Kaptein Piet Croucamp se spekskietery

delport_manfred_600

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

‘n Engelse woord vir ‘n seerower, “buccaneer”, is van die Franse term “boucanier” afgelei. Laasgenoemde verwys na die gewoonte van Franse jagters op Karibbiese eilande soos Haïti om vleis van wildevarke te rook op ‘n houtraam, en is ook die stam van die Engelse woord “bacon”.

Die fiktiewe kaptein Jack Sparrow, uit die rolprente Pirates of the Caribbean, se oorspronklike beroep is dus baie minder romanties as wat dit mag klink. Daardie groot intellektueel van die Universiteit van Johannesburg, dr Piet Croucamp, wat lyk na die liefdeskind van Koos Kombuis en Jack Sparrow agv sy gewoonte om met ‘n belaglike kopdoek aan in die openbaar te verskyn, het varkjagtery egter een stappie verder geneem, en boucaniers sommer tot ‘n volk verhef.

Want sien, kaptein Jack Croucamp reken hy is g’n Afrikaner nie, want Afrikaners bestaan volgens hom nie as etniese groep nie. Op Afriforum se werf Maroelamedia.co.za, nogal. O, die ironie dat hy dit in Afrikaans, die taal van die Afrikanervolk, moes doen, op ‘n werf wat aan ‘n Afrikaner-organisasie behoort!

Volgens kaptein Croucamp bestaan daar g’n so ‘n ding soos ‘n Afrikaner as ‘n etniese groep nie, laat staan nog ‘n Afrikanervolk. Afrikanerskap, volgens kaptein Croucamp, is bloot ‘n “lelike ideologiese konstruk”. Nie net bestaan Afrikaners as volk of dan etniese groep nie, maar ook is baie van ons van ‘n lae intelligensie, en kru-rassisties. Seg ‘n volwasse man wat soos ‘n seerower aantrek, maar dan van ons verwag om hom ernstig op te neem. Só dom is ons, dat ons glad nie eens begryp wat op die Praagwerf geskryf word nie. Dit is net intellektuele met kopdoeke wat werklik kan begryp wat Fransi Phillips skryf.

Ek moet daarom ook sommer onmiddellik jammer sê, my kaptein, sou jy hierdie lees, want ek weet jy gaan ‘n probleem hê met my gebruik van die term Afrikaner as ‘n naam vir my volk. Volgens jou is dit mos ‘n blote ideologiese konstruk en ‘n rookskerm vir rassisme. Beskou “Afrikaner” dus maar as my oningeligte, dom, rassistiese naam vir blanke, Afrikaanssprekende inwoners of voormalige inwoners van Suider-Afrika, wat meestal Protestantse westerlinge is en die eiesoortige, inheemse Afrikanerkultuur aanhang. Laasgenoemde is egter ‘n hele mondvol om elke keer van voor af te moet tik, en al beskou jy wat kaptein Croucamp is dit as ‘n blote sosiale konstruk, lyk laasgenoemde vir my na die definisie van nie net ‘n etniese groep nie, maar ook inderdaad na die teksboekdefinisie vir ‘n volk.

Wat sal ek egter weet? Nie net dra ek nie ‘n kopdoek nie, maar het ek ook ‘n regte werk en hou ek my lyf nie akademikus, wie se salaris deur Afrikanerbelastingbetalers betaal word, in die sagte sogenaamde wetenskap van die sosiologie, nie.

Wat kaptein Croucamp egter nalaat om te doen, in sy kwasi-intellektuele tirade op die bogenoemde werf, wat kennelik net deur kopdoekdraers begryp kan word, is om ons ou dom, rassistiese Afrikaners in te lig aan watter nasie hy wat kaptein Croucamp is, dan kwansuis behoort. Kaptein Croucamp praat Afrikaans. Hy is blank. Hy het net een eggenoot, sover ek bewus is, en sy kind woon selfs ‘n Afrikanerlaerskool by. Hy dans nie soos Helen Zille op die Afrika-manier op verhoë nie. Duidelik is hy dus nie, soos president Zuma, ‘n Zoeloe nie.

So terloops: President Zuma, anders as kaptein Croucamp, is nie verward oor wie en wat hy is nie. Hy is ‘n tradisionele Zoeloe. Hy is gemaklik in sy eie vel en tussen sy veelvuldige vrouens en kinders. Wonderlik hoe bevrydend dit moet wees om nie so hooggeleerd te wees soos kaptein Croucamp nie, en dus nie aan intellektuele angs en identiteitskrisisse blootgestel te moet wees nie.

Daarom, as dom, rassistiese Afrikaner, wag ek as’t ware op die kaptein (jammer, Elsa Joubert), om ons in te lig oor watter etniese groep kaptein Croucamp aan behoort. Sou hy sê hy is ‘n Suid-Afrikaner, vra ek hom mooi om vir ons te verduidelik hoe sou mens ‘n Suid-Afrikaner by ‘n VN-vergadering uitken? Watter taal praat hy? Is hy lig of donker van vel? Wat is sy kultuur? Aanbid hy voorvadergeeste of is sy godsdiensbegrip meer verwant aan Calvyn se sienings? Slag hy beeste in sy agterplaas tydens begrafnisse of bak sy vroulief melktert? Wees asseblief so gaaf, kaptein Croucamp, en verskaf dan vir ons die naam van die volk waaraan jy behoort, asook ‘n definisie van daardie volk, verkieslik in woorde van net een lettergreep elk, sodat selfs ek dit kan verstaan.

Al wat ek kan dink is dat kaptein Croucamp homself sien as ‘n etniese boucanier, maar dit klink vir my heeltemal te veel na ‘n spekskietery.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Lees ook Gustav Venter se rubriek: Piet Croucamp se algemene probleem met Afrikaners

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.