Wildstropers bedreig aasvoëls

Deel op

vulturesWildstropers wat die karkasse van trofeediere met gif laai is ‘n groot bedreiging vir aasvoëls in Namibië.

Mnr. Peter Bridgeford van Vultures Namibia is as Walvisbaaier een van die grootste navorsers en bewaarders van Namibië se aasvoëls. Met Walvisbaai as die basis van Vultures Namibia konsentreer hy op die skaars swartaasvoëls van die Namib, maar aanmeldings van witrugaasvoëls in ander dele van die land kan ook by hom gedoen word. Enkele witrugaasvoëls kom wel in die Namib voor.

Hy sê minder aasvoëlvrektes word deur roofdiere soos jakkalse en rooikatte veroorsaak. Oor die optrede van wildstropers en die gevolglike uitwissing van aasvoëls het hy ‘n onlangse voorval in Caprivi genoem. Daar het wildstropers ‘n olifant onwettig geskiet. Aasvoëls dien as klikkers van sodanige voorvalle deurdat hulle bo die karkas rondsweef.

Dit kan die gereg na die diewe en hul prooi lei. Gevolglik word die karkas met gif gelaai. In die genoemde voorval het blykbaar tot driehonderd aasvoëls aan vergiftiging gevrek.

Verdoemende bewysstukke wat dié week op die ministerie van landbou, water en bosbou se proefplaas Omatjene buite Otjiwarongo gevind is, toon intussen dié regeringsplaas is ‘n nes van onwettige jagbedrywighede.

Die moontlikheid is nie uitgesluit dat regeringsbeamptes kop in een mus met die wilddiewe is nie.

Nagenoeg 20 draadstrikke is gevind nadat die Otjiwarongo Buurtwag, vergesel van polisiereserviste en ‘n natuurbewaarder, deur ‘n boer op een van die buurplase daarheen ontbied is.

Die strikke is by veeposte gestel en moeite is nie eens gedoen om dit te versteek nie. Mnr. Eben du Plessis, sekretaris van die buurtwag, sê volgens werkers op die regeringsplaas word die veeposte weekliks gepatrolleer.

Hy sê hulle is ontbied nadat die boer wie se plaas aan Omatjene grens, honde op die regeringsplaas hoor blaf het toe hy besig was om aan ‘n waterpomp te werk. Hy het gaan ondersoek instel en op ‘n regeringsbakkie van die proefplaas afgekom.

“Die boer het die bakkie gestop en agterop was die skedel van ‘n koedoebul, ‘n dooie vlakvark met letsels van ‘n draadstrik om sy lyf en ‘n hondeketting,” sê Du Plessis.

“Een van die mans van die proefplaas het die plek gaan uitwys waar die bosvark die oggend in ‘n strik gevind is.”

By die betrokke veepos het die buurtwag en polisiereserviste nog ses draadstrikke gevind en verwyder. Daarna het hulle elf draadstrikke by twee ander waterposte gekry.

“Die strikke was duidelik sigbaar. Hierdie poste word volgens die werkers van Omatjene weekliks gepatrolleer, maar geen poging is aangewend om die strikke te verwyder nie. Dit dui daarop dat hulle moontlik by die onwettige jagtery betrokke was,” sê hy.

Hy sê die vermoede bestaan dat honde vir die onwettige jagtogte op Omatjene ingespan word.

“Hoewel die boer nie die honde gesien het nie, het hy hulle hoor blaf. Ons het ook ‘n halsband en ketting gevind waarmee die honde vermoedelik agterop die bakkie vasgemaak word.” – Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.