Kommer oor Stad Kaapstad se buitensporige salarisverhogings

Deel op
Burgemeester De Lille
Burgemeester De Lille

Daar heers kommer oor die buitensporige las wat salarisse op die begroting van die Stad Kaapstad plaas. Salarisse beloop tans sowat ‘n derde van die stad se begroting en daarbenewens is ‘n gemiddelde salarisverhoging van 6.84% nou ook goedgekeur, sê mnr. André Fourie, Vryheidsfront Plus-raadslid vir Kaapstad.

Volgens mnr. Fourie is die besluit om salarisse te verhoog tydens ‘n raadsvergadering op 31 Julie (verlede maand) geneem.

Hy sê die Vryheidsfront Plus verwelkom daarom die realistiese erkenning van mnr. Ian Nielson, Kaapstad se onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir finansies, dat die kwessie van salarisse ‘ernstige gevaarligte’ laat flikker.

“Niemand wil amptenare, veral dié wat ‘n swaar las dra en briljant presteer, salarisverhogings ontsê nie. Dit is egter jammer dat die aanbevelings vir die verhogings vir die stadsbestuurder en uitvoerende direkteure noem dit word gedoen om salarisse ‘markverwant’ te hou.

“Munisipale amptenare regdeur Suid-Afrika en nie net in Kaapstad nie, verdien 30% tot 40% meer as hul eweknieë in die private sektor en dit maak so ‘n stelling absurd. Dit is harde feite wat nie weggepraat kan word nie,” sê mnr. Fourie.

Volgens mnr. Fourie sal SALGA (die vereniging vir plaaslike regerings) net soos ander vakverbonde wat onrealistiese looneise najaag, harder aangepraat moet word oor sy roekelose, blatante en voorskriftelike aanbevelings wat net so op alle stadsraads-amptenare en deur die Stad Kaapstad nagevolg en toegepas word.

Hierdie aanbevelings word voorgelê terwyl die Stad en sy amptenare geen simpatie het met Jan en Alleman wat swoeg om te oorleef nie.

“Daar is by duisende pensioentrekkers, gemiddelde werknemers en andere geen hoop om naby ‘n jaarlikse 6.84%-verhoging te kom nie maar hul belastings in Kaapstad het gemiddeld met meer as 100% gestyg oor die laaste ses jaar.

“Daar is stede in Amerika wat bankrot raak en die gevaar loop om bankrot te raak en die Britte het vir ‘n paar jaar reeds ‘n moratorium op munisipale begrotingsverhogings geplaas. Ons kan in hierdie opsig nie bekostig om oorgerus te raak nie,” sê Mnr. Fourie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.