Inwoners ontsteld oor gemors na kerkbyeenkoms

Deel op
Giovanni Cantarello

Inwoners van Doringkloof in Centurion is geskok oor die vuil toestand waarin dié woongebied agtergelaat is na ’n byeenkoms die afgelope naweek by Supersportpark.

Mense het in massas by die stadium in honderde busse opgedaag om ’n godsdienstige geleentheid van ‘n swart kerk Sondag by te woon.

Volgens een van die inwoners in Leoniestraat, slegs ’n blok van die stadion, was die oop stuk grond in dié straat in ’n walglike toestand agtergelaat met papiere en toiletpapier wat oor die hele gebied in die Augustuswind gewaai het.

Giovanni Cantarello was hoogs ontsteld toe hy die gemors wat deur die feesgangers gelos is, gesien het.

Teen Maandagmiddag het geen opruimingspan ’n poging aangewend om die gebied skoon te maak nie.

“Ons as belastingbetalers verwag dat daar ná hierdie tipe byeenkomste skoongemaak moet word aangesien ons vir hierdie dienste indirek betaal,” het Cantarello gesê.

Cantarello bevraagteken ook die toiletgeriewe wat vir die mense aangebied was, aangesien toiletpapier oral tussen die busse gelos is. Hy het ook gesê dat hy mense gesien het wat hul tande tussen die busse geborsel het.

Sondag het feesgangers in die strate afgedwaal en by huise aangeklop om vir water te bedel.

“Ek glo nie daar was genoeg water vir die mense beskikbaar nie,” het Cantarello ook besorg bygevoeg.

Sy vrou het kos vir ’n seun gegee wie die hele dag onder ’n boom voor hul huis sonder kos en water gesit het.

Hy bevraagteken ook die kapasiteit van die stadion en die werklike hoeveelheid mense wat die geleentheid bygewoon het.

’n Inspekteur van die Departement van Afvalbestuur het Maandag die gebied besoek en was geskok oor die toestand daarvan. Dié departement was glo nie in kennis gestel van die funksie nie en daarom was ’n skoonmaakspan nie gereël nie.

Hy het wel gesê dat daar werkers moontlik Dinsdag na die gebied gestuur sal word.

Supersportpark se bestuurder, Malcolm Drysdale het om verskoning gevra vir die ongerief wat dié onsmaaklikhede die inwoners veroorsaak het.

Volgens Drysdale was die stadion aan Twelve Apostels Church verhuur en dus het die stadion nie as organiseerders opgetree nie.

Die bestuur van die stadion het vereistes gestel wat deur die organiseerders van die byeenkoms nagekom moes word, maar volgens Drysdale was dit nie die geval nie.

“Sonder om die blaam te verskuif was meeste van ooreenkomste nie nagekom nie met die grootste probleem dat die beperkte getal toeskouers oorskry was.

“Ons het ooreengekom dat slegs 30 000 mense toegelaat was, maar tussen 55 000 en 60 000 mense het daarop aangedring om toegelaat te word,” het Drysdale gesê.

Volgens Drysdale was later ‘n vergadering gereël waarby die organiseerders, verteenwoordigers van Tshwane-metro, polisie en metropolisie betrokke was om dié kwessies te bespreek.

‘n Aksieplan om die gebied op te ruim was bespreek en is Dinsdag uitgevoer.

Die gebied in Leoniestraat is skoongemaak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.