Tim du Plessis en Anton van Niekerk se foutlose politieke argitektuur

agter_die_lessenaardeur Leon Lemmer

JH du Toit haal Tim du Plessis soos volg aan: “Anders as onder apartheid is die argitektuur van die huidige politieke bedeling nie defektief nie” (Praag 4 deser). Wat Du Plessis blykbaar hiermee sê, is dat hy tevrede met FW de Klerk se politieke skikking en met die grondwet is; dus dat ‘n gesonde grondslag vir ‘n suksesvolle, vooruitstrewende en voorspoedige land bestaan.

Van Du Plessis se kant af is daar klaarblyklik geen beswaar dat De Klerk se beloofde magsdeling algehele oorgawe aan swart mag geword het nie; ook nie dat De Klerk geen mandaat hiervoor gehad het en die huidige politieke opset dus streng gesproke onwettig of ten minste ongemagtig is nie. Die blatante verraad wat teen die blanke kiesers gepleeg is, het volgens Du Plessis dus nie aanleiding tot wesenlike tekortkominge gegee nie. Kortom, laat ons juig en bly wees, want dit is blykbaar net in die toepassing van die voortreflikhede waar daar soms dinge is wat ‘n bietjie haper. In werklikheid is die wittes in 1990/94 ernstig tekort gedoen terwyl die swartes buitensporige oorvergoeding ontvang het.

Ten spyte van sy verlede word Nelson Mandela as ‘n ikoniese held voorgestel wat wêreldwyd vereer word. Tydens sy verhoor het hy homself soos volg gekomplimenteer: “I have fought against white domination, and I have fought against black domination” (Nelson Mandela, Long Walk to Freedom, London: Abacus, 1995, p 438). Wat Mandela hier gesê het, is dat nóg die wittes nóg die swartes toegelaat moet word om die landspolitiek te oorheers. Dit kan vertolk word as in ooreenstemming met die beloofde magsdeling waaroor De Klerk so hoog opgegee het, maar waarvan daar geen teken is nie.

Waarmee ons vandag sit, is algemene stemreg in ‘n eenheidstaat. Geen kwalitatiewe vereistes vir stemreg, behalwe burgerskap en ouderdom, word gestel nie. Dit is ‘n geval van een mens, een stem. Iedere stem het dieselfde gewig of waarde. In die praktyk beteken dit kolossale en toenemende swart dominansie, waarteen Mandela sedert 1990 geen beswaar geopper het nie. Hoewel elke stem dieselfde waarde het, het elke kieser egter nie naasteby dieselfde waarde vir die land nie, bv die boer is baie meer werd as die plaasarbeider. Die sakeman met ‘n besigheid en eiendom het groot belang by wat plaaslik en in die land gebeur. Tog het sy stem dieselfde waarde as dié van die armlastige en selfs misdadige nie-betaler wat op aalmoese leef.

Deel van die politieke “argitektuur” waarmee ons opgesaal sit, is die oordrewe klem op menseregte wat meebring dat misdadigers hulle stemreg in die tronk behou. Diesulkes wat dade teen die belange van die samelewing gepleeg het, word dus toegelaat om inspraak in die voortgang van die land te hê. In baie Amerikaanse state word die stemreg van gevangenes egter opgeskort en in die geval van ernstige misdade kan stemreg in 14 state permanent ontbeer word (“Disenfranchised for life,” The Economist, 24.10.1998, p 60). As hierdie gesonde beginsel in die nuwe Suid-Afrika ingevoer word, sou van die dikste spykers in ons jong demokrasie nie kon stem nie. Booswigte het dit immers as ‘n prestigesaak beskou om misdade tydens die “apartheidsregime” te pleeg.

Suid-Afrika het onder blanke leiding die ontwikkeldste land in Afrika geword. As die land in Noord-Afrika was, kon dit aan die nabyheid van Europa toegeskryf word. Dat die suksesvolste Afrikaland op die verste punt van Europese beskawing geskep is, dui op ‘n byna ongelooflike prestasie. Hierdie voorspoed kan hoofsaaklik aan die teenwoordigheid van ‘n substansiële getal blankes oor ‘n tydperk van eeue toegeskryf word. Hierdie lofwaardig ontwikkelde en gesofistikeerde land is eensklaps aan ‘n polities en administratief grootliks onervare en onkundige “bevrydingsbeweging” oorgedra. Dit was rewolusionêre dwaasheid.

Leon Wessels noem dit “‘n onderhandelde revolusie” (Vereeniging, die Onvoltooide Vrede, Kaapstad: Umuzi, 2010, p 57). Wessels, wat oorloop van ons “bewonderingswaardige Grondwet” (p 60), beweer dat “elkeen gelyke regte, behandeling en geleenthede [in die nuwe Suid-Afrika] sou geniet” (p 56). In werklikheid is die argitektuur van die nuwe politieke bedeling sodanig dat die uitkoms ongelyke regte is.

Om suksesvol te wees, moet die lot van ‘n land nie deur die meeste mense bepaal word nie, maar deur die beste (bv ontwikkeldste, beskaafdste, bekwaamste, toegewydste, hardwerkendste) mense. Dit impliseer dat stemreg aan kwalitatiewe standaarde moet voldoen. Vanselfsprekende vereistes is funksionele geletterdheid en ingeligtheid; vermoëns wat tans nie van kiesers of politici vereis word nie. As “geregtigheid” deesdae beteken dat iedereen in ‘n demokrasie moet kan stem, kan ‘n stem met die minimum gewig aan dese en gene toegeken word. Hoe meer ‘n indiwidu vir ‘n land werd is, hoe swaarder behoort die gewig van sy stem egter te wees.

Blankes het eeue lank opgeoffer om plaaslik baie tot stand te bring. Die swartes, wat hulle tans so graag met hulle Amerikaanse broers en susters vereenselwig, was nooit slawe nie en is nie verplig om te werk nie. Daar word deesdae graag beweer dat Suid-Afrika se ontwikkeling aan die “sweet, bloed en trane” van die swartes te danke is. In die res van Afrika is daar baie sodanige sweet, bloed en trane, maar ontwikkeling het agterweë gebly omdat arbeid nie danksy bekwame leiding beheer en gerig is nie.

“Na die [Anglo-Boere-]oorlog was daar ‘n opeenhoping van hawelose swartes op die boereplase en in die groot nywerheidstede en tog was daar ‘n gebrek aan arbeiders op sowel die plase as in die nywerhede, en die reservate was reeds oorbevolk” (Louis Changuion, Omstrede Land, Pretoria: Protea Boekhuis, 2011, p 120). Dit herinner aan die invoer van slawe in die 17de eeu omdat die Khoisan grootliks onbruikbaar as arbeidsbron was. Dit laat ‘n mens ook dink aan die invoer van Indiërs as tydelike werkers op die suikerplantasies gedurende die laaste veertig jaar van die 19de eeu, asook die werwing van swartes in veral die buurlande as trekarbeiders vir die myne. Daar was baie swartes in Suid-Afrika maar baie van hulle was ongeskik of ongeneë om bevredigend as arbeiders te funksioneer. Omdat hierdie swartes nooit slawe was nie, is daar by baie van hulle nie ‘n werkkultuur geskep soos by bv sommige Kaapse Maleiers nie.

Wat in die land opgebou is, het oornag in die skoot geval van mense wat dit nie naasteby verdien nie. Voor 1990 het die ANC en soortgelyke “bevryders” doelbewus probeer om die land sover moontlik af te breek. Sedertdien word die vernietiging in baie opsigte weens bv onbevoegdheid voortgesit. Dit is gewoon nie in die openbare belang nie. Daar kan geredeneer word dat swartes op grond van die mate van arbeid wat hulle gedoen het, op ‘n aandeel in politieke mag aanspraak kan maak. Maar dit behoort nie meer as die helfte van daardie mag te wees nie. Die ander helfte kom die blankes (desnoods saam met die bruines en Asiate) toe. As laasgenoemde groep (of desnoods albei groepe) daarbenewens ‘n vetoreg gehad het, sou die politieke “argitektuur” minder defektief gewees het.

Anders as in bv die VSA, sit ons met ‘n grondwet wat geen minderheidsregte erken nie. Iemand soos Willie Esterhuyse (in Eindstryd, 2012) verbly hom daaroor dat daar in die nuwe Suid-Afrika net indiwiduele en geen groepregte is nie. In werklikheid is dit net die wittes wat van hulle groepregte gestroop is. Die bruines, Asiate en veral swartes het groepregte. Ingevolge sogenaamde regstellende aksie word indiwidue in daardie groepe bevoordeel; nie noodwendig omdat diesulkes oor die nodige bevoegdheid beskik nie, maar omdat hulle op grond van geboorte lidmaatskap van daardie groepe het.

Daar word dikwels beweer dat die grootste tekortkoming van die vorige politieke bedeling rassediskriminasie was, dus die bevoordeling van een etniese groep bo ander. ‘n Mens sou dink dat enige poging om ‘n beter politieke bedeling daar te stel vanselfsprekend sou uitgaan van die onwrikbare standpunt dat alle rassediskriminasie verbied word. Pleks daarvan word rassediskriminasie teen blankes (en net blankes) deur die grondwet toegelaat en eintlik vereis. Daar kan geredeneer word dat dit gedoen is om vir die beweerde historiese benadeling van ander groepe te vergoed.

Die ooglopende fout met hierdie argitektuur is dat geen keerdatum vir die beëindiging van gewettigde rassediskriminasie teen blankes gestel is nie. Die progressief groter wordende swart dominansie het die grondwetlike reg om hieroor te besluit en kan die neo-rassediskriminasie teen blankes tot in die oneindige laat voortbestaan. Dit is onwaarskynlik dat die blankes in die huidige politieke opset ooit van die juk van rassediskriminasie bevry sal word, omdat dit moontlik eers sou gebeur wanneer swartes nie meer vrees om op gelyke voet met blankes om bv poste mee te ding nie.

Waarop die argitektuur van die huidige politieke bedeling neerkom, is dat blankes nie hulle regmatige plek in die samelewing gegun word nie. Op grond van hulle bewese prestasie verdien blankes eintlik beter behandeling en meer agting as ander groepe. In werklikheid sit wittes tans met minderwaardige burgerskap in hulle geboorteland en word hulle daagliks verguis pleks van vereer vir wat hulle tot stand gebring het.

‘n Rubriekskrywer soos Tim du Plessis moet elke week iets kry om oor te skryf. Dit is nie altyd maklik om ‘n onderwerp te vind wat sinvol is nie. In sy eie belang moet hy liefs sê dat hy te besig of te siek is om sy rubriek te skryf as om die dwaasheid te verkondig dat ons politieke argitektuur nie defektief is nie. Hy verhoog nie sy aansien met sulke uitlatings nie. Hy bevorder sekerlik ook nie die belange van sy mense nie.

Anton van Niekerk van die Universiteit Stellenbosch (US) het die afgelope week weer op sy regop gekeerde lessenaar geskryf en te kenne gegee dat daar nie skadelike rassediskriminasie teen blankes gepleeg word nie; dat die ongelyke behandeling wat wittes te beurt val inderdaad heilsame gevolge het. Van Niekerk het met hierdie vergesogtheid vorendag gekom: “Die US toon dat transformasie en gehalte nie teenoor mekaar staan nie, maar mekaar juis ondersteun” (Die Burger, 7 deser, p 9).

Wat Van Niekerk beweer, is dat hoewel (1) al hoe meer nie-wit kandidate met bewese akademiese onderprestasie ten koste van akademies sterker blanke kandidate as studente tot die US toegelaat word en (2) al hoe meer nie-wit kandidate met mindere akademiese kwalifikasies en ondervinding ten koste van akademies sterker blanke kandidate as dosente aan die US aangestel en bevorder word, die akademiese gehalte van hierdie universiteit deurlopend verbeter.

Van Niekerk het enkele dekstoele geselekteer wat hy as aanduidend van akademiese uitnemendheid vertolk, bv “die volgehoue verbetering in die deurvloeikoers,” wat egter heel moontlik aan die verlaging van akademiese standaarde toegeskryf kan word. Hy verwys na die navorsingsuitsette, maar analiseer hulle nie. Sodanige ontleding toon dat dit hoofsaaklik wit akademici is wat navorsingsgewys presteer. Van Niekerk beweer egter dat sodanige akademiese prestasie aan transformasie te danke is. In werklikheid dui die mate van gesonde akademie wat steeds op die kampus bestaan, op reste van die US van weleer wat oorleef het.

Die groter prentjie is: Transformasie hou nie, soos Van Niekerk beweer, die akademiese skip van die Botman-US vlot nie, maar verseker veel eerder die ondergang daarvan. Dit is ooglopend dat die US deesdae eerder politiek-korrek as akademies-korrek wil wees. Van Niekerk bring die blye tyding dat deur die politieke here te dien, die US op ‘n voortreflike manier daarin slaag om ook die akademiese here dien. Dus, hoe meer die US hom op die breë weg van ANC-politiek begeef, des te beter word die smal weg van die akademie bewandel.

Wat Van Niekerk by implikasie beweer, is dat hoe meer die US verswart, dus hoe minder die blanke teenwoordigheid op die kampus, des te uitnemender word die US as akademiese inrigting. Wêreldwyd weerspreek vergelykende swart-wit akademiese en ander prestasie egter hierdie Van Niekerk-stommiteit. Wat Van Niekerk beweer, is onverdunde twak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.