Koos Bekker, die Kaapse ‘Keiser Nero’

Deel op
Koos Bekker, uitvoerende beampte van Naspers, afgeneem saam met sy vrou Karen Roos, waar hulle die jaarlikse konferensie van die beleggingsfirma Allen & Company in Sun Valley, Idaho, bywoon. DIe konferensie word blykbaar "deur vele van die wêreld se magtigste mediabestuurders bygewoon".
Koos Bekker, uitvoerende beampte van Naspers, afgeneem saam met sy vrou Karen Roos, waar hulle die jaarlikse konferensie van die beleggingsfirma Allen & Company in Sun Valley, Idaho, bywoon. Dié konferensie word blykbaar “deur vele van die wêreld se magtigste mediabestuurders bygewoon”.

Die hoof van Naspers, Koos Bekker, besit volgens dié onderneming se jaarverslag 16,4 miljoen aandele in die maatskappy, wat ongeveer R17 miljard werd is. Dit maak van hom die derde rykste Afrikaner ná Johann Rupert (R50 miljard) en Christo Wiese (R37 miljard). Bekker is ook die agste rykste mens in Suid-Afrika, ryker as mev. Wendy Ackerman van die Pick ‘n Pay-familie wat op R14,6 miljard staan.

Bekker is egter ‘n kortkop agter Wendy Appelbaum, erfgename van die Gordon-familietrust wat met die Liberty-versekeringsgroep verbind word. Haar fortuin staan op R20 miljard. Die ander Suid-Afrikaners wat ryker as Bekker is, is Ivan Glasenberg (R100 miljard), Nicky Oppenheimer (R68 miljard), Patrice Motsepe (R26 miljard) en Elon Musk, die medestigter van PayPal en Tesla Motors, wat die skaal op R20 miljard trek.

Bekker eet gereeld in van die wêreld se duurste restaurante en besit saam met sy vrou, Karen Roos, die luukse “plaashotel en spa” genaamd Babylonstoren. Die plaas is in die Drakensteinvallei tussen Franschhoek en die Paarl geleë en word soos volg beskryf:

“Babylonstoren is ‘n Kaaps-Hollandse plaas met wingerde en vrugteboorde, omring deur die dramatiese berge van die Drakensteinvallei. Die plaas het ‘n besonder goed-bewaarde werf wat dateer uit 1690. Die vrugte- en groentetuin van botaniese diversiteit voorsien produkte aan ‘n besondere restaurant. Gaste wat by die eksklusiewe plaashotel tuisgaan geniet toegang tot die hele plaas, asook geriewe soos die spa en gim. Die doelwit is om gaste meer ontspanne te laat voel, te verkwik omring deur die warm glimlagte en eenvoudige daaglikse ritme van die plaas.”

Die restaurant Babel op die Babylonstoren-landgoed
Die restaurant Babel op die Babylonstoren-landgoed

Ook op die plaas is die eksklusiewe restaurant “Babel” wat blykbaar vanaf die plaas en vanuit die omgewing van proviand voorsien word. Bekker se vrou, Karen Roos, is ‘n voormalige redaktrise van binneversieringstydskrifte soos Elle Decoration en Red en beskryf haar as ‘n Epikureër en hedonis.

Koos Bekker, die suksesvolle globale kapitalis, koester egter ook ‘n sagte plekkie vir Bram Fischer, die voormalige leier van die ondergrondse Suid-Afrikaanse Kommunisteparty. Tydens die omstredenheid rondom die toekenning van ‘n eredoktorsgraad aan Fischer deur die Universiteit van Stellenbosch in 2004, het Bekker oor Fischer gesê: “Mens moet ‘n harde hart hê as iets in sy storie jou nie aangryp nie.”

Dr. Tertius Delport. Volgens Koos Bekker "verstaan hy nie die masjinerie van die geskiedenis nie" omdat hy teen die eredoktorsgraad vir Bram Fischer gekant was.
Dr. Tertius Delport. Volgens Koos Bekker “verstaan hy nie die masjinerie van die geskiedenis nie” omdat hy teen die eredoktorsgraad vir Bram Fischer gekant was.

Bekker het in ‘n toespraak veral uitgevaar teen die regsgeleerde en lid van die DA, dr. Tertius Delport, wat die toekenning van ‘n eredoktorsgraad deur Stellenbosch met ‘n teenmosie wou verhoed: In sy afwysing daarvan het Bekker gesê: “Die Delporters onderskat miskien die intellek van die Stellenbosse alumni. Dit is nie die gewone stemvee nie. Hoe op aarde stel mens Fischer se nalatenskap as bloeddorstig voor, waar Afrikaners soos hy en Beyers Naudé so ‘n groot rol gespeel het om Nelson Mandela en ander van die essensiële goedheid van die mens te oortuig? Hierdie aanname lê vandag ten grondslag van ons demokrasie.

“Verstaan hulle nie die masjinerie van die geskiedenis nie, of is die mosie maar iets irrasioneels, ‘n opwelling uit die put van skaam-kwaad?”

 

Binnekant van 'Babel'
Binnekant van ‘Babel’

 

Tydens Koos Bekker se bestuur van Naspers, het die maatskappy besluit om die term “Afrikaanse” in te voer om die woord “Afrikaner” te vervang wat volgens die voorsitter, Ton Vosloo, “aanstoot gee”. Joernaliste van Die Burger en ander Nasperspublikasies het omsendbriewe ontvang waarin hulle verbied is om die woord “Afrikaner” te gebruik, tensy dit in ‘n aanhaling deur iemand anders verskyn.

Met die aanvang van die Afrikaanse taalstryd in die vroeë 2000s het Bekker volgens ‘n voormalige kunsredakteur van Die Burger ‘n klompie van sy Afrikaanse joernaliste byeengeroep en oor die “gevoel ten gunste van die Afrikaanse taal” uitgevra. Blykbaar was Bekker verbaas daaroor dat mense hoegenaamd sterk gevoelens oor Afrikaans koester en het hy ook aan die joernaliste beklemtoon dat Afrikaanse media op daardie stadium slegs 12% van Naspers se omset uitgemaak het.

DIé syfer is vandag waarskynlik veel minder.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.