Gedenkdiens vir polisieslagoffers van Kaapse bendegeweld

Deel op

drugsct‘n Gedenkdiens sal Maandag in Kaapstad gehou word vir die vier polisielede wat in die jongste voorvalle van bendegeweld in die Kaapse Skiereiland doodgeskiet is.

Nog ‘n polisielid is steeds in die hospitaal. Die polisie sê verskeie leidrade word opgevolg om die skuldiges vas te trek.

In die heel jongste voorval is ‘n 34-jarige polisielid verlede week deur twee onbekende mans by sy huis in Montclair in Mitchellsplein afgemaai.

Die nasionale polisiekommissaris Riya Phiyega sal na verwagting ‘n krans by die Khayelitsha polisiestasie lê, waarna ‘n diens later in Kuilsrivier gehou sal word.

Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, het vroeër gesê die polisie oorweeg ‘n meesterplan om die dwelmprobleem op die Kaapse Vlakte te pak. Mthethwa sê Philippi is as ‘n loodsprojek aangewys.

Hy het ook gesê die Kaapstadse burgemeester, Patricia de Lille, steun hom in die benadering, wat behels dat maatskaplike ontwikkeling, gesondheid, onderwys en die polisie in ‘n vennootskap saamwerk.

Mthethwa sê hy is tevrede met die polisie se stryd teen dwelms in die Wes-Kaap, maar die hoë voorkoms van bendegeweld moet aandag kry.

Nie die minister of De Lille het verduidelik hoe die twee probleme geskei kan word nie, aangesien bendegeweld en dwelms nou verwant is.

De Lille se woordvoerder, Solly Malatsi, het bevestig dat die DA en ANC verlede maand in verband met die anti-dwelmveldtog oorleg geplaag het.

Hy sê Mthethwa het ook ingestem om met die provinsiale regering oor die saak saam te werk.

President Jacob Zuma sê buitengewone ingrypings is nou nodig om bendebedrywighede te bekamp. Hy het op Botshabelo, oos van Bloemfontein gepraat as deel van die ANC se veldtog vir volgende jaar se algemene verkiesing.

Die president sê bendelede wat gemeenskappe terroriseer is simbolies van ‘n ongesonde gemeenskap. Hy het slagoffers van bendegeweld in die gebied besoek en belowe om met die polisie te praat sodat stappe gedoen kan word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.