Afrikaans kort Quebecse wette

Deel op

roodt_dan_wikideur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Vandag is 14 Augustus, oftewel GRA-dag. Elke jaar op dié datum probeer ek besin oor die stand van ons taal, ter herinnering aan die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op dié dag in 1875.

Van kleins af het ek grootgeword met die besef van die belangrikheid van dié dag. In ons huis was daar ‘n boek met swart en wit foto’s rondom die Eerste en Tweede Taalbewegings in Afrikaans, genaamd “Plate-atlas by die Afrikaanse letterkunde”. Dit bevat insgelyks faksimilees van die eerste uitgawe van Die Patriot en ander vroeë Afrikaanse publikasies. Hier en daar het ek al van die foto’s en afdrukke ingeskandeer en op die internet geplaas. Dis trouens iets wat ons behoort te doen: om ‘n omvattende aanlyngeskiedenis van Afrikaans en die Afrikanerbewegings op te bou.

Gideon Malherbe, een van die stigters van die G.R.A. op 14 Augustus 1875
Gideon Malherbe, een van die stigters van die G.R.A. op 14 Augustus 1875

Die funeste oorgawe van mnr. FW de Klerk in 1994, maar ook die verengelsing van die Afrikaner-elite, kan beskou word as een van die groot rampe wat ons getref het. Trouens, vanoggend toe ek opstaan en dink, “dis vandag GRA-dag”, dwaal my gedagtes ook onwillekeurig na “sir FW” wat aan Brittanje en aan Engels die grootste geskenk in hul koloniale geskiedenis besorg het: die vestiging van Engels as Suid-Afrika se enigste amptelike en openbare taal.

Die taalbepalings van die huidige grondwet, soos omtrent alles wat Roelf Meyer bewimpel het, is eintlik ‘n grap. Die maak voorsiening vir elf amptelike tale maar in die fynskrif staan dit die regering vry om self te bepaal wat die amptelike taal sal wees. Soos in ‘n akademiese artikel deur Theodorus du Plessis uitgewys is, is die “taalvoorskriftelikheid” van die 1910- en 1983-grondwette afgeskaf en is ons oorgelewer aan ‘n vaagheid en onbepaaldheid rondom taal wat “regsgronde skep… vir die vestiging van Engels as supra-ampstaal en van ’n nuwe vorm van taalhiërargie”.

Trouens, dis by my ‘n ope vraag wie se minagting vir Afrikaans die grootste is, dié van die tradisionele Afrikaanshaters onder die Britse kolonialiste – waaronder ook die “rooi kolonialiste” van die afgelope aantal dekades – of dié van sir FW de Klerk, lord Koos Bekker en die res van die ryksmeelopers.

Gister op Twitter het ek genoem dat ons in die huidige stryd sal oorwin om die volgende redes:

  1. Ons vyande se propaganda word deur die werklikheid ontken.
  2. Hul enigste ID is haat vir ons, niks van hul eie. (Met ander woorde, die huidige soort kwasi-Engelse identiteit in Suid-Afrika berus op ‘n anti-Afrikaner-gevoel en bevat geen eie inhoud of positiewe selfdefinisie nie.)

Ons kan dus uitsien na ‘n tyd wanneer dié dwingelandy met sy geweld en taaldiskriminasie net ‘n aaklige herinnering sal wees. Die vraag is egter hoe Afrikaans dan as openbare en amptelike taal herstel sal word?

Die taalwette van Quebec, wat insgelyks die Franse taal in Noord-Amerika teen die omliggende oorheersing van Engels moet beskerm, bied aan ons ‘n nuttige studie-onderwerp. Daar bestaan ‘n sogenaamde “Handves van die Franse taal” (Charte de la langue française) wat van Frans die amptelike taal van die Quebec-provinsie maak. Omdat die Kanadese grondwet verhoed dat Frans die enigste amptelike taal van die provinsie mag wees, is enkele toegewings aan Engels gemaak:

  • Wette word in ‘n Engelse en Franse weergawe gepubliseer, met albei tekste wat as amptelik erken word;
  • Mense mag die howe in Engels aanspreek;
  • Die uitsprake van howe is in die amptelike taal (dus Frans) beskikbaar of in Engels indien een van die partye daarom sou vra.
  • Die handves van die Franse taal is nie op die Indianereservate van toepassing nie.

Verder staan die handves vyf grondliggende taalregte aan alle Quebecane toe:

  1. Die reg van alke persoon om in Frans met allle vertakkings van die regering, professionele verenigings, werknemersverenigings, en sake-ondernemings wat in Quebec gevestig is, te kommunikeer.
  2. Die reg van elke persoon om Frans in vergaderings te praat;
  3. Die reg van werkers om hul werk in Frans te verrig;
  4. Die reg van verbruikers om in Frans ingelig en bedien te word;
  5. Die reg van elkeen wat vir onderwys in Quebec kwalifiseer, om hul onderrig in Frans te ontvang.

Wat die aanbring van openbare tekens, reklame en dergelike betref, word die taalhandves deur die Kanadese howe só geïnterpreteer dat meertalige openbare tekens vertoon mag word, met dien verstande dat die Frans oorheers. In die praktyk beteken dit dat enige Engelse boodskap altyd vergesel moet word deur ‘n Franse boodskap wat aansienlik groter is. Iewers het ek gelees dat die Engelse letters net 30% so groot soos die Franse letters mag wees. Dit klink heel billik, hoewel die Engelse letters na my smaak nog ‘n bietjie te groot is.

Groot dele van Suid-Afrika waar Afrikaans die meerderheidstaal of die lingua franca is, kan met sulke wetgewing weer verontengels word. Afrikaners kan egter een stap verder gaan en die gebruik van Engelse tekens geheel en al in sulke gebiede verbied.

Selfs in hierdie Engelse Suid-Afrika met sy uitheemse kultuur, verskyn daar steeds Afrikaanse inligting op een bepaalde gebied: op medisinale verpakkings. Dit is omdat die wet wat onder die ou regering ingestel is nog nooit deur die ANC herroep is nie. Selfs Afrikaansvyandige maatskappye volg hierdie wet slaafs na, wat aantoon in welke mate taalwetgewing ‘n maklike en doeltreffende manier is om ‘n bepaalde taal te bevorder.

Ek het min vertroue in die taalpatriotisme van Afrikaners. In elk geval is dit moeilik om aanmekaar op openbare plekke, in restaurante en elders, op Afrikaans aan te dring wanneer ‘n groot aantal Afrikaners reeds gekondisioneer is om die huidige taalhiërargie (Engels bo) te aanvaar.

Die toekoms van Afrikaans sal bepaal word deur die huidige Afrikanerbeweging wat hom veral teen geweld in die vorm van volksmoord en etniese suiwering verset. Die uitwissing van Afrikaans maak deel van daardie volksmoord uit. Dit beteken ook dat mense soos me. Barbara Creecy van die Gautengse onderwysdepartement, wat besig is om Afrikaanse skole in die provinsie te probeer verengels, reguit van volksmoord aangekla behoort te word.

Afrikaners sal moet leer om soos die Quebecane, die Vlaminge en ander hul taalregte op te eis. Dis immers waarvoor die G.R.A. in 1875 gestig is. Dis onbegryplik dat Afrikaners onder die invloed van sir FW, die media en akademici, hul grootse tradisie van taalstryd grotendeels laat vaar het.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.