Pik Botha: ‘ANC het ’94-ooreenkoms verbreek’

Deel op
Oudminister Pik Botha
Oudminister Pik Botha

Regstellende aksie soos dit tans toegepas word, was nie deel van die bedoeling van die ooreenkoms wat iin 1994 spesifiek tussen die toentertydse regerende party, die NP, en die ANC bereik is nie. Só sê Pik Botha, die voormalige minister van buitelandse sake wat Donderdag aan ‘n debat oor regstellende aksie in Pretoria deelgeneem het.

Ander paneellede by die gesprek oor die plek van regstellende aksie in Suid-Afrika was Rabelani Dagadi van Wits se sakeskool in Johannesburg en dr Dirk Hermann, die hoof- uitvoerende beampte van die Solidariteitbeweging.

Volgens Botha het die ANC die ooreenkoms wat in 1994 bereik is, verbreek. Hy is ook duidelik dié mening toegedaan in Hermann se jongste boek: Regstellende trane: Waarom verteenwoordigendheid nie gelykheid is nie (Kraal-uitgewers). Hy meen dat ‘n nuwe grondwetlike bedeling in Suid-Afrika onmoontlik sou gewees het, sou die ANC destyds daarop aangedring het dat die Wet op gelyke indiensneming en die wyse waarop dit toegepas word, deel van die grondwet gemaak word. Hy wys daarop dat die bedoeling gedurende die onderhandelings was om die ongelykhede en onregte wat deur apartheid veroorsaak is, reg te stel.

“Maar ons het nie ooreengekom om onregte van die verlede reg te stel deur nuwe onregte in die hede te skep nie,” verduidelik Botha.

“Diskriminasie teen blanke jongmense wat niks met apartheid te make had nie, was beslis nie deel van die ooreenkoms tussen die NP en die ANC nie; nog minder was diskriminasie in die algemeen teen blankes, kleurlinge of Indiërs,” gaan Botha voort. “Trouens, die ANC se kwota-obsessie kom op die verwerping van opgeleide mense neer wat ruimskoots tot die opleiding van swartmense kan bydra. Die boemerangeffek van die Wet op gelyke indiensneming is dat groot hoeveelhede swartmense steeds onopgelei en werkloos is, en dat die land se ekonomiese vooruitgang erg deur die tekort aan vaardighede gekortwiek word – wat miljoene meer swartmense as blankes raak.”

Botha is van mening dat “spontane, informele dog diepgaande gesprekke tussen lede van alle rasse” nodig is om oor die toekoms saam te stem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.