Terugkeer van rassekwotas ‘betreurenswaardig’ sê VF+

Deel op
Hoskins
Hoskins

Rassekwotas in rugby en sport in die algemeen is ‘n stap agteruit en is onversoenbaar met ‘n aktiwiteit waar deelnemers uitsluitlik na uitnemendheid streef om die hoogste vlak van deelname op meriete te bereik, het ‘n VF+ se woordvoerder gesê

Adv. Anton Alberts sê die besluit van die Suid-Afrikaanse Rugby-Unie (SARU) dat spanne in die Vodacombeker-rugbyreeks aanstaande jaar ten minste sewe spelers in hul groep van 22 moet hê, is ‘betreurenswaardig’ en ‘onversoenbaar met sport’.

“Hierdie besluit is onverstaanbaar aangesien daar in die onlangse verlede die versekering gegee is dat kwotas nie meer toegepas sal word nie.

“Sport ontwikkel van ‘n lae ouderdom af, en vir twee dekades al is daar niks wat jong sportlui daarvan weerhou om vryelik deel te neem en in hul sport te presteer nie.

“Nou word rassekwotas skielik weer van bo toegepas. Soos voorheen sal dit onnodig alle spelers van kleur onder verdenking plaas en hul selfvertroue ondermyn aangesien die stigma van ‘n sogenaamde kwotaspeler hierdeur geskep word.

“Die Vryheidsfront Plus is van mening dat dit bloot deel is van die ANC se groot transformasieplan om die samelewing kunsmatig te integreer sonder om die diversiteit van die land en sy mense in ag te neem,” sê adv. Alberts.

Volgens adv. Alberts kan die Super 15-rugbyspan van die Southern Kings as voorbeeld geneem word waar geforseerde transformasie misluk het soverre dit blootstelling en ontwikkeling van spelers van kleur aanbetref.

Daarbenewens het dit een van die oudste unies in die land, die Lions, die geleentheid ontsê om aan die reeks deel te neem, wat ‘n bewys is hoe ondeurdag besluite oor sport op die hoogste vlak is.

“Die VF Plus volstaan met sy standpunt dat rassekwotas op die sportveld nie toegelaat moet word nie en dat sportmanskap en meriete, en nie kwotas nie, die enigste vereistes moet wees wanneer spelers op die veld draf,” sê adv. Alberts.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.