Noorweë het sy ambassades in Saoedi-Arabië en Jordanië gesluit vir die publiek weens kommer oor terreurdreigemente, het dié land se ministerie vir buitelandse sake Maandag gesê.
Dié Skandinawiese land het ook veiligheid by ander diplomatieke sendings in die Midde-Ooste en Noord-Afrika opgeskerp sowel as in sensitiewe punte soos Nairobi, het die ministerie gesê.
“Ons het openbare toegang beperk deur byvoorbeeld die konsulêre afdelings in Riyaad en Amman te sluit,” het Frode Andersen, ‘n woordvoerder vir die minister, aan AFP gesê.
Die VSA het Sondag 25 diplomatieke sendings gesluit nadat Al-Kaïda-inligting oor ‘n aanval deur intelligensieoprateurs onderskep is.
Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het Amerikaanse toeriste wêreldwyd gewaarsku dat Al-Kaïda dalk ’n wraakaanval in Augustus in veral die Midde-Ooste en Noord-Afrika beplan. – Sapa/AFP