Salarisonderhandelings tussen vakbonde en goudprodusente hervat vandag voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.
Vier vakbonde wat mynwerkers verteenwoordig het ‘n geskil verklaar nadat samesprekings met die Kamer van Mynwese verlede maand misluk het.
Die saak is toe na die kommissie verwys. Dit is die derde keer die maand dat die partye voor die kommissie is.
Die goudbedryf bied ‘n salarisverhoging van vyf persent aan, terwyl vakbonde tot 100% eis, afhangende van senioriteit.
Die Kamer van Mynwese sê werkgewers se aanbod is gebaseer op die dalende goudprys en ‘n afname in produktiwiteit.
Die Kamer verteenwoordig goudprodusente wat sowat 140 000 mynwerkers in diens het. – RSG