste aangeval sou word nie. Sy was verkeerd.

Die skool se ligging is prominent. Dit staan oorkant die pad van die vernaamste treinstasie en is langs ‘n besige buseindpunt wat onlangs ‘n groot aantal Islamiste aangetrek het. Hulle was op pad na Kaïro om aan te sluit by die groter van die twee sitstakingskampe wat Morsi ondersteun. Die buurt van die skool stem ook ooreen met een van Bani Suef se Islamiste-vestings wat uit Morsi se Moslembroederskap en ultrakonserwatiewe Salafiste bestaan.

“Ons is nonne. Ons maak op God en die engele staat om ons te beskerm,” het sy gesê. “Aan die einde het hulle ons soos krygsgevangenes deur die strate geparadeer en op ons gevloek terwyl ons van een agterstraatjie na ‘n ander gelei is sonder dat hulle ons vertel het waarheen ons op pad was.” ‘n Moslemvrou wat eens op ‘n tyd ‘n onderwyseres by die skool was, het Manal en die ander twee nonne raakgesien toe hulle by haar huis verbyloop, met ‘n groot skare nuuskierige omstanders wat saamdrom.

“Ek het haar onthou, haar naam is Saadija. Sy het aangebied om ons onderdak te gee en gemeen sy kon ons beskerm omdat haar skoonseun ‘n polisieman is. Ons het haar aanbod aanvaar,” het sy gesê. Twee Christenvroue wat by die skool werk, Warda en Bedoer, wat ook familie van mekaar is, moes veg om uit die skare te kom, terwyl hulle deur die ekstremiste betas, geslaan en beledig is. “Ek het daarna gekyk en dit ysingwekkend gevind,” het Manal gesê.

Die voorval by die Fransiskaanse skool is by Minja herhaal waar ‘n Katolieke skool tot op die grond afgebrand is en ‘n Christelike weeshuis insgelyks aan die brand gesteek is.

“Ek is beangs en nie in staat om te fokus nie,” sê Boelos Faami, die pastoor van ‘n Katolieke kerk nie te ver van Manal se skool af nie. “Ek verwag te eniger tyd ‘n aanval op my kerk,” het hy Saterdag gesê.

Bishoi Alfons Nagoeib, ‘n 33-jarige sakeman van Minja, het ‘n soortgelyke, onstellende verhaal om te vertel.

Sy algemenehandelsaak in ‘n hoofstraat in die provinsiale hoofstad, wat ook Minja genoem word, is vandeesweek afgebrand met die vlamme wat alles binne verteer het.

“‘n Buurman het my geroep en vertel dat die winkel aan die brand was. Toe ek daar aankom, kom drie ekstremiste dreigend na my toe, waarna hulle agterkom dat ek die eienaar is,” vertel Nagoeib. Sy vader en broer het by die mans gepleit om sy lewe te spaar. Gelukkig het iemand geskree dat ‘n Christelike seun besig was om die gebeure met sy selfoon te verfilm, dus het die skare na die seun toe gehardloop en geskree: “Noesrani, Noesrani.” Dit is ‘n woord uit die Koran wat ‘n skeldnaam vir Christene in Egipte geword het.

Nagoeib het na ‘n nabygeleë gebou gehardloop waar hy oor ‘n woonstel beskik en hom daar toegesluit. Ná ‘n ruk het hy die woonstel verlaat, opgehardloop na die dak toe en oorgespring na die gebou langsaan waardeur hy veilig kon uitkom, op veilige afstand van die woedende skare.

“In ons Mustafa Fami-straat, het die Islamiste vroeër ‘n rooi X op Moslemwinkels geverf en ‘n swart X op Christenwinkels,” het hy gesê. “U kan seker wees die winkels met ‘n rooi X het niks oorgekom nie.”

In Fajoem, ‘n oaseprovinsie suidwes van Kaïro, het Islamiste vyf kerke geplunder en aan die brand gesteek, volgens biskop Ibram, die plaaslike hoof van die Koptiese Ortodokse Kerk, wat by verre die grootste van Egipte se Christelike denominasies is. Volgens hom het hy sowel Christene as kerklui aangesê om nie weerstand teen die skares Islamiste te bied nie, uit vrees vir lewensverlies.

“Die plunderaars was so pligsgetrou dat hulle na een van die vyf kerke wat hulle verwoes het teruggekeer het om te sien of hulle nog iets kon vat,” het hy aan AP gesê. “Hulle het ons stoele en banke op vragmotors gelaai en toe daar nie meer plek was nie, het hulle die res vernietig.” – AP

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.