Wapenskandaal-ondersoek open

Deel op
Patricia de Lille
Patricia de Lille

Die langverwagte Kommissie van Ondersoek na strategiese verdedigingsaankope begin vandag in Pretoria met sy openbare sittings.

President Jacob Zuma het in 2011 die kommissie aangestel ná oproepe deur opposisiepartye dat bewerings van bedrog en korrupsie ondersoek word.

Die kommissie het egter verskeie terugslae beleef met die bedanking van sleutelpersoneellede. Een van die kommissarisse, regter Francis Legodi, het verlede week sy bedanking ingedien, terwyl die getuienisleier, Tayob Aboobaker Vrydag bedank het, maar gister sy bedanking teruggetrek het.

Die kommissie het bekendgemaak dat Aboobaker Vrydag sy bedanking ingedien het, maar dat hy dit teruggetrek het nadat daar met hom gesprek gevoer is.

Die woordvoerder van die kommissie, William Baloyi, kon nie redes verskaf vir Aboobaker se bedanking nie. Aboobaker is die mees senior regspersoon in die kommissie.

Volgens bronne het Aboobaker die kommissie van nepotisme, binne-gevegte en ‘n gebrek aan professionaliteit beskuldig.

Oudpresident Thabo Mbeki, die beplanningsminister, Trevor Manuel en die oudministers Mosioua Lekota, Ronnie Kasrils en Alec Erwin sal verskyn.

Die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, wat beskou word as die persoon wat die beweerde bedrog oopgevlek het, sê die kommissie moet ‘n kans gegun word om sy werk te doen.

De Lille het haar kommer uitgespreek omdat die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapentransaksie binne ses maande aan president Jacob Zuma moet verslag doen.

Sy sê die president self word by van die bewerings betrek.

Die ondersoek na die omstrede wapentransaksie in die laat negentiger-jare, begin vandag met hul openbare sittings.

Die onafhanklike verdedigingskenner, Helmoed-Romer Heitman sê teen die tyd het diegene wat by korrupsie betrokke was waarskynlik reeds hul voetspore doodgevee. – RSG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.