Die Afrikaanse Taalraad en Trantraal-mengeltaal

Deel op
Die Kaapse Klopse. Hulle praat ook 'n 'variëteit van Afrikaans'
Die Kaapse Klopse. Hulle praat ook ‘n ‘variëteit van Kaaps’.

deur Leon Lemmer

Daar word dikwels beweer dat die mens in Afrika ontstaan het. Daar is egter groot eenstemmigheid dat beskawing, dus gesofistikeerde of ontwikkelde kultuur, hetsy Westers of Oosters, op ander kontinente ontwikkel het. Daar is selfs diegene wat dink dat die beste mense wat oorspronklik in Afrika gewoon het, die insig gehad het om pad te gee en daarna elders ‘n beter heenkome gevind het. Hedendaagse afstammelinge van slawe het al ongekwalifiseerde dank uitgespreek dat hulle voorgeslag uit Afrika na bv Amerika vervoer is.

In die geskiedenis van Afrikaans is daar die kombuistaalteorie waarvolgens Nederlands aan die Kaap skeef en krom deur nie-wittes (bv in kombuise) gepraat is en dat die oorsprong van Afrikaans hiernatoe teruggevoer kan word. Maar net soos tussen die ontstaan van die mens en die uitbouing van beskawing onderskei word, moet tussen die ontstaan van Afrikaans as geradbraakte Nederlands en die uitbouing van Afrikaans as ‘n taal uit eie reg onderskei word.

Dit lei tot ‘n politieke probleem, want die ontstaan van proto-Afrikaans word (hoofsaaklik) aan bruines toegeskryf. Daarenteen is die standaardisering, uitbouing en voortbestaan van Afrikaans (hoofsaaklik) aan wittes te danke, bv die Genootskap van Regte Afrikaners, asook die woordeboeksamestellers en almal wat Afrikaans in sy algemeen-beskaafde gedaante gepraat en geskryf het. Standaardafrikaans word gevolglik veralgemenend as ‘n witmenstaal en bv Kaaps as ‘n bruinmenstaal beskou.

Tot in die vorige eeu was gepubliseerde Afrikaanse teks wat deur nie-wittes geskryf is, hoogs uitsonderlik. Die kombuistaal wat nie-wittes in die 17de of 18de eeu gepraat het, sou nie in die vorm van Afrikaans in die 21ste eeu oorleef het as dit nie vir die deurlopende taalkundige arbeid van blanke taalkundiges en blanke taalgebruikers was nie. Politiek korrek word daardie gestandaardiseerde taal nie meer algemeen-beskaafde Afrikaans genoem nie (al is dit steeds presies wat dit wesenlik is) maar Standaardafrikaans.

Prof. Wannie Carstens van die Potchefstroom-kampus
Prof. Wannie Carstens van die Potchefstroom-kampus

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) gebruik die hedendaagse plaaslike politiek as toonbeeld vir hoe daar met taalsake omgegaan moet word. Die eerste voorsitter van die ATR, Wannie Carstens, het van die ATR ‘n versoenings- en meertaligheidsraad pleks van ‘n Afrikaanse taalraad gemaak (Praag 17 Maart). In sy boek Vereeniging (Kaapstad: Umuzi, 2010) stel Leon Wessels homself voor as ‘n soort Johannes die Doper wat as dié voorbereider van die nuwe Suid-Afrika gefunksioneer het. Wessels word dus deesdae as ‘n grondwet- en menseregtekenner gereken. In die konteks van die Carstens-ATR se meertaligheidsmanie skryf Wessels: “Afrikaners kan nie taalregte namens ander taalgemeenskappe opeis nie – hulle moet dit self doen” (p 331).

Ten spyte van Wessels se goeie raad gaan Carstens se opvolger as ATR-voorsitter, Michael le Cordeur, voort met hierdie paternalistiese meertaligheidspreokkupasie. Le Cordeur is tans as ‘n opvoedkundige aan die Universiteit Stellenbosch verbonde. Wat van hom nogal ‘n eienaardige opvoedkundige maak, is dat hy net die hoogste lof het vir sy vier klasmaats wat in 1976 die Hoërskool Bergrivier in Wellington afgebrand het. Le Cordeur voer tans om etniese en politieke redes ‘n veldtog ten gunste van Kaaps. Ná al die jare het die ATR egter nog geen poging aangewend om hom ondubbelsinning aan die kant van Standaardafrikaans te skaar nie.

Uit vrees dat die Kaapsgesindes aanstoot kon neem, het die ATR nog nie eens vir suiwer Afrikaans voorbrand gemaak nie. Die verengelsing van Afrikaans gaan ongebreideld voort sonder dat die ATR ‘n vinger verroer. Die Afrikaanse skryf- en veral omgangstaal neig gevolglik al hoe nader aan die mengeltaal Kaaps. Iemand soos Nico Koopman verheerlik hibriditeit. Wat hy blykbaar probeer sê, is dat die etniese hibriditeit van bruines as model vir nuwe Suid-Afrikaners moet dien. Ingelyks kan die hibriede Kaaps die modeltaal in die nuwe Suid-Afrika word. Die uiteinde sal ‘n daadwerklike hibriede nasie wees. Daarvolgens is om bruin te wees en Kaaps te praat in die mode en dui hierdie verskynsels op die toekoms. Insgelyks, om wit te wees en Standaardafrikaans te praat, is om uit die mode te wees en tot die verlede te behoort.

Dit kan gebruik word om te verduidelik waarom taalhibriditeit al hoe meer vastrapplek kry in wat eens Afrikaans was. Etnies gedrewe bruines is blykbaar geneig om hierdie bedenklike verskynsel te verwelkom. Dit is egter die dood in die pot vir Afrikaans. Net taaldislojale Afrikaanssprekendes sou so ‘n verwikkeling verwelkom. Ongelukkig is dit die onverkwiklike waarheid dat daar by baie bruines ‘n tradisie van taalontrouheid, dus dislojaliteit, teenoor Afrikaans is. Van moedertaal- en identiteitstrots is daar by diesulkes glad te dikwels nie sprake nie. Insgelyks ontbreek ‘n gesonde afkeur van Engels as leeftaal. Byvoorbeeld, Jonathan Jansen, die rektor van die Universiteit Vrystaat, het Afrikaans as sy moedertaal vervang met Engels as sy “eerstetaal”. Deesdae is Engels dus onbeskaamd sy voorkeurtaal.

In die nuwe Suid-Afrika is die ANC se fanatieke voorkeur vir die koloniale taal Engels die oorheersende taalwerklikheid. Dit is voor die hand liggend dat Standaardafrikaans die enigste variëteit van Afrikaans is waarmee die bedreiging van Engels suksesvol die hoof gebied kan word. Hiervoor is ‘n verenigde front nodig; ook in die ATR. Die voorstanders en beoefenaars van Standaardafrikaans doen moeite om Afrikaans as ‘n taal te bevorder wat duidelik onderskeibaar van Engels is. Die beoefenaars van Kaaps, daarenteen, breek die onderskeid tussen Afrikaans en Engels af deur met oorgawe onnodige Engelse woorde in hulle taal toe te laat; dermate dat dit soms na opsetlike uittarting vir voorstanders van algemeen-beskaafde Afrikaans lyk. Hierdie gesindheid van bruines steun nie op geldige taalkundige gronde nie. Dit is veel eerder die uitdrukking van politieke beswaardheid teen wit Afrikaanssprekendes.

Le Cordeur beweer Standaardafrikaans is nie “‘n meer korrekte (‘suiwer’) vorm van Afrikaans … nie. Net so is Kaaps nie ‘swak Afrikaans’ nie, dis ‘n ander variëteit” (Die Burger, 8 deser, p 19). Hy is so onentoesiasties oor Standaardafrikaans dat hy hierdie woord met ‘n kleinletter skryf. Ek dink nie dit dui suiwer op onkunde by hierdie nie-taalkundige nie; dalk eerder op moedswilligheid. Op 31 Julie het Le Cordeur op LitNet geskryf: “Die Afrikaanse Taalraad bevorder nie net standaardafrikaans nie, maar Afrikaans met al sy varieteite, en standaardafrikaans is maar net een varieteit.” Let op die verkleinerende “maar net een”. In werklikheid is Standaardafrikaans ‘n grootse prestasie. Dit is “maar net een” van die Afrikaner-prestasies wat die land die onwikkeldste en suksesvolste in Afrika gemaak het.

Daar is politiek onderliggend aan Le Cordeur se standpunt. In die politiek is alle mense gelyk verklaar, al is daar ooglopende kwalitatiewe verskille. Na analogie daarvan beweer Le Cordeur dat Kaaps en Standaardafrikaans gelykwaardig is. Toegegee, net soos alle mense eenders of gelyk is in die sin dat hulle daar is, bv asemhaal, is Kaaps en Standaardafrikaans gelykwaardig as slegs die feit dat albei bestaan in ag geneem word. In die bestaanstryd teen Engels kan daar egter geen sprake wees dat Kaaps, wat deurspek met Engelse woorde is, suksesvol as skans gebruik kan word nie. Ten minste in hierdie opsig is Kaaps en Standaardafrikaans nie gelykwaardig nie.

Nathan Trantraal met sy digbundel 'Chokers en survivors'
Nathan Trantraal met sy digbundel ‘Chokers en survivors’

Dit is nie net ‘n geval dat Kaaps geen skans teen die oorheersing van Engels bied en dus nie met die toekoms van Afrikaans vertrou kan word nie. Kaaps funksioneer inderdaad as ‘n vermurwer van Standaardafrikaans. Ek volstaan deur na ‘n enkele deelnemer aan die huidige debat oor Kaaps te verwys. Op 3 Julie is Joan Hambidge se resensie van Nathan Trantraal se digbundel op LitNet gepubliseer. Onderaan het Annemarie van Niekerk geesdriftig soos volg gereageer: “DIE poësie event van die jaar”, “in your face poetry”, “suffering” en “‘n high five vir Nathan”. In ‘n onderhoud met Trantraal het Van Niekerk gepraat van “choke-poetry”, “community” en “free wyn” (Rapport, 4 deser). Sou sy sulke geradbraakte Afrikaans in haar reaksie op ‘n teks in Standaardafrikaans gebruik het?

Die titel van die Trantraal-bundel is Chokers en Survivors. “Vir Antjie Krog is dit ‘n bundel ‘om sidderend van regop te sit!’ … Krog beklemtoon dat ons nog nooit so iets in Afrikaans gelees het nie” (Joan Hambidge se resensie op LitNet, 3 Julie). Die eintlike vraag is: Is dit Afrikaans? Van die 18 letters in die titel word net twee (dus 11%) vir Afrikaans gebruik. Dit is die soort “Afrikaans”-variëteit wat Le Cordeur in sy hoedanigheid as voorsitter van die ATR met groter geesdrif as Standaardafrikaans bevorder. Die ironie is dat Trantraal tereg ontken dat sy Kaaps Afrikaans is: “Afrikaans en Kaaps issie dieselle taal ie … ek for instance het ‘n barely functioning Afrikaans vocabulary, maa ek is nogal eloquent in Kaaps” (Onderhoud met Annemarié van Niekerk, Rapport, 4 Augustus).

Dit is nie net nie-Afrikaanse, bv Engelse, woorde wat kwistig in Kaaps gebruik word nie. Selfs die sinsbou is dikwels nie-Afrikaans, bv Engels of Arabies. Le Cordeur erken self dat “Kaaps dikwels die Arabiese sinkonstruksie” volg (Onderhoud met Naomi Meyer, LitNet, 8 Augustus). ‘n Mens vra jou af: Op grond waarvan sou die ATR hom dan geroepe voel om by monde van Le Cordeur Kaaps, ‘n nie-Afrikaanse taal, dus ooglopend ‘n mengeltaal, te bevorder? Nie-Afrikaanse tale val streng gesproke buite die ATR se bevoegdheidsgebied. Die antwoord op laasgenoemde vraag kan eintlik net in etniese en politieke oorwegings gevind word.

Hoe diep die ATR in die politiek versink het, blyk uit sy politiek gekleurde missie, naamlik “om Afrikaans en Afrikaanssprekendes te bemagtig, te bevorder en te beskerm”. ‘n Baie beter en daarby taal-toegespitste leuse sou wees: “Om Afrikaans altyd, oral en suiwer te benut.” Omdat die ATR met ‘n politieke (en in die besonder ANC-) geur deurtrek is, het Le Cordeur, in sy hoedanigheid as voorsitter, Nelson Mandela amptelik namens die ATR met sy verjaardag op 18 Julie gelukgewens.

Vrouedag wat die optog van vroue, wat hardegat oor die paswette was, na die Uniegebou in 1956 gedenk, is op 9 deser deur die ATR op Wellington gevier. Dit is gedoen sonder om te noem dat paswette nie deur die “apartheidsregime” uitgedink is nie. Plaaslik is paswette ‘n nuutjie waarmee die eerste Britse goewerneur aan die Kaap, graaf George Macartney, in 1797 vorendag gekom het.

Pas het die ATR dit nodig gevind om inskrywings vir die Europese Unie se Sol Plaatje-poësiekompetisie te werf. Hierdie kompetisie het baie sydelings met Afrikaans te make. Die hoofmotivering vir die ATR se entoesiasme is waarskynlik omdat Plaatje as ‘n stigter van die ANC beskou kan word. Het die ATR al iets gedoen om te verseker dat die Universiteit Sol Plaatje in Kimberley ‘n Afrikaanse universiteit sal wees? Sekerlik nie.

Genoemde sake toon waarmee die ATR hom die afgelope tyd besig gehou het. Afrikaansdag, die herdenking van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 in die Paarl, word jaarliks op 14 Augustus in bv die boekhandel gedenk. Dit behoort elke jaar dié hoogtepunt op die kalender van die ATR te wees. Soos gebruiklik het die ATR vanjaar geen poging aangewend om Afrikaansdag te vier of selfs daarvan melding te maak nie. Daarvoor is daar minstens twee redes. Eerstens word die GRA deur die ATR as ‘n etnies eksklusiewe groep beskou. Gideon Malherbe het klaaglik versuim om sy kombuis- en tuinhulp by die GRA se stigtingsbyeenkoms te betrek. Tweedens bevestig die nie-erkenning van Afrikaansdag dat die ATR eerder ‘n politiek gedrewe liggaam as ‘n egte en eerbare Afrikaanse taalraad is.

Die nuwe Suid-Afrika funksioneer wesenlik kwantitatief. Kwalitatiewe verskille word dus by voorkeur geïgnoreer of selfs ontken. Omdat die meeste sprekers van Afrikaans deesdae bruin is, word sonder meer aangeneem dat die toekoms van Afrikaans in hulle hande moet wees. Dít terwyl Afrikaans en tewens die land in sy geheel uitstekend onder blanke (dus minderheids-) leiding ontwikkel het. Die skryfkuns, alfabet, manuskripte en gedrukte teks, bv boeke, is beskawingsprodukte. Hulle hoort in die domein van die ATR. ‘n Mens sou dus verwag dat die ATR 6 April jaarliks met oorgawe as Beskawingsdag sou vier. Politieke gestremdheid veroorsaak dat die ATR dit nooit doen nie. Beskawingsdag was voorheen as Van Riebeeck-dag bekend, maar in die nuwe Suid-Afrika word name mos graag verander.

In die naam van diversiteit dien daar ‘n verteenwoordigende getal bruines in die direksie van die ATR. In die praktyk verseker dit die steriliteit van die ATR. Drie van hierdie bruines het elk ‘n hoë politieke profiel, naamlik Le Cordeur, Danny Titus en Christo van der Rheede. Wat hierdie drie verder gemeen het, is dat hulle nie Afrikaanse taalkundiges is nie. In soverre hulle voorgraads met Afrikaans in formele studie kennis gemaak het, is hulle deur veral Jakes Gerwel aan die Universiteit van Wes-Kaapland beïnvloed. Dit beteken dat hulle siening van Afrikaans met UDF/ANC- en kommunistiese ideologie deurdrenk is (Praag 3.12.2012). Die steriliteit van die ATR is dus begryplik.

Wat nodig is, is dat al die ATR-direksielede aan minstens twee vereistes moet voldoen. Eerstens moet hulle gesindheid teenoor Afrikaans bo verdenking wees. Dit spreek dus eintlik vanself dat hulle verbintenis tot onderrig in Afrikaans vir hulle eie kinders ononderhandelbaar moet wees. Tans dien daar elemente in die ATR wat sienderoë verkies dat onderrig eerder in Engels as Afrikaans aan hulle kinders verskaf word. Tweedens moet ATR-direksielede se formele Afrikaanse taalkennis op peil wees. Hulle moet dus geskoolde taalkundiges wees. Sodanige raadslede moet verder op ‘n nie-etniese grondslag gekies word. Die huidige kwotastelsel is uit die bose. Pleks van, soos tans, Afrikaans polities te dien, sou die ATR Afrikaans dan na behore taalgewys kon dien.

Terugverwysend na die eerste paragraaf hierbo is daar in die VSA die manie onder swartes dat wittes eintlik nie oor swartes mag skryf nie. Swartes beweer dat net hulle waarheidsgetrou oor die ervaring van swartes kan skryf. In die debat oor Kaaps het hierdie fundamentalisme nou ook kop uitgesteek. Net outentieke, nie-wit sprekers van Kaaps mag glo in Kaaps skryf (dus nie Marlene van Niekerk nie) en die duidelike voorkeur is dat net hulle menings oor Kaaps mag uitspreek. Die wesenlike aard van hierdie sotterny is reeds in 1784 deur Samuel Johnson uitgewys toe hy opgemerk het: “Who drives fat oxen should himself be fat” (James Boswell, The Life of Samuel Johnson, Londen: Everyman, 1992, deel 2, p 527).

Uit die huidige debat blyk dit duidelik dat daar talle variëteite of subsoorte van Kaaps bestaan, bv straat-, bende- en klopsetaal en onkiese of kru of onbetaamlike variasies, waarvan Trantraal ‘n meester blyk te wees. Dit bevestig ten minste dat ons hier nie met algemeen-beskaafde of Standaardafrikaans te make het nie. Die onpraktiese maar etnies en politiek gedrewe Le Cordeur reken dat skoolhandboeke in hierdie ongestandaardiseerde groep mengeltale, kollektief Kaaps genoem, beskikbaar gestel moet word sodat die sprekers van Kaaps nie (verder) benadeel word nie.

Waar gaan die streep getrek word? Moet skoolhandboeke in Tsotsitaal daarna volg? Waarom nie ook pleit vir handboeke in die soort geradbraakte Engels wat kenmerkend van sommige bruines is nie? Waarom ‘n saak probeer uitmaak vir nie-Standaardafrikaans, maar nie ook vir nie-standaard Engels nie? Die antwoord is: Omdat gestandaardiseerde Engels deur hierdie elemente geag en gestandaardiseerde Afrikaans deur hierdie selfde elemente geminag word. Daarmee is ons terug by wat ek hierbo, in die woorde van Jaap Steyn, taalontrouheid genoem het. Hierdie dislojaliteit teenoor Afrikaans is sekerlik politiek gemotiveerd. Kortom, die huidige voorsitter van die ATR, Le Cordeur, se veldtog ter bevordering van Kaaps is wesenlik opsetlike geringskatting van Standaardafrikaans en grondliggend minagting van Afrikaners.

Ek het die bostaande teks voltooi voordat Leopold Scholtz se jongste rubriek (Die Burger, 16 deser, p 12) ter hand gekom het. Scholtz verduidelik dat in die stryd teen veral Frans daar in België na Standaardnederlands gereik is pleks van die verskillende Vlaamse dialekte te koester. Dit stem ooreen met my pleidooi vir Standaardafrikaans hierbo. Scholtz: “Elke Europese taal … het naas streektale en dialekte ook ‘n standaardvorm. Die behoefte aan dié standaardvorms bestaan deurgaans.” Omdat die omstandighede in België en Suid-Afrika verskil, wil Scholtz egter nie die knoop deurhaak en die vraag in die opskrif, “Voldoen Kaaps aan vereistes?”, beantwoord nie. Hy wil hê dat “die bruin intellektuele self moet antwoord.” Hy raak die spoor dan al hoe meer byster met die volgende stelling: “Niemand by sy regte verstand sal in beginsel teen die ontwikkeling van Kaaps kan wees nie.”

Plakkaat van die Kaapse Son
Plakkaat van die Kaapse Son

Wat skuil agter Scholtz se terugdeinsing? Die antwoord is voor die hand liggend: Die Burger se dogma dat bruines nie vervreem mag word nie en dus dat die “bruin stem” gehoor moet word. Dit volg dat die sprekers van Kaaps oor Kaaps uitspraak moet lewer, net soos Samuel Johnson se vet osse net deur vetsakke aangeja mag word. Die Burger wil bruines feitlik ten alle koste ter wille wees; nie net omdat dit politiek korrek is nie, maar ook omdat die getal koerante wat verkoop word die allerheiligste heilige koei geword het. Dit is in selfs groter mate waar sedert sy Naspers-susterkoerant Son (in Kaaps wat oorvloediglik met Engelse woorde aangedik word) so ‘n groot aanhang onder veral bruin lesers ten koste van Die Burger opgebou het.

Ek is by my regte verstand en het hierbo ‘n duidelike saak uitgemaak waarom Kaaps nie die voertuig vir die behoud van Afrikaans teen die aanslag van Engels kan wees nie. Net Standaardafrikaans kan daardie funksie vervul. Die bevordering van die mengeltaal Kaaps deur die ATR druis lynreg in teen die heil van Afrikaans. Dit is politieke en nie-taalkundige oorwegings wat die ATR dryf. Die Afrikaanse en Afrikanerorganisasies wat die ATR tot dusver gesteun het, sal ernstig oor hulle voortgesette deelname moet besin. Die ATR sal óf grondig hervorm moet word óf met ‘n ander liggaam wat Afrikaans doeltreffend bevorder, vervang moet word; iets soos ‘n Herstigte Afrikaanse Taalraad.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.