Wit gesin gaan bly maand lank in Mamelodi

Deel op
Die Hewitt-dogters saam met hul maats in die lokasie
Die Hewitt-dogters saam met hul maats in die lokasie

Max du Preez en vele liberale meningsvormers het mense al aangemoedig om dit te gaan doen, hoewel hulle nooit self tot die stap oorgaan om in ‘n ‘kasi” (swart sleng vir ‘n lokasie) te gaan bly nie. ‘n Welaf gesin van Pretoria-Oos, die Hewitts, het egter besluit om die daad by die woord te voeg en vir ‘n maand lank in Mamelodi in ‘n kaja te gaan woon.

Volgens die Pretoria News het Julian Hewitt, sy vrou Ena, asook hul dogters Julia, 4, en Jessica, 2, hul lewe in Wapadrand agtergelaat en vanaf 4 Augustus hul intrek in die Phomolong-, sogenaamde “informele nedersetting” in Mamelodi geneem.

Hulle hou ook ‘n woernaal in Engels oor hul wedervaringe aan, genaamd Mamelodi For A Month – one middle class family’s experiences living in a shack in Mamelodi.

Om dinge so “lewensgetrou” as moontlik te maak, beskik hulle oor geen lopende water, elektrisiteit of ‘n eie motor nie, en woon hulle in ‘n kaja van 9 vierkante meter, met ‘n begroting van R3 000 vir die maand.

Volgens Ena, “doen ons dit nie om iets te bewys nie. Ons doen dit sodat ons ‘n beter begrip kan kry van die manier waarop ander mense leef. Dis maklik om in ‘n middelklasborrel te leef en uit voeling met die lewens van ander te raak.”

As sy nie in die lokasie bly nie, werk sy as ‘n eiendomsagent en haar man Julian is die genootskapsdirekteur van die Allan Gray Orbis-stigting.

Soos enige lokasiebewoner, maak hulle van openbare vervoer gebruik. Julian neem die trein van Mamelodi af en daarna die Gautrein na Johannesburg, waar sy werk is. Blykbaar is dit die goedkoopste opsie.

Die kinders gaan skool toe per bus en per minibustaxi.

Waarom het hulle op die begroting van R3000 besluit? Waarom nie R2000 nie? Of R8000? Want, volgens die 2011-sensus, verdien die gemiddelde Suid-Afrikaner R3000 per maand.

“Ons beskik oor R100 per dag,” sê Ena, maar sy is heeltemal tevrede daarmee want baie mense moet met minder klaarkom.

Vervoer vreet 60 persent van hul begroting op. Gelukkig kos die huur vir die kaja net R170 vir die hele maand.

Hulle leef nou heel Spartaans, sonder enige weelde of gerief. Daarom ook geen motor, geen verwarmer, geen stoof en geen slaapsakke nie.

Ena sê: “Ons wil van die maand ‘n lewensgetroue ervaring maak en nie ‘n kampeervakansie nie.”

Maar alles is nie maanskyn en rose nie.

Die gesin het nog net een keer vleis geëet in die twee weke wat hulle reeds in Mamelodi woon. Die meeste van hul proteïen is van boontjies en lensies afkomstig.

Hulle kook op ‘n Primus-stoof en daarom neem kosvoorbereiding heelwat langer.

Die gesin bad elke dag in ‘n emmer met ‘n ketel warm water en trotseer die koue, nes miljoene ander.

“Die temperatuurwisselinge in die kaja is ongelooflik, sê Ena. “Gedurende die dag is dit snikheet warm en snags yskoud.”

Hulle slaap al vier op matrasse op die vloer.

“Die kinders het baie vriende in die buurt gemaak en hulle speel almal saam as elkeen smiddae van die skool af terug is.

“Ek is verstom hoe ons kinders net inpas en daar is altyd maats beskikbaar,” sê sy. Hulle het ook geen speelgoed saamgebring nie en het geen televisie nie.

Die meisies verwyl hul tyd deur vuurhoutjiehuisies, -vliegtuigies en kettings met wasgoedpennetjies te bou. Hulle kan dikwels gesien word waar hulle kaalvoet met draadkarretjies in die straat speel.

Ena verlang na ‘n stort, haar groentetuin, haar motor, haar verwarmer en soms haar ruimte.

“As ons eers by die huis is, sal ons dít wat ons het, baie meer waardeer,” sê sy.

Die omliggende gemeenskap is glo baie behulpsaam en hulle gesels met almal tydens hul agtermiddagwandelinge.

“Die gemeenskap is die beste van alles. Mense is aanmekaar oor ons besorg,” meen sy.

Hul bediende woon op dieselfde stukkie grond en hulle het haar al verskeie kere besoek alvorens hulle hierdie “lewensreis” onderneem het.

“Vir ons as gesin is dit besonders, want daar is baie minder dinge wat ‘n mens se aandag aflei,” sê Ena.

Aan die einde van die maand op 31 Augustus keer hulle na hul normale lewe in ‘n oorwegend blanke middelklasbuurt terug.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.