Suid-Afrikaner beskuldig Israel van ‘apartheid’

Deel op

Genève – ‘n onafhanklike verslag wat deur die Verenigde Nasies aangevra is, vergelyk Israel se optrede op die Wesoewer en Gazastrook met apartheid in Suid-Afrika – ‘n aanklag wat snydende ontkennings van Israel ontlok het.

Image

John Dugard

Die verslag is opgestel deur John Dugard, ‘n Suid-Afrikaanse regsgeleerde wat voorheen aan die Universiteit van die Witwatersrand gedoseer het en oorspronklik aan Stellenbosch gestudeer het. Tans is Dugard die sogenaamde onafhanklike ondersoeker na die Israeli-Palestynse konflik vir die VN se Menseregteraad. Sy verslag sal eers aanstaande maand voorgelê word, maar is reeds op dié liggaam se webwerf beskikbaar.

In die verslag sê Dugard dat “Israeli-wette en –praktyk in die (Palestynse gebiede) kom beslis ooreen met aspekte van apartheid”.
Deel op

Die verslag sit ‘n hele lys van klagtes jeens die Joodse staat uiteen wat wissel van beperkinge op Palestynse bewegings, huise wat platgestoot word en voorkeurbehandeling wat aan Joodse setlaars op die Wesoewer gegee word.

“Kan dit ernstig ontken word dat die doel van sulke optrede is om oorheersing deur een rassegroep – Jode – oor ‘n ander rassegroep – Palestyne – tot stand te bring en te handhaaf, asook om hulle sistematies te onderdruk?” skryf hy in die verslag.

Israel hou vol dat sy optrede bedoel is om Palestynse selfmoordbomme te verhoed, asook ander aanvalle wat meer as 1 000 Israeli’s oor die afgelope ses jaar gedood het. Amptenare het gesê dat geweld in 2000 uitgebreek het nadat Israel se voorstel verwerp is om die grootste gedeelte van die Wesoewer en Gaza in ruil vir vrede te verlaat.

Israel se ambassadeur in Genève het Dugard gekritiseer omdat hy slegs die Joodse staat aanval.

“Enige gevolgtrekkings wat hy mag maak is daarom fundamenteel skeef en opsetlik bevooroordeeld,” het Yitzhak Levanon gesê.

Die verslag sal aanstaande maand by die Menseregteraad wat uit 47 nasies bestaan, voorgelê word. Die nuwe liggaam is wyd gekritiseer – selfs deur die stigter, die vorige VN-sekretaris-generaal Kofi Annan – omdat slegs ‘n enkele regering ter wêreld, dié van Israel, oor beweerde vergrype uitgesonder word.

Dugard se verslag beweer dat beide kante oorlogsmisdade gepleeg het, maar hy rig sy felste kritiek op Israel.

“Dit is van toepassing op Palestyne wat Kwassam-vuurpyle in Israel inskiet; en soveel te meer op lede van die Israeli-weermag wat sulke misdade op ‘n veel groter skaal gepleeg het,” skryf hy.

Dugard is in 2001 aangestel as ‘n onbetaalde deskundige by die vorige VN-menseregtekommissie wat slegs oortredings van die Israeli-kant ondersoek het, wat Israel en die Verenigde State daartoe oorreed het om sy verslae as eensydig te verwerp. Israel het geweier om hom toe te laat om ‘n feitesending ten opsigte van sy Gaza-offensief verlede somer te onderneem.

Die vorige Amerikaanse president, Jimmy Carter, is verlede jaar gekritiseer weens die titel van sy mees onlangse boek oor die Israeli-Palestynse vredesproses, Palestine: Peace not Apartheid.

Die verwysing na apartheid het sekere Joodse leiers ontstel omdat dit skynbaar die Suid-Afrikaanse stelsel met Israel se behandeling van Palestyne gelykstel.

Carter het geantwoord dat sy gebruik van die term “apartheid” nie van toepassing was op omstandighede in Israel self nie, en dat hy verwys het na die begeerte van ‘n minderheid Israeli’s vir Palestynse grondgebied en die gevolglike gewelddadige onderdrukking van betogings.

best freeДанильченко Юрий Брониславович Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.