
Botswana sê hy gaan leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap probeer oorreed om die verkiesingsuitslae in Zimbabwe te laat oudit.
Dié land se minister van Buitelandse Sake, Phandu Skelemani het in Gaberone gesê Botswana bevraagteken die regverdigheid van die verkiesing.
Skelemani sê Botswana is bekommerd dat die verkiesing nie aan die SAOG se riglyne voldoen het nie en dat verskeie insidente en ongerymdhede voorgekom het wat die regverdigheid, deursigtigheid en geloofwaardheid van die proses in gedrang bring.
Westerse lande het vroeër ook die uitslag bevraagteken nadat die opposisieparty, die MDC, gesê het verkiesingsbedrog is gepleeg.
Botswana se president Ian Khama is een van die weinige Afrika-leiers wat president Robert Mugabe openlik kritiseer. In 2008 het Botswana geweier om Mugabe se herverkiesing te erken.