Amerikaanse oorlogskip na Somali? teen seerowers

Deel op

‘n Amerikaanse oorlogskip is na die kus van Somalië gestuur waar ‘n vragskip wat deur die Verenigde Nasies gehuur is deur seerowers gekaap is.

ImageVN-personeel sê die gekaapte skip, die MV Rozen, lê tans geanker nadat dit voedselhulp aan noord-oostelike Somalië gelewer het.

Daar is geen berigte van eise wat deur die seerowers aan boord gestel is nie. Hulle is gewapen met AK-47’s, maar dis nie bekend of enige van die 12 skeepslui beseer is nie.

Seerowery kom algemeen in Somalië voor, maar het gedurende die onlangse Islamitiese heerskappy tot stilstand gekom.

Deel op

Sedert die omverwerping van die Unie van Islamitiese Howe aan die einde van verlede jaar, is Somalië egter besig om te verval in die geweld en chaos wat oor die vorige 16 jaar gesien is en hierdie jongste insident het vrese van ‘n hervatting van wetteloosheid ter see laat herrys.

‘n Segsman vir die Wêreldvoedselprogram, Said Warsame, sê die Amerikaanse oorlogskip is steeds in internasionale waters, maar dit is besig om die hawe van Bargal in die Puntlandgebied te nader waar die MV Rozen vasgemeer is.

VS-amptenare in Nairobi het nog nie die berigte bevestig nie.

“Die administrasie in Puntland is betrokke by pogings om die vrylating van die vaartuig en sy bemanning te verseker,” het mnr. Warsame gesê.

Puntland se minister van hawens, Saïd Mohamed Raage het gesê dat drie polisiesnelbote beplan het om die seerowers te omsingel.

Die bemanning bestaan uit ses Keniane en ses Sri Lankane, waaronder die kaptein.

“Ons het hulle gevra om nie verder te gaan nie want ons grootste bekommernis is die veiligheid van die 12 bemanningslede aan boord,” het kol. Abdi Ali Hagafe gesê.

Die Wêreldvoedselprogram sê daar was tot dusver geen lospryseise nie.

“Ons weet dis gekaap deur seerowers maar ons weet nie hoeveel seerowers daar is nie,” het Stephanie Sevariaud van die Wêreldvoedselprogram gesê.

Me. Savariaud het gesê die Rozen het 1800 ton voedselhulp aan die semi-outonome Puntlandgebied van Somalië afgelewer en was besig om na sy tuishawe van Mombasa in Kenia terug te keer.

Die Rozen is verlede jaar net buite ‘n hawe suid van Mogadisjoe aangeval, maar het toe daarin geslaag om die seerowers te ontwyk, het die WVP gesê.

In Oktober het Kenia ‘n groep Somaliese seerowers tronk toe gestuur nadat hulle deur die Amerikaanse vloot neffens die kus van Somalië gevang is.

Intussen is vyf mense beseer toe ‘n onbekende aanvaller ‘n ploftoestel na ‘n stalletjie geslinger het wat brandstof in die Somaliese hoofstad, Mogadisjoe, verkoop.

‘n Polisiebeampte is onder diegene wat deur die ontploffing in die noorde van die hoofstad gewond is.

Ooggetuies het gesê die aanvaller wat in ‘n voertuig wat van die toneel weggejaag het, het ontsnap.

hair accessoriesлобановский александр дочь

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.