SAUK buig die knie oor Afrikaans op 50/50

Deel op
Bonné de Bod, een van die aanbiedsters van 50/50, 'n voormalige leerling van Linden-hoërskool in Johannesburg
Bonné de Bod, een van die aanbiedsters van 50/50, ‘n voormalige leerling van Linden-hoërskool in Johannesburg

Volgens ‘n Sondagkoerant word die natuurprogram 50/50 van aanstaande Maandagaand af weer uitsluitlik in Afrikaans uitgesaai.

Blykbaar het die SAUK erken dat “dit ‘n fout was om die program in 2011 veeltalig te maak”. Só sê Ntokozo Mbuli, die aanbiedster en vervaardiger van 50/50. Die program het gevolglik grootliks aan kykertalle ingeboet en daarom wil die SAUK dit nou “in sy eertydse glorie” herstel.

In die praktyk het die SAUK 50/50 verengels, blykbaar om in te pas by “nasiebou”-doelwitte. Maar geld, selfs Afrikaanse geld, praat hard en die openbare uitsaaier is tans desperaat om 50/50 se lojale kykers terug te lok.

Voor die verengelsing van 50/50 was die program se kykers 78% Afrikaans, van wie 60% blanke Afrikaanse vroue was.

Syfers oor die huidige kykers is nie bekendgestel nie, maar volgens die korporasie het “lojale Afrikaanse kykers van 50/50 opgehou om daarna te kyk”.

Mbuli sê: “Om met Afrikaanse gehore te werk, is meer as net ’n taal. Dis oor ’n manier van dink, ’n kultuur.”

Die poging om ‘n breër, multikulturele gehoor vir die program te trek, het ook beteken dat die oorspronklike model van veld- en natuurlewe, tesame met ondersoeke na die ekologie en bewaringskwessies, afgewater is, met dikwels insetsels uit oppervlakkige, uitheemse Amerikaanse “natuurskouspel”-programme.

Volgens die vervaardiger sal daar nou na die “oorspronklike resep” waaraan Afrikaanse kykers so lojaal was, teruggekeer word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.