Veiligheidsraad verdeel oor Egipte

egipte4Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het ‘n beroep op die Egiptiese regering en die Moslembroederskap gedoen om hulle van geweld te weerhou en versoening na te streef.

Die Raad het na ‘n noodsitting Donderdagnag egter nie ‘n konsensus-verklaring kon uitreik oor die hernieude geweld in Egipte wat reeds meer as 600 lewens geëis het nie.

Lede van die raad is vir ‘n noodsitting ontbied nadat die Verenigde Koninkryk, Frankryk en Australië die Veiligheidsraad gevra het om die saak dringend te bespreek.

Die Argentynse president van die raad, Marcia Perceval het gevra dat geweld en die onderdrukking van vreedsame optogte onmiddellik beëindig moet word.

Die VN-sekretariaat, Amerika en die Europese Unie wou nie standpunt wou inneem oor die omverwerping van die Egiptiese regering nie.

Suid-Afrika het Egipte dringend versoek om demokrasie in die land te eerbiedig. Die minister van internasionale betrekkinge – Maite Nkoana-Mashabane – het die Egiptiese situasie by die SAOG-beraad in Malawi geopper.

Dit volg nadat die Egiptiese weermag twee kampe in Kaïro met ondersteuners van die afgesette president Morsi bestorm het, en regeringsgeboue in die hoofstad aan die brand gesteek is deur Morsi-ondersteuners.

Die Amerikaanse president, Barack Obama het ook die geweld veroordeel en ‘n gemeenskaplike militêre oefening met Egipte, wat aanstaande maand sou plaasvind, gekanselleer.

Obama het homself egter nie uitgespreek oor die wetlikheid van die nuwe oorgangsregering in Egipte nie.

Die Egiptiese regering het ondersteuners van die afgesette president Morsi intussen gewaarsku dat die polisie toestemming het om volle mag te gebruik teen terreuroptrede of sabotasie.

Die dodetal in die jongste geweld in Egipte het tot meer as 600 gestyg. Die bevestigde dodetal staan op minstens 638, terwyl bykans 4 000 mense gewond is.

Die geweld wat die week uitgebreek het is die ergste sedert die begin van die “Arabiese lente”. Die militêre regering in Egipte slaan toe op ondersteuners van die afgesette president Mohammed Morsi en sy hoofsaaklik Moslem-ondersteuners, terwyl teenaanvalle ook plaasvind.

Die geweld het Donderdag verder uitgebrei toe regeringsgeboue naby die piramides aan die brand gesteek, polisiebeamptes geskiet en Christen-kerke aangeval is.

Die Moslembroederskap probeer hergroepeer na aanvalle op hul vestings en die in hegtenisneming van talle leiers.

Die Broederskap het gevra dat massa-optogte Vrydag gehou word om teenstand te bied teen die noodtoestand wat regering afgekondig het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.