Dodetal in Egipte styg verder

Deel op
King Abdullah
Koning Abdoellah

“Hel“, “slagting“, “chaos is hoe die sogenaamde Dag van Woede in Egipte beskryf word in hoofopskrifte van dagblaaie regoor die wêreld. Nagenoeg 90 mense is gedurende die jongste skermutselings in die land dood.

Egipte word toenemend deur die internasionale gemeenskap veroordeel en massa-optredes teen die Egiptiese weermag word oor die wêreld gehou.

Die dodetal in Egipte hou aan om te styg en na beraming het meer as 800 mense reeds omgekom.

Die Times beskryf hoe ‘n protes in Kaïro se Ramses-plein vreedsaam begin het, maar met ‘n “skielike, oorverdowende geluid van outomatiese geweervuur​​” in straatgevegte ontaard het, nadat skares in paniek voor die koeëls gevlug het.

Intelligensieverslae dui daarop dat van die polisie- en weermaglede hul uniforms tuis gelaat en met die skare probeer versmelt het in gewone drag, maar nogtans gewapen was, op opponente begin skiet het en straatbarrikades opgerig het ná die chaos uitgebreek het en na woonbuurte versprei het.

Tydens die jagtogte op Morsi-ondersteuners het sommige gewone burgers glo by die veiligheidsdienste aangesluit. Die jongste verwikkelinge het die risiko van ‘n volskaalse burgeroorlog in Egipte verder verhoog.

Die Financial Times berig dat die onderdrukking deur die weermag teen Islamitiese ondersteuners van die afgesette pres Mohammed Morsi ‘n golf van geweld teen Christene in Egipte ontketen het.

Christelike kerke, besighede en skole is vernietig, geplunder en aangeval. Minstens vier mense het in dié geweld omgekom. Die Moslembroederskap het intussen ten sterkste ontken dat hulle Christene teiken.

Die Daily Mirror beskuldig die wêreld se magshebbers dat hulle op die kantlyn staan van wat gebeur in Egipte en pateties hulle hande vryf. Hulle het ‘n beroep op die VSA gedoen om sy militêre hulp dadelik op te skort totdat daar nuwe verkiesings gehou word.

Die Guardian, het in sy hoofberig gewaarsku dat Europa diplomatieke druk op Egipte se leiers moet volhou vir ‘n politieke skikking.

Die koerant wys daarop dat indien Egipte oorgaan tot ‘n burgeroorlog, die ontwortelde noorde ‘n dagreis ver na Europa is en dat die EU met ‘n vloedgolf van immigrante getref sal word.

Die betogings het ondanks ‘n aandklokreël tot in die nag voortgeduur en die Moslembroederskap beplan om vir nog ‘n week met betogings te volhard. Ondersteuners sê hul demokratiese keuse word vertrap deur die veiligheidsdienste se optrede.

Die Europese Unie se Raadgewer oor Buitelandse Sake het die geweld as skokkend bestempel en vir ‘n gekoördineerde reaksie teen die slagting gevra.

Die Duitse kanselier, Angela Merkel sê Duitsland sal sy betrekkinge met Egipte in heroënskou neem.

Die Franse Minister van Buitelandse Sake, Laurent Fabius sê hulp mag dalk heroorweeg word. Denemarke het reeds sy hulp aan Egipte gestaak.

Saoedi-Arabië het egter sy steun aan die Egiptiese weermag toegesê: “Die Koninkryk van Saoedi-Arabië, sy mense en die regering gaan staan ​​vandag by sy broers in Egipte teen terrorisme,” het hy Vrydag gesê in ‘n verklaring op die staats-TV.

Hy het ook gesê dat hulle vol vertroue is dat Egipte sal herstel. Saoedi-Arabië is ‘n bondgenoot van die voormalige president Hosni Moebarak en het in die verlede ‘n moeilike verhouding met die Moslem-broederskap gehad.

Die koning het $5 miljard in hulp aan Egipte belowe verlede maand as Morsi verdryf word uit die presidentstoel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.