
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê hy is gereed vir vandag se hoogs-betwiste tussenverkiesing in wyk nege van die Tlokwe munisipaliteit in Potchefstroom in Noordwes.
Die pos is vakant nadat ‘n raadslid bedank het om te fokus op sy werk as ‘n onderwyser.
Die polisie in Noordwes sê daar is genoeg beamptes ontplooi om orde in die provinsie te handhaaf.
Die tussenverkiesing word gesien as ‘n toets vir die ANC en die DA wat in ‘n voortslepende stryd gewikkel is oor die beheer van die stadsraad.
‘n Polisiewoordvoerder het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om vreedsaam te stem.
Sewe tussenverkiesigs word ook Woensdag in die Wes-Kaap gehou.
Drie van die tussenverkiesings vind plaas in die Oudtshoorn munisipaliteit in die Klein Karoo, waar die DA net een wyk moet wen om beheer van die munisipaliteit by die ANC oor te neem.
Wyk vyf, wyk ses en wyk dertien is vroeër deur die ANC bestuur. Die poste in dié wyke is vakant nadat die raadslede uit die party geskors is.
Tussenverkiesings word ook in George, die groter Plettenbergbaai gebied, Hermanus en Velddrif gehou. – RSG