
‘n Man is dood nadat sy voertuig van die oostelike landingshoof by die V & A Waterfront in Tafelbaaihawe in Kaapstad afgeloop het.
‘n Woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, Craig Lambinon, sê die passasier kon dit regkry om uit die voertuig te ontsnap en self aan wal te gaan.
‘n Werker in die gebied het in die water gespring en die voertuig se ruit gebreek. Volgens inligting word die bakkie vir instandhouding aangewend.
Lambinon sê die werker het dit reggekry om die bestuurder te bevry, maar hy is deur nooddienswerkers op die toneel dood verklaar. Die passasier word vir skok behandel.
Die liggaam van nog ‘n man is uit die see naby Wildernis in die Suid-Kaap gehaal. Lambinon, sê vrywillige seereddingspanne het ‘n soektog na die man begin na berigte dat vissermanne van Ballotsbaai ‘n liggaam op die rotse gesien het.
Hy sê die reddingsvaartuig kon weens onstuimige seetoestande nie die liggaam bereik nie. Die hulp van ‘n helikopter is toe ingeroep. – RSG